Joe lyk feitlik net soos op die foto’s in haar plakboek: ’n mooi, lenige man met blou oë. Al het daar ’n paar lagplooitjies bygekom, die donker hare voorlangs yler begin word.

Net vir ’n oomblik is daar verbasing in sy oë.

Dan glimlag hy. Sy sluit die hek oop. Hy kom in, druk haar broederlik teen hom.

“Doortjie!” sê hy. “Ná14 jaar . . . dit voel soos Krismis!”

“Kom in, ek maak tee.” Hy sê niks oor haar gewig nie, lyk nie verbaas oor hoe sy verander het nie. Asof hy dit nie agterkom nie; asof sy altyd vet was.

Sy maak tee, maak ’n blik soetkoekies oop.

Die aanvanklike ongemak, amper vreemdheid verdwyn gou: hulle gesels oor die goeie ou dae, roep herinneringe op, lag hardop.

Dan is dit skielik stil tussen hulle. Die tyd het gekom, dink sy, omte praat oor die danstoernooi.

Sy moet verduidelik hoekom sy ingestem het om sy dansmaat te wees terwyl sy geweet het dit buite die kwessie is.