Dis asof Franco van Schalkwyk gewag het tot waar die maan spreekwoordelik aarde toe gekom het voordat hy vir Machel Diedericks daarmee saam ook die son en die sterre kon belowe!

Soos Franco, ’n man wat met ’n plan werk, sê: “Ek het van die idee gehou van om vir Machel op die maan te vra om te trou, ek wou iets uniek gedoen, iets wat niemand nog gedoen het nie en Huisgenoot se The Gateway to Space was vir my die ideale geleentheid.

“Ek wou iets doen wat sy altyd sal onthou en eendag vir ons kinders kan vertel. Ek wou nie 'n tipiese piekniek- of restaurantverlowing hê nie.”

Maar natuurlik het hy by een tradisie volstaan toe hy Saterdag soos 'n ware ridder van ouds op een knie neergesak het.

En toe sê sy ja!

gtsa ja

Als goed en wel om ligjare ver van die familie daardie groot vraag te vra, maar hoe gemaak toe die twee hulle weer op vaste aarde bevind het?

“My pa het natuurlik ’n paar dae gewag voordat hy vir Franco toestemming gegee het om met my te trou,” deel ’n baie opgewonde Machel met Huisgenoot.

Sy erken dat sy nog nie heeltemal aan daardie blinknuwe en pragtige ring aan haar hand gewoond is nie.

“Ek kyk nog kort-kort daarna net om seker te maak ek droom nie!”

Die twee het mekaar in Desember 2009 aan die einde van hul matriekjaar ontmoet. ’n Paar maande later was die spreekwoordelike koeël deur die kerk en het hul vriendskap geblom.

Foto verskaf.

Franco beskryf Machel as iemand wat “altyd vol energie is. Daar is elke dag iets nuuts wat ’n uitdaging bied met haar. Sy’s ’n baie liefdevolle persoon.” Én selfstandig boonop, voeg hy by.

Wat dink Machel van haar romantiese verloofde?

“Franco is ’n groot teddiebeer!. Daar’s geen einde aan sy liefde en omgee nie. Hy help almal op sy eie manier.

“Hy kry altyd ’n manier om my te laat beter voel of om my te laat lag.

“Franco is ’n hardwerkende man. Hy weet dat as jy hard werk, jy die vrugte daarvan sal pluk.

“Met Franco hoef ek nie my sinne klaar te maak nie. Of te vra dat hy my moet help op goed klaar te maak nie. Hy doen dit uit sy eie.”

Dié twee moet mos “jêm” kry!

Franco en Machel is twee regte spoedvrate wat graag hul vaardigheid by die Zwartkops-renbaan op die proef stel. Selfs al gaan dit soms doelbewus gly-gly, het die twee avontuurlustiges net nie einde nie.

“Ons hou ook daarvan om gereeld na uitstallings te gaan as dit oor iets gaan waarin ons belangstel,” vertel Machel verder.

Intussen is hulle ook besig om saam te begin nes skrop en het hulle ’n maand gelede hul huis in Minnebron, Brakpan gekoop.

“Ons wil graag binne die volgende jaar trou as finansies dit toelaat,” is die paartjie se versugting.

Vir die man wat al die pad na die maan gegaan het om sy meisie om haar hand te vra, gaan daardie wens sommer gou waar word.