Adam Tas is een van die groot name wat by vanjaar se SuperSkouspel op 19 September by die FNB-stadion in Johannesburg gaan optree. Ons het hom bietjie gaan pols oor wat aanhangers te wagte kan wees by dié spoggerige geleentheid.

Waarna sien jy die meeste uit by SuperSkouspel?

Om David Kramer te ontmoet. Ek is al van kleins af ’n groot aanhanger van die man se musiek.

Hoekom moet mense dié konsert bywoon?

Kom nou! David Kramer en ek is daar, en tannie Susan van Engeland kom ook ’n bietjie sing; ek hoop sy hou van Koeksisters.

Met watter liedjies gaan jy die gehoor vermaak?

Ek en Andriëtte gaan Ek Sal uitvoer en die res is ’n verrassing.

Met watter van die ander kunstenaars by SuperSkouspel is jy opgewonde om die verhoog te deel?

Ek hou van die hele lot daar; daarom vermoed ek ons gaan ’n groot braai hou backstage; ’n skapie spit of so iets.

Hoeveel keer per maand tree jy op?

So tussen 12 en 15 konserte per maand.

Wat motiveer jou om so hard te werk?

My baie aftrekorders!

Wat maak jou sangloopbaan vir jou lekker?

Ek het die eer om elke aand my hartsmusiek met mense te deel, ek hoor almal se storie van hoe die musiek ’n rol in hul lewe speel en aan hulle hartwande ruk. Dis my grootste lekker.

Wat sal mense verbaas wees om te weet van jou?

Ek skop met my linkervoet en skryf met my regterhand.

As jy ’n naam vir jou groep aanhangers kon gee, wat sou dit wees?

Ek het nie aanhangers nie; my musiek het.

Met watter ander projekte is jy nou besig en wat hou die res van die jaar vir jou in?

Ek is besig in my nuwe filmmaatskappy om ’n reeks op te neem met die naam Digters van die Stofpad. Ons is so ’n paar skrywers wat met motorfietse die land se mooiste grondpaaie ry en alles doen wat ’n man se hart laat adrenalien klop.

Bespreek vir SuperSkouspel by online.computicket.com, bel 0861-915-8000 of besoek jou naaste Computicket.

 
DIGITAL BANNER_HG_600x450 (0-00-00-00)