GWM se sportiewe nuwe C20R bied plaaslike motorkopers ’n opwindende nuwe oorkruisopsie in die kompakte luikrugsegment. Dit gaan meeding teen die VW Polo Vivo Maxx en Renault Sandero Stepway.

Die C20R is gegrond op GWM se C10, maar het ’n ander sierrooster voor, ’n herontwerpte voorste buffer met geïntegreerde misligte, swart afwerking om die wielnisse, dakrelings, en silwerkleurige skermstroke voor en agter. Daar is ook 16 duim-allooiwiele as standaard en ’n hoër grondvryhoogte as die C10.

Standaardkenmerke sluit in lugreëling, kragstuur, elektriese venster- en spieëlverstellings, afstandbeheerde klankkontroles, hoogteverstelbare hoofligte, parkeersensors agter en ’n radio/CD/MP3-klankstelsel met ’n USB-anker.

Onder die C20R se enjinkap is ’n 1,5 liter-petrolenjin wat 77 kW se krag teen 6 000 r/min lewer en wringkrag is 138 Nm teen 4 200. Volgens GWM is die gemiddelde brandstofverbruik 7,7 liter/100 km.

Die C20R se veiligeidheidskenmerke sluit in dubbele lugsakke en ’n sluitweerremstelstel (ABS) wat ondersteun word deur elektroniese remkragverdeling (EBD) en noodrembystand (EBA). Daar is ook Isofix-babastoel-ankerpunte op die agtersitplek.

By die C20R se prys ingesluit is ’n 3-jaar/100 000 km waarborg, 2 jaar/24 uur-padbystand en ’n diensplan van 3 jaar/45 000 km.

Prys: R154 900

 GWM C20R GWM C20R