Melissa Maritz (15) van Witbank se droom het waar geword toe Disney haar onlangs die geleentheid gegee het om haar passie vir branderplankry uit te leef en saam met Roxy die branders aan te durf. Melissa is die wenner van ons Teen Beach-kompetisie, waar lesers soos ’n branderplankryer of motorfietsbestuurder moes aantrek.

1. Hoekom het jy ingeskryf?

Dis al die afgelope twee jaar my droom om professioneel branderplank te ry. Ek het nie heeltemal verwag om te wen nie, maar ek het tog van die begin af ’n gevoel gehad dat die Here my die kans van ’n leeftyd gaan laat ervaar.

2. Wat was vir jou die heel lekkerste deel?

Die heel lekkerste was om branderplank te ry en Roxy te leer ken. Dit was ook vir my baie lekker om oulike foto’s te neem, die mooi see te sien en om my tone in die sand te kon voel.

3. Wat van Roxy inspireer jou die meeste?

Eerstens dat sy ’n branderplankryer is, maar ook omdat sy nes ek eers op 15 begin het. Ek het altyd gedink dat ’n mens op ’n baie jong ouderdom moet begin branderplank ry om ’n sukses daarvan te maak. Roxy het my nuwe hoop gegee.

4. Wat is jou motto in die lewe?

Ek glo goeie dinge gebeur met jou as jy geduldig daarop wag en tussendeur hard werk. Dit verg ook moed om te groei en om die ware jy te word. As jy kan droom en met jou hele hart glo en dinge bereik, gaan jy goed voel oor jouself.

5. Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

(Giggel) Meestal droom ek oor my heerlike branderplankrydae wat voorlê. Ek is ’n buitelugmeisie en is sal enigiets doen solank dit net buite is. Ek is ook mal oor swem, skaatsplank- en fietsry, om my oupa in die tuin te help, te verf en TV te kyk.

6. Wat is jou groot droom? My grootste droom is om by die see te bly en professioneel branderplank te ry en om saam al die top-branderplankryers op kampe of toere te gaan. Ek wil ook ’n mariene bioloog word en ’n sukses van my lewe maak en alles wat ek doen ten volle geniet. [caption id="attachment_70529" align="aligncenter" width="600"]Roxy Louw Foto: Megan Miller[/caption]

Roxy Louw

1. Wat waardeer jy die meeste van jou aanhangers?

Ek waardeer hul geesdrif en ondersteuning baie. En dan ook natuurlik hulle groot glimlaggies wanneer hulle my sien. Jy is wat jou aanhangers jou gee.

2. Watter raad het jy vir toekomstige branderplankryers?

Eerstens, moet nooit tou opgooi nie. Dit vat ’n tydjie om branderplank te ry so jy gaan mismoedig raak, maar dis regtig die moeite werd en moenie bang wees nie.

3. Wat was vir jou die lekkerste deel van die kompetisie?

Definitief Melissa se gelukkige gesiggie en opgewondenheid. Ek was ook so verras om te sien hoe goed sy branderplankry. Dis fantasties.

4. Wat is jou motto in die lewe?

Oorkom jou vrese, klim uit jou gemaksone sodat jy jouself kan uitdaag, want dis hoe ek glo ’n mens vorder in die lewe.

5. Sonder watter drie items kan jy nie klaarkom nie?

Definitief sonbrandmiddel, water en ’n selfoon.

6. Watter skoonheidswenke het jy?

Moenie met grimering gaan slaap nie, dra altyd sonskerm, drink baie water en oefen gereeld.

Dinge wat jy nie van Roxy geweet het nie

  • Die liedjie Blurred Lines kry haar op die dansvloer.
  • Rush is haar gunsteling-fliek.
  • In haar vrye tyd kyk sy graag die TV-reekse Revenge, Breaking Bad en Dexter saam met haar kêrel.
  • Sy het die rol van Acapulco Goldie vertolk in die fliek Blue Crush 2.
  • Haar pa is die voormalige Springbok-rugbyspeler Rob Louw.
  • Sy gaande daaroor om by die kitskosrestaurant Kauai te eet.
  • Sy is ’n wynliefhebber.
  • Haar gunsteling-kleure is pienk en blou.

[post-slider]