Hulle het hul hart 12 weke lank uitgekook op Kokkedoor, maar in die voorlaaste aflewering gisteraand het ’n vyfgangmaaltyd J.F van der Westhuizen (29) van Wellington en sy Pretoriase spanmaat, Lorraine Swanepoel (26), ore aangesit.

Die paar kyk terug op hul lang reis in Kokkedoor, J.F vertel oor sy verloofde (jammer, bewonderaars!) en Lorraine reageer op al die kritiek wat sy op sosiale media gekry het.

Hoe voel julle? Dit kan nie lekker wees om so kort voor die finaal vas te val nie.

  • J.F: Dis teleurstellend. Ek voel trots dat ek so ver gevorder het, maar ek kry ’n knop in die keel as ek besef dis finaal verby.
  • Lorraine: Ek het met knope in my maag gesit en kyk na ons laaste episode. Ek is baie trots op myself en hoe ver ek gevorder het. En natuurlik het die geleentheid om saam met J.F te kook en saam met hom ons buiging te maak, die kroon gespan.

Hoekom dink julle het die beoordelaars die ander twee spanne gekies?

  • J.F: Chris en Elsa, wat albei heelwat ouer is, het baie meer kennis van die geregte in dié uitdaging gehad en hoe om dit te berei. Dit was verseker tot hul voordeel. Ek het nie eers geweet wat kroonbraad is nie – en nie ek of Lorraine het presies geweet hoe om dit voor te sit of gaar te maak nie.
  • Lorraine: Ek dink eintlik ek en J.F het verdien om in die toptwee spanne te wees, maar ek berus daarby dat alles met ’n doel gebeur. Ek gun regtig die finaliste hul plek in die finaal. Ek was bevoorreg om my talente in die hele seisoen te wys. Tannie Poppie (Coetzer, ’n deelnemer aan die eerste Kokkedoor-seisoen) het immers bewys jy hoef nie te wen om suksesvol te wees nie. Sy is ’n inspirasie.

Het julle gedink julle sal so ver vorder?

  • J.F: Ek het elke uitdaging maar gevat soos dit kom en was elke keer verras wanneer ek na die volgende ronde gevorder het. Elke uitdaging was uniek en het sy eie moeilikheidsgraad gehad; daarom was dit onmoontlik om vooraf te bepaal hoe jy in ’n spesifieke uitdaging gevaar het.
  • Lorraine: Ironies genoeg het ek gedink ek en Orscilla (Hitchcock) gaan die aand huis toe, toe ons eintlik die uitdaging en die rit op die Bloutrein wen!

Twee sterk spanne – Chris en Marius, en Elsa en Johnny – bly oor. Wat is elkeen se sterk punte?

  • J.F: Chris se koskennis is ongelooflik en hy werk vinnig en noukeurig. Marius se geurkombinasies is baie goed en hy kan werklik lekker kos maak. Elsa is, soos iemand gesê het, die Gordon Ramsay van die Vrystaat; sy lees baie na oor kos en pas dit toe. Johnny is ook eenvoudig briljant en nes die ander drie ken hy sy storie agter die kospotte.
  • Lorraine: Chris se rustigheid en sy wye koskennis moet gesalueer word, en ek dink ook sy werk is baie netjies en verfynd. Hy en Marius komplementeer mekaar baie goed. Johnny laat my altyd met groot verwondering. Hy sal sy net altyd wyer span en is altyd vindingryk. Saam met Elsa, wat ook volgens my die enigste onthoukok is wat ’n gebalanseerde kennis van onthoukos en vernuwende kostegnieke het, kan hulle vir Chris en Marius behoorlik opdraand gee in die eindstryd!

Wat het jy ná 12 weke op televisie oor jouself geleer?

  • J.F: Ek hou glad nie van molekulêre gastronomie nie!
  • Lorraine: Kokkedoor 2 was ’n reuse leerproses. Ek het druk leer hanteer, hoe om in my vermoë te glo, en hoe om my drome te volg. Die belangrikste is seker om nie tou op te gooi nie en altyd weer op te staan nadat iets skeefgeloop het.

J.F, eers ’n paar vrae vir jou: Jy was deurgaans redelik teruggetrokke. Is jy in die regte lewe ook ’n skaam ou?

  • Ja, ek is teruggetrokke, maar ek sou nie sê skaam nie; ek ken net my plek. Dis onnodig om heeltyd te praat. Ek sê my sê wanneer dit nodig is.

Vertel ons iets van jouself wat jou aanhangers sal verras.

  • Ek het bouwerk in Londen gedoen voor ek studeer het.

Ons word oorval met die groot vraag: Het jy ’n meisie?

  • Ek het nie net ’n meisie nie; ek is verloof! Ek en Lilani trou in September en is hard besig met die planne vir die groot dag.

Lorraine, nou’s dit jou beurt. Jy het in die tweede episode flou geraak. Wat het gebeur en hoe het jy gevoel toe jy dit op TV sien?

  • Ek voel ek is onnodig aan kritiek blootgestel. Ek het in my kontrak uitgewys ek ly aan lae bloedsuiker. Die ongelooflike hitte en ons etes wat so ver uitmekaar was – soms ontbyt om 06:00, middagete om 15:00 en aandete eers 23:00 – het my bloedsuikervlak deurmekaargemaak. Ons het daai spesifieke dag ook lang tye gestaan, en dit het eindelik tot die floute gelei. Ten spyte van wat sommige kykers dink, was my floute glad nie weens stres nie, maar weens gesondheidsfaktore.

Jy loop op sosiale media kwaai deur onder kritiek. Lees jy die kommentaar? Hoe laat dit jou voel wanneer kykers jou ’n “seekoei” of “Shrek se vrou” noem?

  • Ek het in die begin die kommentaar gelees, maar het op die ou end besluit ek gaan nie verder my tyd en energie op dinge mors wat nie opbouend is nie. Ek verkies om my met positiewe mense te omring, veral omdat ek ook ’n positiewe gesindheid het. Mense besef nie hoe seer hul opmerkings maak nie. Hul bedoeling is tog om seer te maak, want om watter ander rede sal hulle hul swak karakter so op Facebook ontbloot? Die kommentaar het my wel ’n sterker mens gemaak.

Jy’t op Kokkedoor gesê jou loopbaan hou jou te besig vir die liefde. Is jy nog op jou eentjie?

  • Ja, ek is. Ek is baie gefokus op my loopbaan: Ek voltooi my meestersgraad in koskleinhandel, is vryskutlektor en kombuisbestuurder by ’n kookskool, en eienaar van my eie spysenierbesigheid, CocoVanilla Foods; daarom is ek nie haastig nie. Ek glo die liefde sal sy opwagting maak wanneer die tyd reg is.

Laaste vraag aan julle albei: Hoe lyk die pad vorentoe?

  • J.F: Ek het in April ’n werk losgeslaan by Festa, ’n restaurant op Wellington, en beplan groot dinge daar. Kom loer gerus in!
  • Lorraine: Ek begin in September met kos-en-wyn-parings in samewerking met Miele en ’n bekende wynhandelsnaam. ’n Braaimaatskappy het my ook onlangs genader om hul verteenwoordiger te wees en hul produkte by kookdemonstrasies te bemark. Ek bied ook naweke Bang vir Bak-klasse vir die publiek aan en in die week vir korporatiewe organisasies. En ja, ’n kookboek wink...

- Christiaan Boonzair