Wessel Pretorius (foto) was die groot wenner by Donderdagaand se glansryke derde jaarlikse kykNET Fiëstas.

Pretorius, wat met agt benoemings – die meeste by dié toekennings - gespog het, het uiteindelik in vier kategorieë met die louere weggestap: Beste Akteur, Beste Prestasie in 'n Solo-vertoning, Beste Nuutgeskepte Afrikaanse Opvoering en Beste Opkomende Kunstenaar vir die produksie Ont.

Nóg 'n groot wenner was Oskar en die pienk tannie, wat met drie Fiëstas bekroon is: Sandra Prinsloo is as Beste Aktrise aangewys, Lara Bye as Beste Regisseur en Beste Aanbieding. Kort op sy hakke was Op dees Aarde met twee toekennings: dié vir Beste Byspeelster vir Karli Heine en dié vir Beste Teaterontwerp.

Janine Neethling spog ook met twee Fiëstas vir Beste Prestasie in 'n Musiekgedrewe Produksie vir Wierook en mirre en ook Beste Prestasie in Klassieke Musiek vir Trio met 'n Twist, waarin sy saam met Bridget Rennie-Salonen en Elizabeth Rennie-Furtner te siene was.

Die kykNET Fiëstas was ook ‘n oudio-visuele meesterstuk, in pas met die SA Staatsteater in Pretoria se ryk tradisie – ‘n wêreldgehalte aanbieding deur teater-ikoon, Ian von Memerty, met uitmuntende tegniese produksie deur bekroonde regisseur, Jaco Bouwer. Nog hoogtepunte was optredes uit die boonste rakke deur Laurika Rauch, Elvis Blue, Emo Adams en die opkomende sopraanster, Friedel Mitas, sowel as die Mzansi-jeugkoor, die Tshwane Dance Company en ‘n 12-stuk-orkes.

Die Fiëstas is in vyftien kategorieë oorhandig en drie veterane – PG du Plessis (Woordkuns), Athol Fugard (Teater) en May Abrahamse (Musiek) – is met toekennings vir hul lewenslange bydrae tot die bevordering van Afrikaanse teater en -kunste vereer. Die kykNET Fiëstas het ook aan die publiek die geleentheid gegee om vir hulle gunstelinge te stem en, ná ‘n vurige SMS-stemproses, is André van der Merwe  as Gunsteling Fiesta Aanbieder aangewys terwyl die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aangewys is as Gunsteling Fees. “Ons glo dat die kykNET Fiëstas ‘n toekenningsinstelling geword het en ook, ewe belangrik, ‘n uiters noodsaaklike platform ter viering van die beste prestasies in die Afrikaanse teater en kunste,” sê Karen Meiring, hoof van kykNET. “Ons is weereens verheug oor die geleentheid en wens graag al die waardige wenners en benoemdes geluk.” Die lys van kykNET Fiëstas wenners is:

Beste Akteur

Wessel Pretorius - Ont

Beste Aktrise

Sandra Prinsloo - Oskar en die pienk tannie

Beste Byspeler

Stian Bam - Bos / Babbel / Vrou vantevore

Beste Byspeelster

Karli Heine - Op dees Aarde

Beste Regisseur

Lara Bye - Oskar en die pienk tannie

Beste Teaterontwerp

Marthinus Basson - Op dees Aarde

Beste Prestasie in ‘n Musiekgedrewe Produksie

Janine Neethling (Musiekregisseur en verwerkings) - Wierook en Mirre

Beste Prestasie in ‘n Solo-vertoning

Wessel Pretorius - Ont

Beste Nuutgeskepte Afrikaanse Opvoering

Wessel Pretorius – Ont

Beste Opkomende Kunstenaar

Wessel Pretorius – Ont

Beste Prestasie in Klassieke Musiek

Janine Neethling, Bridget Rennie-Salonen, Elizabeth Rennie-Furtner - Trio met ‘n Twist

Beste Prestasie in Dans- en Fisieke Teater

Nicola Elliott & Underground Dance Theatre (produksie) - Keepsake Minus 3

Beste Prestasie in Visuele Kuns

Katie Barnard du Toit  - Vrees en Verlies

Beste Musiekproduksie

‘n Plekkie in die son Beste Aanbieding Oskar en die pienk tannie Die toekenningsgeleentheid word op 4 April om 20:00 op kykNET (kanaal 144 op DStv) uitgesaai