supersad

Jacques de Villiers, sanger en liedjieskrywer van die groep Joshua na die Reën, het in 2013 as kunstenaar ontpop en die musiekwêreld verstom.

jos1

Hy het verlede jaar die Huisgenoot Tempo-toekenning vir beste nuweling, asook twee Ghoema-prys vir beste nuweling en kontemporêre album deur ’n sanger, opgeraap. Vanjaar is hy een van die groot sterre wat op 19 September in SuperSkouspel in die FNB-stadion in Johannesburg optree.

“Ek is opgewonde om saam met ’n klomp kunstenaars te kan werk, om met die klanke van kore en simfonie musiek te maak en omdat ek weet die vertoning gaan iets nuuts en vars bring,” sê hy.

Sy lirieke word as intens persoonlik beskryf. Die soort wat gevoelens en emosies in woorde omskakel en ’n gehoor meevoer.

Sy boodskap aan aanhangers wat wil kom kyk, is om “die seisoen in die lewe te ken. Daar is ’n tyd en plek vir alles en elkeen. Dit is wat SuperSkouspel ten toon stel en ek dink dis die hart agter die skerms.”

Hy is veral opgewonde om die verhoog met die musiekgroep Mango Groove te deel.

Sy liedjies Hardloop In die Veld en sy weergawe van Voshaarnooi, wat hy as temaliedjie vir die trefferfliek Ballade vir ’n Enkeling opgeneem het, is van die klanke wat skouspelgangers sal geniet.

“Huisgenoot Skouspel was verlede jaar vir my ’n ontdekkingsreis op ’n baie dieper vlak as wat ek sommer net hier kan sê. Dis mos maar waaroor die lewe gaan – die reis.”

En hoe voel hy oor SuperSkouspel?

“Ek glo in afwagting.”

Bespreek vir SuperSkouspel by online.computicket.com, bel 0861-915-8000 of besoek jou naaste Computicket.

 
DIGITAL BANNER_HG_600x450 (0-00-00-00)