“Is jy gereed?” vra hy dan.

Sy frons. “Waarvoor?”

“Om te kyk of ons nog die slag het, of ons weer die magic in ons voete kan wakker maak!”

“Joe . . .” Hy spring op. “Jou kombuis is groot genoeg. Ons maak net plek . . .”

Hy begin die tafel en stoele eenkant skuif.

“Sit musiek op, iets klassieks!”

“’n . . . ’n Wals?” vra sy.

’n Wals is betreklik rustig, sy sal miskien ’n minuut lank kan wals sonder om ’n gek van haarself te maak.

“Sit iets vinnigs en vurigs op. ’n Polka!”

Sy draai om.

Haar voete voel soos lood toe sy in die sitkamer voor die hoëtroustel buk en ’n CD uitsoek. Strauss se Pizzicato-polka, besluit sy.

Hy was altyd dol oor Strauss. Sy ook.

Sy stel die volume hard. Diemusiek vul die huis.

“Ek het nie dansskoene nie,” sê sy toe sy terug is in die kombuis.

“Ek het self nie dansskoene gebring nie. Ons dans kaalvoet!”

Hy trek sy skoene uit. Sy ook.

Dis of iets met haar gebeur toe sy sy arms om haar voel. Dis of sy sy hartklop teen haar bors kan voel soos jare gelede.

Hulle wag, wag vir die ritme om deel te word van hul liggame, wag op die regte oomblik . . .

Dan begin hy beweeg. En sy saam met hom.

Die eerste passies is dom en onhandig, haar voete voel lomp en sy en Joe sukkel om mekaar se ritme te vind. Dan, meteens, gebeur dit:

Hulle begin saambeweeg, soos een! Dis skielik weer soos 14 jaar gelede, asof die tyd geen verskil gemaak het nie.

Haar voete, haar lyf voel lig en gewigloos. Hulle dartel en swaai deur die kombuis, elke beweging perfek, ál vinniger en vinniger. Dit voel of haar voete glad nie aan die vloer raak nie.

Dartelend, swaaiend, draaiend. Sy is weer jonk, sy is 16 en maer en mooi. En Joe se arms voel presies reg om haar lyf. Dit voel soos ’n droom!

Die musiek word vinniger, bou op tot ’n klimaks. Sy en Joe word totaal meegevoer deur die ritme van hul eie liggame, die ritme in hulle harte en voete. Dan voel sy Joe se hande om haar middellyf, hoe hy haar soos destyds van die vloer af optel en hoog bo sy skouers probeer lig.

Hulle kom met ’n slag aarde toe. Sy lê half bo-op Joe, rol van hom af. “Joe, is jy oukei? Het jy seergekry?”

Hy kyk verward om hom. En begin lag, ’n uitbundige geskater. Sy voel hoe sy saam met hom lag. Sy het dit gedoen, sy het gedans! Vir ’n paar tower oomblikke het sy gedans met volle oorgawe, elke beweging in perfekte kombinasie met syne. Soos 14 jaar gelede!