Vrydag

16 Blocks

e.tv 20:30

’n Geharde polisieman kry ’n nuwe taak by die polisiekantoor. Hy moet ’n belangrike getuie hof toe vergesel vir ’n groot saak. Wat nie een van hulle egter weet nie, is dat ’n groep huursoldate gehuur is om seker te maak die getuie daag nie op nie, selfs al beteken dit hulle moet die polisieman ook doodmaak. Wel, hulle moet ten minste probeer om hom dood te maak.

In Pursuit

SABC1 22:00

’n Prokureur het ’n verhouding met ’n sakeman se vrou. Dit is egter nie die probleem nie: dit blyk die sakeman is vermoor en die prokureur is die hoofverdagte. Tussen die rondsluipery saam met sy skelmpie deur, moet hy nou nog boonop probeer om sy onskuld te bewys.

The Guard

Mzansi Magic 22:00

’n Topagent van die FBI en ’n sukkelende Ierse polisieman moet as ’n span saamwerk. Hul taak: hulle moet ’n internasionale dwelmsmokkelsindikaat, wat miljoene in die polisieman se eie agterplaas maak, aan die kaak stel.

Saterdag

There’s A Zulu On My Stoep

e.tv 14:05

Hierdie ouskool-treffer van Leon Schuster neem ons terug na die 1990’s. Hy vertolk die rol van Rhino, ’n man wat ná jare herenig word met sy jeugvriend. Maar, terwyl Rhino ’n normale lewe gelei en sy dogter alleen grootgemaak het, het sy vriend Zulu chaos in die VSA ontketen as ’n motordief.

The Lion King

SABC2 16:00

Roep die kinders nader – dit is tyd vir Disney-betowering op die vlaktes van Afrika. Simba, die leeuprins, verlaat sy trop nadat sy bose oom hom daarvan oortuig het dat hy (Simba) die oorsaak is van die koning se dood. Gelukkig het die leeuwelpie ’n klompie goeie vriende wat hom sal help om as die leeukoning groot te word wat hy bestem is om te wees en wat hom ook sal help om weer sy troon op te eis.

Harry Potter & The Deathly Hallows – Part 2

e.tv 19:30

Harry Potter, die wondertowenaar, en sy vriende het eindelik die einde van hul oorlog teen die donker lord bereik. Gaan hulle lord Waldemar in hul laaste veldslag verslaan of gaan sy donker towerkuns te sterk wees vir Harry en Kie.? Daar is net een manier om uit te vind: hulle moet towerstaf-teen-towerstaf veg.

Sondag

A Day Late, A Dollar Short

SABC1 20:00

’n Hipochondris is oortuig daarvan haar volgende asma-toeval gaan noodlottig wees. Maar sy kan nie sterf en haar gesin in die middel van hul worsteling agterlaat nie. Haar oplossing? Sy gaan die gesinsdrama oplos voor sy die emmer skop.

Superman Returns

e.tv 20:00

Die Man van Staal was jare lank weg. Toe keer hy skielik terug aarde toe en ook na sy enigste ware liefde, Lois Lane. Die probleem is, sy’s getroud. Maar dit is nie Superman se enigste probleem nie. Dit blyk sy aartsvyand is in besit van ’n stukkie kriptoniet . . .

Taken 3

M-Net 20:05

’n Afgetrede geheime agent van die CIA kry sy derde aksieronde toe hy vals van moord beskuldig word en gedwing word om te vlug. Maar die slegte ouens besef nie hoe gevaarlik hy is nie. Hulle sal dit wel uitvind wanneer hy hulle in die hande kry en sy woede op hulle uithaal.