SY HET lankal agtergekom kits diëte werk nie. Sodra jy jou mikpunt bereik het, tel jy die verlore kilogramme gou weer op.

Daar is net een uitweg: Eet minder, oefen meer.

Sy begin reeds die volgende dag, eet die helfte soveel as ander dae. Maar sy moet 30, minstens 20 kilogram binne drie weke verloor!

Sy móét oefen ook.

Sy staan die volgende oggend vroeg op, wurg haar by ’n sweetpak in en loop buitentoe om te draf.

Sy is halfpad in die straat af toe ’n ontsettende miltsteek haar blasend tot stilstand laat kom. Sy gaan haarself doodmaak as sy die einde van die straat probeer haal.

Daardie middag grawe sy haar ou dikwielfiets uit. Fietsry is goeie oefening en makliker as draf.

Sy kan nie onthou wanneer sy laas fiets gery het nie. Sy klim op, balanseer haar met moeite en begin trap.

Die eerste entjie is wankelrig, maar sy kom gou op dreef. Sy is halfpad om die blok toe sy weer die pyn in haar sy voel.

Ná nog ’n entjie klim sy af en stoot die fiets terug huis toe. Sy strompel die huis binne en val op die bed neer. Haar liggaam voel styf en seer. Sy weet nie of sy ooit die krag gaan hê om op te staan nie.

Gimnasium, dink sy die volgende dag. Dis ’n wetenskaplike manier om te oefen en gewig te verloor en is miskien nie so veeleisend soos draf of fietsry nie.

Sy ry daardie middag na die naaste gimnasium. Sy speel eers met die gewigte. Dis nie moeilik nie, sy hou selfs daarvan. Maar sy wil weer kan dans, lig en dwarrelend soos ’n lente blaar in die rondte tol; sy wil nie ’n gewig aansit kampioen word nie!

Sy ry op ’n trapfiets, durf dan die trapmeul aan. Ná ’n rukkie sak sy hygend op die vloer neer.

Een van die afrigters kom nader. “Ek sal jou help,” sê hy. “Ons stel ’n progressiewe oefen plan op. Ná ’n paar maande sal jy jouself nie herken nie!”

’n Paar maande? Dink Dorothea en voel of sy in trane kan uitbars.

Miskien, dink sy die aand nadat sy haar spierpyne in ’n mosterdbad probeer weg week het, kan sy net probeer om minder te eet. Al verloor sy net nege kilogram . . . sy sal nie fiks genoeg wees om weer te dans nie, maar dit sal

Joe se skrik ’n bietjie ligter maak wanneer hy haar weer sien.