Naam en van:

Karlien Hauman (31)

Waar het jy studeer?

Universiteit Stellenbosch

Wat het jy studeer en hoe lank?

B.Sc.Fisioterapie. Vier jaar, plus een jaar se verpligte gemeenskapsdiens.

Waar kom jy vandaan?

Kaapstad.

Hoekom het jy fisioterapie gekies?

Ek is nie seker nie, maar ek wou niks anders doen nie! Ek het op skool self een keer ’n fisioterapeut met sportbeserings besoek. Ek dink dis waar ek die idee gekry het en ek was nog nie een keer spyt nie.

Hoe lank werk jy al as ’n fisioterapeut?

Nege jaar (gemeenskapsdiens ingesluit).

Dis ’n wye veld. Wanneer jy klaar studeer het, is daar verskillende gebiede waarin jy kan kies om te spesialiseer. Jy kan uitvind wat jou pas, wat jy geniet en dan aanhou leer en groei in daardie spesialiteit.

Jy werk heeltyd met mense; jy ontmoet verskillende mense met verskillende persoonlikhede en oor die algemeen (hopelik!) help jy hulle hul lewensgehalte verbeter. Die werksbevrediging is dus hoog en jou dae sal interessant wees.

Daar is die opsie om vir jouself te werk en dis gewoonlik makliker om op die been te bring as ander besighede. As jy dié roete kies, is daar ook baie vryheid; jy kan op jou eie tye besluit, ens.

Die uitdagings: Dis harde werk. Jy gaan heeldag staan, dikwels swaar goed optel en ook, natuurlik, baie met jou hande werk.

Daar is sakegeleenthede, maar oor die algemeen is fisioterapeute nie daarop uit om geld te maak nie en jy sal hard moet werk en waarskynlik mense moet kry wat vir jou werk om ’n groot besigheid op te bou.

Dis ’n deurlopende leerproses (hoewel dit ook as ’n voordeel beskou kan word!). Jy sal nooit alles weet nie en moet bereid wees om aan te hou leer.

Watter karaktereienskappe dink jy pas by dié beroep?

Jy moet ’n goeie luisteraar, vriendelik, geduldig, gedissiplineer en gemotiveer wees.

Hoe goed is die vergoeding oor die algemeen?

Dis moeilik om te sê omdat dit wissel vanaf die intreevlak (gemeenskapsdiens) tot werk vir iemand (kommissiebasis) en om jou eie praktyk te hê, en eindelik tot waar jy ander fisioterapeute het wat vir jou werk.

Watter raad het jy vir voornemende joernaliste?

Maak seker jy weet presies waarvoor jy jou inlaat. Mense dink dikwels dis ’n glansryke werk vanweë dit wat hulle op die sportveld sien.

Besoek die volgende soorte fisioterapie-praktyke:

  • ’n Privaat buitepasiënt-praktyk (gewoonlik sport, rehabilitasie en ortopedie).
  • ’n Privaat hospitaal-gebaseerde praktyk (post-operatiewe rehabilitasie, hoësorgeenheid en hoë sorg, long-en-hart-rehabilitasie).
  • ’n Neuropraktyk (behandeling van beroertes, rugmurgbeserings, verlamming, ens.).
  • ’n Skool vir gestremdes met ’n fisio-afdeling (behandeling vir serebrale gestremdheid, ontwikkelingsagterstande).
  • ’n Fisioterapie-afdeling in ’n staatshospitaal of -kliniek (want dit is waar jy tydens jou studie en gemeenskapsdiens gaan werk).

Watter skoolvakke het jy nodig om fisioterapie te studeer?

Biologie, natuurwetenskap en wiskunde.

Hoe bevredigend is jou beroep, op ’n skaal van een tot 10?

Agt.