Ydelheid! vermaan sy haarself. As Joe ’n ware vriend is, sal hy nie sleg van haar dink omdat sy nie meer ’n vietse dametjie is nie.

Sy het lankal vrede gemaak met hoe sy lyk. Die grootste geskenk wat ’n mens jouself kan gee, is om jou te aanvaar soos jy is, om gelukkig te wees. En dit was sy die afgelope jare.

Tot Joe gebel het. Sy blaai weer deur haar plakboeke. Dalk kan sy nog dans. Miskien is dit soos fietsry: Jy verleer dit nooit heeltemal nie.

Sy sit ’n CD met dansmusiek op. Indie kombuis skuif sy die tafel tot teen die muur, haal die besem uit die kas, hou dit in haar arms. Sy haal diep asem, konsentreer op die musiek, probeer die ritme voel, probeer deel word daarvan.

Sy maak ’n paar versigtige passies, draai vinnig in die rondte.

En slaan soos ’n os neer. Sy voel trane oor haar gesig loop. Wat het sy probeer doen?

Sy is weer ongelukkig. Dae lank al. Omdat sy probeer wees wat sy nie is nie. En nooit weer sal wees nie: ’n danskampioen.

Sy staan op, loop broodblik toe, smeer vir haar ’n toebroodjie met grondboontjiebotter en ’n dik laag gouestroop.