Vrydag

Mortal Kombat 2: Annihilation

e.tv 20:30

Dié videospeletjie wat rolprent geword het keer terug in die vorm van ’n vervolgprent gevul met skoppe, vuisgevegte en sterftes. Die aarde gaan binnegeval word deur ’n bose krygsheer en sy magte, en dit lyk asof die enigste manier om hom te oorwin, is om in ’n geveg teen hom te staan te kom.

The Prince

M-Net Satelliet 21:30

’n Afgetrede sluipmoordenaar word na die misdaadonderwêreld teruggeneem toe sy dogter ontvoer word. Wat staan ’n pa dan nou te doen as sy babadogter in die kloue van die slegte ouens is? Maak die hele gebroedsel dood, natuurlik.

The 6th Day

e.tv 22:35

’n Man kom tuis en vind uit hy sit reeds aan die etenstafel. Dit blyk hy is gekloon en die maatskappy wat die vuilwerk gedoen het, wil hom uit die pad hê – en hulle sal alles in hul vermoë doen om daarin te slaag.

Saterdag

I Am Number Four

SABC3 19:30

’n Tiener ondergaan ’n paar veranderings wat hom met vrae laat oor alles waarvan hy bewus is. Soos, is hy werklik ’n mens? En hy is nie – hy is die laaste in ’n lang ry van buiteruimtelike prinse wat aarde toe gestuur is vir beskerming. Nou het buiteruimtelike booswigte hom gevind en wil hulle hom doodmaak.

Tooth Fairy

e.tv 19:30

Die superster van WO1, Dwayne “The Rock” Johnson, verruil sy stoeispanbroek vir yshokkieskutte. Toe hy onbeskof is teenoor ’n jong bewonderaar, word hy gestraf. Hy moet ’n week lank as die tandefee werk . . . in ’n blou tutu nogal.

White Chicks

e.tv 23:50

Die Wayans-broers is terug, dié keer as twee swart verkeersbeamptes wat hulle as wit sosiale vlinders voordoen. Hoekom? Omdat hulle aangesê is om die Wilson-susters teen ’n onbekende bedreiging te beskerm tydens hul jaarlikse vakansie in die Hamptons en hulle hul werk gaan verloor as hulle dit verbrou.

Sondag

Blended

M-Net 11:00

Nou nie juis hul heel beste rolprent nie, maar dit is tog vermaaklik om te kyk hoe Adam Sandler en Drew Barrymore die wêreld van enkelouer-afsprake aanpak. Dis boonop hier in Suid-Afrika verfilm waar die twee en hul “gesinne” by Sun City vakansie hou.

Wrath Of The Titans

e.tv 20:00

Perseus word weer opgeroep om die wêreld te red. Dié keer word Zeus in die onderwêreld gevange gehou en Hades dreig weer om die wêreld te verwoes. Hades bedoel dit egter, want hy gaan verskriklike krygsmanne, bekend as die Titane, loslaat.

Neighbors

M-Net 20:05

’n Jong paartjie en hul baba trek langs ’n studentehuis in. Die gevolg is niks minder nie as suggestiewe, kru, onbeskofte humor toe die bure in ’n oorlog betrokke raak om, op watter manier ook al, mekaar te dwing om te trek.