Vrydag

Hans Christian Andersen’s Thumbelina

e.tv 14:30

’n Piepklein dogtertjie word deur ’n bose, pratende padda ontvoer. Gelukkig ontsnap sy en gaan op ’n feëverhaal-avontuur om haar ware liefde te vind in ’n prettige nuwe weergawe van die eeue-oue kinderverhaal.

Ronin

e.tv 20:30

’n Groep huursoldate word Frankryk toe gestuur om ’n misterieuse pakkie vir hul baas te gaan soek. Min weet hulle daar is ’n verraaier in hul midde, of dat nog iemand op die spoor van die pakkie is en dié is baie warmer op die spoor van die prys as die spul huursoldate met hul gewere!

Focus

M-Net Sat 22:45/Dek 23:10

’n Verneuker dink dit gaan voor die wind met sy jongste plan. Dan kry hy ’n verskriklike nare verrassing in die vorm van sy eksmeisie wat sy nuwe plan omvergooi. Of nie . . .

Saterdag

Alvin & The Chipmunks

e.tv 19:30

’n Sukkelende liedjieskrywer vind dat sy loopbaan skielik vlam vat. Hoekom? Want hy het die volgende groot ding in popmusiek raakgeloop: eekhorinkies wat loop en praat en wat ook sing soos menslike musieksupersterre!

Despicable Me 2

SABC1 20:00

Die superskurk Gru het sy slegte gewoontes gelos.Hy is nou ’n sakeman wat konfyt kook vir sy winkeltjie . . . maar dan steel iemand ’n gevaarlike nuwe wapen en dit is Gru se taak om met sy supervaardighede as skurk dinge te red!

Bruce Almighty.

Mzansi Magic 20:30

’n Nuusverslaggewer is moeg vir sy lewe, dus skel hy God uit. Dit pas egter die Alomteenwoordige glad nie, en Hy besluit om Bruce al sy magte (en verantwoordelikhede) te gee om te sien hoe hy dinge gaan hanteer.

Sondag

The Tourist

e.tv 20:00

’n Man wat op reis is deur Europa, ontmoet ’n baie mooi reisgenoot tydens sy reis. Wat hy egter nog nie weet nie, is dat sy vir die polisie vlug – en vir ’n klomp ongure mense wat iets wil terughê wat sy by hulle geneem het.

The Divergent Series: Insurgent

M-Net 20:05

’n Jong vrou vind sy is ’n uitgeworpene weens haar waardestelsel. Dit beteken ook daar is ’n teiken op haar rug geverf, maar sy gaan haar nie laat onderkry of terughou nie; sy gaan baklei en haar stempel op die geskiedenis afdruk.

Jerry Maguire

Mzansi Magic 21:30

Tom Cruise vertolk die rol van ’n sportagent wat ’n insinking kry en afgedank word. Dan vind hy sy redder: ’n mal Amerikaanse beroepsokkerspeler wat nie net vir hom ’n groot klomp geld gaan maak nie, maar ook sy nuwe agent liefde gaan help vind.