Is jy dalk Suid-Afrika se volgende Ultimate Braai Master?

Ultimate Braai Master, met trots geborg deur Pick n Pay, is Suid-Afrika se eerste oorspronklike werklikheidskookreeks. Dit word aangebied deur die boskok en skrywer Justin Bonello.

In die eerste kookwater-seisoen het 15 spanne van twee meegeding in ’n verskeidenheid strawwe braai-uitdagings tydens ’n kooktoer van 52 dae. Hulle het sommer gou al die stereotipes oor wat alles gebraai kan word, die nek ingeslaan.

Mense kan nou vir die tweede seisoen van die gewilde kookkompetisie inskryf by www.ultimatebraaimaster.com.

Coca-Cola en Renault Koleos ondersteun die kompetisie en alle kosliefhebbers wat reken hulle is bogemiddelde kokke word genooi om hul passie vir kook op ’n oop vuur uit te leef in dié epiese kookmaraton van 60 dae.

Aspirant-deelnemers wat uit die aanlyninskrywings op die kortlys geplaas word, sal by vyf streekoudisies in Kaapstad, Port Elizabeth, Durban, Johannesburg en Bloemfontein in Februarie en Maart getoets word. Hier sal Justin en die beoordelaars van Ultimate Braai Master die deelnemende 15 spanne kies.

Die wenner van die eerste kompetisie, Tubby Melidonis van Kaapstad, en sy spanmaat, Elaine Ensor-Smith, het hul pad oopgekook na die titel, R500 000 kontant, ’n nuwe Renault Koleos 4x4 ter waarde van R325 000 en ’n Cadac BraaiMaxx ter waarde van R15 000. Vanjaar se deelnemers kan uitsien na ’n groter avontuur met nog meer pryse op die spel!

Aspirant-braaimeesters kan tot en met Vrydag 15 Februarie aanlyn by www.ultimatebraaimaster.com inskryf. Verfilming van Ultimate Braai Master, wat deur Cooked in Africa Films vervaardig word, begin in Mei en die Ultimate Braai Master 2013-reeks van 13 episodes word in September op SABC3 uitgesaai.

Facebook: facebook.com/ultimatebraaimaster

Twitter: @ultimatebraai