Vrydag

Soldiers of Fortune

e.tv 20:30

Wat doen jy wanneer jy te veel geld het om uit te gee? Jy leef aan die gevaarlike kant, soos daardie ryk ouens wat betaal vir die uiterste militêre ervaring. Maar hulle kry meer as verwag toe die pret en speletjies dodelik raak.

Force of Execution

SABC1 22:00

’n Gewese misdaadbaas het sy rampokkerlewe prysgegee en verkies om liewer sy tyd te gebruik vir ’n misdaadvrye leefstyl. Daar is net een klein probleempie . . . ’n lastige opflikkering in die misdaadwêreld wat dreig om oor te neem en al sy voorgangers van al die aksie te ontneem . . .

Broken Arrow

Mzansi Magic 22:00

Daar gebeur baie dinge met soldate wat misnoeg en ontnugter voel oor hul diens aan hul land. Maar dinge ruk regtig handuit in hierdie aksiefliek, want die betrokke soldaat is ’n vegvlieënier en hy het toegang tot gepantserde kernplofkoppe . . .

Saterdag

Oblivion

SABC3 19:30

In ’n troostelose toekoms word ’n man en vrou teruggestuur Aarde toe om onderhoudswerk te doen aan reuse-ertsontginningsmasjiene wat die planeet bewoon. Sou hulle ooit verwag dat hul lewe omgekrap sou word deur die ontdekking dat die skyn bedrieg? Nee! Maar dis presies wat hulle raakloop, en hulle sit ’n reeks kettingreaksies aan die gang wat die hele wêreld verander.

Dr. Dolittle 2

e.tv 19:30

Dr. Dolittle, die veearts wat met diere praat, is op ’n belangrike sending in hierdie opvolgfliek. Hy moet ’n woud red sodat al die diere daarin ’n woonplek kan hê. Hoe gaan hy dit regkry? Deur ’n bedreigde beerspesie te help aanteel en die woud in ’n beskermde natuurlike habitat te omskep.

30 Minutes Or Less

e.tv 21:20

Twee onnosele skelms bedink ’n meesterplan om ’n bank te beroof. Hulle bestel pizza, slaan die afleweringbode katswink en maak ’n bom aan hom vas. Nou het hy ’n halfuur om die bank vir hulle te beroof, of anders . . . boem!

Sondag

xXx: State Of The Union

e.tv 20:00

Daar’s ’n nuwe xXx agent in die omte en hy is nog meer ekstremisties – en boos – as sy voorganger. Hierdie keer moet xXx help keer dat die Amerikaanse regering oorgeneem word deur een van sy mees gedekoreerde militêre generaals, wat daarin geslaag het om ’n paar honderd soldate te oorreed om deur middel van ’n staatsgreep hul land die rug toe te keer.

John Wick

M-Net 20:05

’n Dodelike sluipmoordenaar wat afgetree het word per ongeluk teruggebring uit sy aftrede. Hoe? ’n Paar simpel skobbejakke maak sy geliefde babahondjie dood wat sy oorlede vrou vir hom agtergelaat het, en steel boonop sy motor. Hulle kan nou nêrens heen vlug of vir hom wegkruip nie – en hy gaan sy dodelike wraak neem.

Licence To Kill

e.tv 22:05

James Bond is ’n taamlik vriendelike ou wanneer hy nie op ’n klandestiene, hoogs geheime spioenasiesending is nie. Toe een van sy vriende dus amper vermoor word, is dit geen wonder nie dat 007 sy humeur verloor en die sluipmoordenaars teen sy base se bevele in afjag.