[post-slider] Dié nuwe veelsydige sewesitplek-ryding sal meeding met die Suzuki Ertiga en Toyota Avanza. Die Mobilio is met ’n keuse van twee toerustingsvlakke – Trend en Comfort – beskikbaar, en word in albei gevalle aangedryf deur ’n 1,5 L-petrolenjin, wat reeds in die Ballade sy staal getoon het. Maksimum kraglewering is 88 kW teen 6 600 r.p.m., gekoppel aan ’n wringkragpiek van 145 Nm by 4 600 r.p.m.

'Honda maak daarop aanspraak dat die Mobilio sedansoort ruimte bied.'

Binnelangs is daar volgens Honda gemaklike sitplekke, genoeg been- en kopruimte vir al drie rye sitplekke en hope pakplek.

Honda maak daarop aanspraak dat die Mobilio sedansoort ruimte bied, maar met die bykomende voordeel van drie rye sitplekke.

Die tweede ry sitplekke is 60:40 verdeel en het ’n gly-en-terugleunfunksie wat sorg dat die beskikbare ruimte optimaal benut kan word.

Die groot deuropening en die tweede ry sitplekke se vermoë om met ’n enkele beweging platgevou te word, beteken toegang tot die derde ry sitplekke is maklik en gerieflik.

Die derde ry sitplekke is 50:50 verdeel, met ’n terugleunfunksie, en bied genoeg beenruimte. Albei sitplekrye kan platgevou en vorentoe getuimel word om die laairuim ten volle te benut. Selfs met die sitplekke bied die Mobilio ’n volle 223 L pakplek, wat tot 521 L vermeerder wanneer die derde ry sitplekke platgevou word.

Die lys aktiewe en passiewe veiligheidskenmerke sluit dubbele lugsakke voor, nekstutte, voorste rukstopgordels met voorspanners en lasbeperkers, en ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding in.

Die Mobilio het ’n waarborg van drie jaar of 100 000 km, terwyl ’n AA-padbystanddiens van een jaar ook ingesluit is. Daarbenewens baat die Comfort-weergawe by ’n diensplan van twee jaar of 30 000 km.

Pryse

Honda Mobilio 1,5 Trend-handrat: R179 990

Honda Mobilio 1,5 Comfort-handrat: R198 990