SY MOET Joe bel om te sê dat sy nie aan die danstoernooi kan deelneem nie, hom tyd gee om iemand in haar plek te vind. Dit sal nie regverdig wees teenoor hom om te wag tot hy hier aankom nie.

Sy kan net nie die moed bymekaarkry nie.

Op ’n Saterdagoggend lui haar telefoon. Sy huiwer, tel die gehoorstuk op. “Dorothea van der Merwe?”

“Doortjie! Ek’s in die Kaap.”

“In . . . die Kaap?” Hy was veronderstel om volgende week eers te kom!

“Ek het gister geland,” sê hy. “Ek kon vroeër wegkom as wat ek beplan het. Sê my waar jy bly, dan kom ek oor. Kan nie wag om jou te sien nie!”

“Jy wil . . . nou . . .”

“Is dit ’n ongeleë tyd?”

“Nee, dis . . . doodreg.”Sy sal hom nou moet sê voor hy . . .

Sy gee haar adres. Dit sou simpel wees, dink sy, om hom te sê hoe sy lyk wanneer hy feitlik al op pad is hierheen.

Sy kan net sowel ’n halfuur wag, hom self laat sien.

Ná die eerste kyk sal hy weet daar is geen kans dat sy saam met hom kan dans nie.

Die voordeurklokkie lui 20 minute later. Sy huiwer. En maak oop.

Hulle kyk na mekaar deur die veiligheidshek.