Hyundai se nuwe i20 is nou hier te koop en gaan die VW Polo en Ford Fiesta die stryd aansê.

[post-slider]

Die plaaslike reeks bestaan uit drie modelle, die i20 1.2 Motion (handrat), die i20 1.4 Fluid (handrat) en die i20 Fluid (vierspoed-outomaties).

Onder die intreevlakmodel se enjinkap is ’n 1,2 L-petrolenjin wat 61 kW en 115 Nm ontwikkel, terwyl die ander twee modelle se verrigtingsyfers 74 kW en 133 Nm is.

Veiligheidskenmerke vir die modelle sluit ABS-remme en voorste lugsakke in.

Alle modelle het lugverkoeling, ’n klankstelsel, Bluetooth en kragstuur. Die 1,4 L-modelle het talle bykomende kenmerke wat onder meer allooiwiele en ’n langer diensplan insluit.

Die nuweling is 45 mm langer as die vorige model met meer ruimte vir passasiers en die bagasieruim is nou 294 L groot.

Daar is ’n tweejaar-/30 000 km-diensplan vir die 1.2 Motion-model, terwyl die ander modelle ’n driejaar-/60 000 km-diensplan het.

Pryse

  • 1.2 Motion Handrat: R184 900
  • 1.4 Fluid Handrat: R204 900
  • 1.4 Fluid Outo: R214 900