Vrydag

Hardwired

e.tv 20:30

'n Man wat aan geheueverlies ly, kry ’n kans om sy geheue terug te kry. Maar dan vind hy uit die hulpvaardige onderneming wat hom help, het ’n verskuilde agenda en hy word in hul politieke speletjies gebruik.

The November Man

M-Net Satelliet 21:30

’n Eertydse spioen ontvang ’n telefoonoproep van sy vorige base. Hulle is in die moeilikheid en het hom nodig om hul gemors op te ruim. Maar dis nie so maklik nie, want die probleem is sy voormalige beskermling wat rampokker geword het.

The 51st State

Mzansi Magic 22:00

In hierdie fliek dra Samuel L. Jackson ’n Skotse rokkie en vertolk hy die rol van ’n meester-apteker wat na die VK reis om sy nuwe wondermedisyne te verkoop. Pleks van ’n eerlike medisynetransaksie beklink, beland hy in die middel van ’n volskaalse perderesies-oorlog.

Saterdag

The Rookie

SABC2 16:00

’n Hoërskool-onderwyser daag die bofbalspan wat hy afrig uit en gaan ’n weddenskap met hulle aan: as hulle die skolekampioenskapsreeks wen, sal hy weer by ’n professionele span probeer aansluit. Gaan ’n jare lange droom vir hom waar word?

Lottery Ticket

e.tv 19:30

As jy die boerpot wen, tree familie en vriende van wie se bestaan jy glad nie geweet het nie na vore en almal wil ’n stukkie van jou geldkoek hê. Dit is presies wat in hierdie komedie gebeur, met dié verskil: ons held probeer so hard hy kan sy geheim bewaar.

Colombiana

Mzansi Magic 20:30

’n Klein dogtertjie aanskou die wrede moord op haar ouers in ’n stad wat krioel van bendes. Alles skuif meer as 20 jaar aan en die dogtertjie het grootgeword en in ’n top-sluipmoordenares ontpop – en sy het steeds net een taak om te voltooi: om haar te wreek op die mense wat haar ma en pa doodgeskiet het.

Sondag

The Maze Runner

M-Net 10:45

Wat is erger as om in ’n yslike doolhof vasgekeer te word? Dalk as jy nie weet wie jy is, hoe jy daar gekom het of hoekom mense jou dood probeer maak nie? Dit is die dinge wat ons held van Maze Runner vandag moet oorkom.

Salt

e.tv 20:00

’n CIA-agent is besig met haar alledaagse bedrywighede, soos om die vyande van die staat dood te maak, maar dan word sy aangekla van ’n spioenasiemisdaad wat sy nie gepleeg het nie. Wat staan haar nou te doen? Haar wreek, natuurlik . . . en bewys dat iemand haar as ’n vyand van die staat probeer voorstel.

Dumb and Dumber To

M-Net 20:05

Harry en Lloyd, die idiotiese beste pelle, is steeds besig om vir die pret simpel poetse op mekaar te bak. Dan hoor hulle Harry het ’n geheime dogter en gaan op reis om haar te vind.