SAKTYD - die Afrikaanse werklikheidsreeks wat jy móét kyk vanaf 17 Julie om 19:30 op kykNET! Dertien deelnemers ding mee om ’n werk by Huisgenoot. Daar is verskillende take wat die deelnemers se vaardighede toets, maar daar kan net een wenner wees . . .

Dit gons behoorlik in die Huisgenoot-gange met die 13 deelnemers wat dit uitspook om as die wenner uit die Saktyd-stryd te tree.

DIE BEOORDELAARS:

Izelle Venter (hoofredakteur) word bygestaan deur Wicus Pretorius (adjunkredakteur) en Haidee Muller (verslaggewer).

MEER OOR DIE DEELNEMERS

1 Samuel Marthinus Gerhardus Grobler (Elridus)

Ouderdom: 25

Stad: Bellville

Huwelikstaat: Ongetroud/enkellopend

• Hy is by CityVarsity en die Cape Town School of Photography as ’n fotograaf opgelei, werk deesdae vir homself en het

groot respek vir die digkuns van C.J. Langenhoven.

• Hy meng nie sy tale nie en hy praat suiwer Afrikaans, Engels en Xhosa.

• Vra ’n mens hom om “gou” iets te sê, moenie dink jy sal hom ewe “gou” kan laat klaarpraat nie.

• Hy is wel ter tale en meen hy’t die gawe om mense besonder goed te verstaan. Hy vra ook baie vrae.

• Sal die gedurige uitvraery hom help? Nou ja, ons sal maar moet inskakel en kyk wat gebeur in Saktyd.

2 Christiaan Boonzaier

Ouderdom: 26

Stad: Kaapstad

Huwelikstaat: Ongetroud

• Hy het sy B.Phil.-graad in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch behaal en werk nou as ’n proefleser en kopieskrywer by ’n reklameagentskap.

• Christiaan versamel boeke en is dol oor Ingrid Jonker se gedigte.

• Hy is ’n smulpaap en voel glad nie sleg as hy die hele pakkie verorber nie, al staan daar “genoeg vir vier” op.

• Hy brand om “turducken” – kalkoen met eend en hoender gestop – te proe.

• Hy is nou nog omgekrap oor die “aantreklike man met die brilletjie” wat The Crossing, ’n boek deur een van sy gunsteling-skrywers, Cormac McCarthy, op ’n uitverkoping voor sy neus weggeraap het.

3 Gerhardus Stephanus Christoffel Lee (Christian)

Ouderdom: 23

Stad:Rosebank, Johannesburg

Huwelikstaat: Ongetroud/enkellopend

• Hy het drama, dans, filosofie, bemarking en Duits geswot en is ’n vervaardiger, koördineerder, stilis, seremoniemeester en kunstenaar.

• Hy was tot onlangs ’n dosent in filmfilosofie en -ontleding by CityVarsity in Johannesburg.

• Hy’s uitgesproke en kan ’n beheervraat wees.

• Dié aangenome kind van Thabazimbi sê hy’s gebore om te skryf. Sy biologiese ma het ’n honneursgraad in joernalistiek, twee van sy ooms is joernaliste en sy biologiese pa is ’n digter en kunstenaar.

• Christiaan versamel jagmesse en het “ ’n ding vir Madonna”.

• Gee hom die kollig, ligte, musiek en ouwêreldse klere en hy is in die wolke.

4 Jeannie Erasmus

Ouderdom: 22

Stad: Potchefstroom

Huwelikstaat: Het ‘n kêrel

Sy is intelligent, die jongste van die finaliste en het op Middelburg, Mpumalanga, grootgeword.

Sy het ’n B.Com.-graad in bemarkings-en toerismebestuur aan die Noordwes-universiteit behaal en is besig met haar honneursgraad in toerismebestuur.

Jeannie kan opera sing, jag graag saam met haar pa en twee broers en is dol oor haar kêrel, JL Moolman.

Haar aansteeklike lag kan jy wie weet waar hoor en party deelnemers dink selfs dit klink of sy jodel.

Sy duld nie luiheid nie en verpes dit wanneer mense te veel aan haar karring. Vir hulle sit sy sommer gou op hul plek.

5 Leon Flemmer

Ouderdom: 35

Stad: Middelburg (Kaap)

Huwelikstaat: Ongetroud

• Hierdie Middelburger het sy N4-diploma in sakestudie aan die Bloemfonteinse kollege behaal. Ná nege jaar in Johannesburg werk hy nou op sy tuisdorp vir korrektiewe dienste.

• So gretig was Leon om aan Saktyd deel te neem dat hy deurnag per bus die hele ent van Port Elizabeth af Johannesburg toe gereis het. Hy het rooi-oog en moeg daar aangeland, sy onderhoud afgelê en teruggereis.

• Hy is dol oor lees, skryf graag en is lief vir gedigte.

• Hy glo hy het iets om te bied, want die lewe het hom al ’n les of twee geleer; daarom wil hy graag sy lewenservaring met oud en jonk deel.

6 Jolene Fransman

Ouderdom: 31

Stad: Kaapstad

Huwelikstaat: Getroud (Bjorn)

• Hierdie gebore Swartlander van Malmesbury werk as ’n skenkermarknavorser by die Universiteit Stellenbosch.

• Sy het ’n B.Com.-graad in bemarking en studeer deeltyds vir ’n meestersgraad in Engels.

• Manlief Bjorn is ’n meganiese tegnikus by die Koeberg-kernaanleg en hulle woon in Langeberg Ridge in Kaapstad se noordelike stadsgebiede.

• Haar gunsteling-tydverdryf is binneversiering. Sy het hul hele kombuis laat opknap, sonder om Bjorn in die saak te ken, erken sy.

• Sy boer in die gimnasium, hou van roetine en begin mense eers ná ’n rukkie vertrou.

• Gaan kykers haar sien ontluik? Ons sal moet wag en sien.

7 Jurie Prins

Ouderdom: 32

Stad: Paarl

Huwelikstaat: Geskei

• Jurie het op ’n plaas by die Paarl grootgeword en is die geskeide pa van ’n dogtertjie, Isabella (byna 2).

• Hy besit ’n staalmakery op Franschhoek, is ’n skerpskertser en was tot onlangs ’n aanbieder van die program BeDonderdagaand op Franschhoek FM.

• Hy het bemarking aan die destydse Tygerberg-kollege geswot en kuns aan die Universiteit van Kaapstad.

• Op 15 het hy begin skryf en as ’n student het hy selfs met sy eie nuusblad begin.

• Jurie haat verloor en kry gewoonlik sy sin.

• Hy speel gholf vir ontspanning en sien baie uit na sy eerste kunsuitstalling in September.

8 Laura Stopforth

Ouderdom: 23

Stad: Stellenbosch

Huwelikstaat: Kêrel (Erik)

• Nee, sy kan nie spel nie, sê Laura en giggel, maar sy kan ys aan ’n eskimo afsmeer as dit moet.

• Dié blondine het ’n B.Com.-honneursgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal en werk nou vir die liefdadigheidsorganisasie Pebbles Project as ’n geldinsameling- en borgskapbestuurder.

• Sy is hoogs mededingend en laat haar nie van stryk bring nie, al lyk dit soms of sy in trane wil uitbars.

• Met haar onskuldige voorkoms sal sy maklik scoops kan uitsnuffel, reken sy.

• Jammer, kêrels, Erick Gerber het haar onlangs gevra om te trou..

9 Lilian Strauss

Ouderdom: 23

Stad: Tamboerskloof, Kaapstad

Huwelikstaat: Ongetroud/ enkellopend

• Sy het 'n BA-graagin Taalstudie en Linguistiek aan die Universiteit van die Vrystaat behaal.

• Lilian is ’n Karoo-meisie uit Oudtshoorn en woon deesdae in die Kaap.

• Op vyf het sy al aangekondig sy gaan eendag op TV wees. Vandat sy haar studie aan die Red and Yellow School of Logic and Magic in Kaapstad voltooi het, werk sy as ’n kopieskrywer en reklamevertaler.

• Sy het al ’n silwer-Loerie gewen vir haar werk in die reklamebedryf.

• Toe sy hoor sy het die top-13 gehaal, was haar woorde: “Ek het geweet julle gaan my kies.”

• Sy erken sy knoop sommer maklik ’n geselsie aan met vreemdelinge. Sal haar borrelende geaardheid in haar guns tel?

10 Tersia Jacobs

Ouderdom: 27

Stad: Gordonsbaai

Huwelikstaat: Ongetroud/enkellopend

• Sy kom van De Aar en het by ’n oom en tante grootgeword. Tersia is ’n kinderoppasser en huiswerker en sorg al vandat sy 15 is vir haarself.

• Die lewe het haar al ’n paar taai klappe gegee, maar dié fyn geboude juffer het elke keer opgestaan en met mening teruggeklap.

• Tersia glo haar deursettingsvermoë sal tot haar voordeel strek. Sy wil dan ook graag ander met haar besondere lewensverhaal begeester.

• In haar vrye tyd lees sy Huisgenoot en sy is dol oor die glansblaaie agter in die tydskrif.

• Sy het al aan ’n paar modevertonings op haar tuisdorp deelgeneem.

• Die kletskoningin Oprah Winfrey is haar rolmodel.

11 Leveinia Botha

Ouderdom: 42

Stad: George

Huwelikstaat: Ongetroud/enkellopend

• Sy is die enkelma van ’n 21-jarige seun en is nie op haar mond geval nie.

• Leveinia werk as ’n assistent-menslikehulpbronkonsultant by die stadsraad in George. Ná ure hou sy haar lyf omroeper as aanbieder van die program Vrou tot Vrou op die gemeenskapsradiostasie Eden FM.

• Sy reken sy het die regte geaardheid en houding om by Huisgenoot te werk en glo dit tel in haar guns dat sy die oudste van die klomp is.

• Kleintyd het sy weens ’n oogsiekte haar linkeroog verloor.

• Sy het ’n sagte plekkie vir die All Blacks se manne.

12 Astrid Lippert-Fisher

Ouderdom: 32

Stad: Muizenberg, Kaapstad

Huwelikstaat: Getroud (Mario)

• Sy is ’n koördineerder by In Country, ’n organisasie wat wêreldwyd vrywilligers werf om in Suid-Afrika te kom werk.

• Astrid het in ’n huis vol vroue op Buffeljagsrivier naby Swellendam grootgeword. Sy het toerisme aan die Boland-kollege op Stellenbosch studeer, was ’n uitruilstudent in Duitsland en het as au pair in Amerika gewerk.

• Sy was voorheen ’n navorser en regisseur vir die TV-joernaalprogram Pasella en het toe van ons land se bekendes ontmoet. Haar man, Mario, is ’n logistieke bestuurder by ’n sitrusmaatskappy.

• Soos dit ’n Leeu betaam, kyk Astrid die kat eers goed uit die boom voor sy besluite neem.

13 Leilani Snyman

Ouderdom:37

Stad: Featherbrooke Estate, Johannesburg

Huwelikstaat: Geskei, nou verloof

• Sy is geskei, het in die voorstad Danville in die weste van Pretoria grootgeword en noem haarself die “Danville-diva”.

• Leilani is baie doelgerig en ’n katjie wat nie sonder handskoene aangepak moet word nie.

• Sy erken ruiterlik sy kan nie verdra om te verloor nie. Sy het ’n bemarkingsonderneming en glo sy hoort by Huisgenoot, want sy kan vinnig dink en ’n plan in ’n kits beraam.

• Leilani ken swaarkry en glo dit het haar so ambisieus help maak. Sy het ’n gesonde beheptheid met Parys, hou van die soet klanke van Édith Piaf se musiek in haar ore en aanvaar nie maklik nee as ’n antwoord nie.

Onthou, jy móét kyk vanaf 17 Julie om 19:30 op kykNET!

Volg Huisgenoot op Twitter.

[gallery link="file"]