SKIELIK kan hy nie eens meer deur ’n winkelsentrum stap sonder dat mense hom voorkeer nie. “Hoe sal dit nie wees as ek die hele ding wen nie?’’ wonder Bongi Mthombeni hardop.

“Die hele ding’’ waarvan die man met die rastalokke en strelende, suiwer stem praat, is die huidige Idols-reeks op M-Net, en vanjaar gaan hy die gesogte titel wen, reken hy.

Hy is vol selfvertroue, ja, maar darem nie arrogant nie – daarvoor spot hy gans te maklik met homself. Soos nou.

In die luukse Idols-huis in Northcliff, Johannesburg, waar ons met die 23-jarige neuriesanger gesels, bring ’n werknemer, ewe netjies in ’n uniform, vir hom ’n glas koue water. Buite glinster die swembad in die middaghitte, maar ons sit komkommerkoel in ’n lugversorgde vertrek.

“Ek is ’n outjie van Tembisa,” vertel Bongi laggend. “Ek kan gewoond raak aan hierdie lewe!”

Maar, voeg hy dan ernstig by, hy weet die swier en glans is vervlietend. “Roem is net ’n instrument,” sê hy. “Moenie my verkeerd verstaan nie – dit sal lekker wees om in Hawaii en New York te gaan vakansie hou, maar jy moet terugkom en iets positiefs doen vir die mense wat kaartjies koop.”

Ja, hy weet die ander deelnemers in die huis is ewe vasbeslote om die kompetisie te wen.

“Dinge verloop verbasend glad hier ondanks al die ego’s,’’ sê hy. “Ons het pret; ons gee mekaar ruimte om ons menings te lug. Natuurlik sit ons vas, maar die hare waai nie.”

Hy is geen groentjie in die musiekbedryf nie en al is hy nog jonk, het hy al klaar met die donker sy van die bedryf kennis gemaak. Bongi wil nie daaroor uitwei nie, maar sê gewetenslose platebase het hom in die verlede sleg behandel.

“Ek wou verlede jaar ’n oudisie vir Idols aflê. Maar mense saam met wie ek gewerk het, het sekere beloftes gemaak. Hulle het beloof om my te help, maar het hulself gehelp. Al wat nou saak maak, is dat my lotsbestemming in my eie hande is.” En dit is al wat hy oor die saak gaan sê, voeg hy ferm by.

Hy wil eerder oor die kompetisie gesels en vertel van sy oudisie toe hy ’n jazzerige weergawe van Frank Sinatra se Summertime gesing het.

“Ek was senuagtig, maar vol selfvertroue. Dit was deel van my seëninge in die lewe dat ek daar kon staan. Ek het onoorwinlik gevoel.

“Ek sou Proud Mary deur Creedence Clearwater Revival gesing het, maar die stemmetjie binne my het gesê vertrou my. Daarom het ek net voor ek by die oudisievertrek ingestap het, besluit om van liedjie te verander en meer pret te hê.”

Dit het soos ’n bom gewerk en Idols-kykers sal onthou hoe die jong sanger oorstelp van vreugde met die goue kaartjie in die hand sy verstomde ma, Priscilla (55), en broer, Veli (29), tegemoet gehardloop het.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 16 September 2010