Reeds in 2008 het wetenskaplikes beweer dit neem 10 000 uur se toegewyde oefening voordat jy ’n meester in enige veld word – hetsy ’n akademiese vak of ’n sportsoort.

En nou sê sielkundiges daar is nog ’n bykomende faktor wat lei tot sukesesvolle kinders – gedrewe ouers.

Nadat kenners aan die Universiteit van Nebraska in Amerika 24 besonder begaafde kinders wat almal op nasionale of internasionale vlak uitblink in onder meer skaak, musiek, spelling en sport ondersoek het, het hulle gevind baie van dié kinders se ouers is hardwerkend en wy hul lewens daaraan om te sorg dat hul kinders presteer.

“Navorsers het ouers gevind wat huisverbande uitgeneem het, hul werke prysgegee het en hul spaarrekeninge leeggetap het saam met ander opofferinge om hul kinders se talente aan te moedig,” het een van die sielkundiges in 'n verklaring deur die universiteit gesê.

Alle ouers kan dit egter nie bekostig om hul sak te skud om hul spruite se talente aan te moedig nie, maar die studie het gelukkig ook ander maniere om jou kind te help presteer onthul.

Die studie het onder meer gevind kinders wat presteer:

  • Se ouers kom reeds op ’n vroeë ouderdom agter hul kind is talentvol en begin dan reeds hul vaardighede aanmoedig. Een kind het byvoorbeeld op twee reeds begin ysskaats.
  • Se ouers motiveer hul kinders deur hulle te herinnner dat sport of kultuuraktiwiteite ’n voorreg is en dat baie ander kinders nie die geleenthede het wat hulle het nie.
  • Se ouers was dikwels nou betrokkke by die kind se opleiding en afrigting.

Kenners sê enige ouer, selfs al is hul kinders nie op pad om rekords te verbeter nie, kan baat by die raad dat hulle betrokke moet wees, talent moet raaksien en hul kinders moet aanmoedig as hulle wil sien hoe hulle kinders presteer.

Bronne: sciencedaily.com, http://www.unl.edu/