Prins George gedoop

Prins George van Brittanje is vandeesweek in ’n kapel by die St. James-paleis in Londen gedoop. By hierdie intieme plegtigheid was daar buiten sy ouers net ’n handjie vol ander koninklikes, vier lede van die Middleton-gesin, George se sewe peetouers en 22 ander gaste. William het George sommer self ingebring en die seremonie is behartig deur die aartsbiskop van Kantelberg, Justin Welby. George, die derde aanspraakmaker op die Britse troon, het ’n tradisionele kant-en-satyndooprok gedra soortgelyk aan die een waarin koningin Victoria se oudste dogter, Victoria, in 1841 gedoop is. Anders as sy pa 31 jaar gelede was George stroopsoet tydens die plegtigheid. Met William se doop in 1982 het hy tydens die fotosessie gehuil en net stil geword wanneer sy ma, prinses Diana, haar pinkie in sy mond gedruk het. Gaste het ná die seremonie by Clarence House tee gedrink, met prins Charles, William se pa, as gasheer.