Vrydag

On Angel’s Wings

M-Net 09:35

’n Jong sokkerspeler kry die geleentheid om vir haar span op die veld te draf. Die probleem is haar vaardighede is nie juis wêreldklas nie. Toe ontmoet sy ’n beskermengel wat aan haar drie wense toestaan – en ons kan verseker wees “om so goed soos Zinedine Zidane te wees” is een daarvan.

Barbie: A Fashion Fairytale

e.tv 14:30

Die ikoniese Barbie-pop reis na die modehoofstad van die wêreld om ’n nuwe avontuur te beleef. Terwyl sy in Parys is, span sy saam met ’n groep stylvolle feë wat haar help om ’n superuitrusting te ontwerp. Waarom? Barbie wil misdaad bestry.

Gorgeous

e.tv 20:30

Voor die Rush Hour-flieks was Jackie Chan, danksy rolprente soos hierdie, ’n superster. In hierdie fliek vertolk hy die rol van ’n kampioen-hokvegter wat op ’n vrou verlief raak wat op soek is na ware liefde.

Saterdag

Bogus

e.tv 13:05

’n Weeskind word deur sy eksentrieke ouma aangeneem en is nie seker wat hy mag en nie mag doen nie. Gelukkig het hy ’n denkbeeldige vriend wat dinge heelwat prettiger en opwindender maak.

Larger Than Life

e.tv 15:15

Alles verloop seepglad in die lewe van ’n motiveringspreker. Dan tref ’n ramp hom en sy pa sterf. Dit laat hom egter met ’n groot erfporsie. Maar dit is nie die vet banksaldo waarop hy gehoop het nie. Sy pa, wat ’n goeie humorsin gehad het, laat hom ’n olifant na -- ’n regte-egte, lewende grootvoet.

The Campaign

e.tv 21:20

’n Parmantige politikus is gewoond daaraan om, as enigste verteenwoordiger, baas te speel in sy buurt. Toe betree ’n stil, beskeie nuweling die politieke speelveld en daag die politikus op sy eie terrein uit. Die ding is net, hulle is albei dwase wat nie besef hulle word net as pionne in ’n groter spel gebruik nie.

Sondag

The Green Hornet

e.tv 20:00

Toe ’n mediamagnaat se erfgenaam ’n fortuin erf, sit hy nie net agteroor en ontspan nie. Pleks daarvan volg hy Batman se voorbeeld en gebruik sy geld om sy nuwe werk as gemaskerde held te finansier. Gelukkig het hy ’n betroubare handlanger wat werklik kan baklei, aangesien ons held nie so ’n bekwame misdaadbekamper is soos hy graag wil dink nie.

Trevor Noah: Pay Back The Funny

M-Net 20:05

Tussen sy optrede as gasheer van The Daily Show in Amerika deur, het die komediant Trevor Noah tyd gemaak om dié nuwe vertoning saam te stel. En boeta, kry hy ’n paar ernstige houe in. Niks is buite perke nie, dog Trevor het sy mes in vir pres. Jacob Zuma in dié vertoning wat deur die Nkandla-sage geïnspireer is.

Fifty Shades of Grey

M-Net 21:45

Gegrond op die gelyknamige topverkoperroman. ’n Naïewe student voer ’n onderhoud met ’n biljoenêr-sakeman wat sy lewe buite die kantoor privaat hou. Die probleem is egter hy hou van eksentrieke fiksasies en raak, as gevolg van haar naïwiteit en onskuld, halsoorkop op sy nuwe obsessie verlief.