Toe die newels begin wegtrek, het sy met skok ontdek dat haar klere haar lankal nie meer pas nie. Sy het alles probeer, elke dieet onder die son. Tot sy op ’n vriendin se aandrang na ’’n sielkundige is.

Dié het alles netjies saamgevat. “Jy treur oor jou man en soek vertroosting in kos; jy wil vet wees om jouself te straf omdat jy voel dis jou skuld dat die huwelik misluk het; jy probeer mans onbewustelik afskrik met jou gewig omdat jy alle mans nou wantrou . . .”

Kortom: Dorothea van der Merwe se vetsug is veroorsaak deur allerlei sielkundige haakplekke. Maar niks wat nie deur berading reggestel kon word nie.

“Voor jou kop reg is,” het die sielkundige gesê, “kan jy vergeet om gewig te verloor.”

Ná ’n paar sessies en ’n genadelose gegrawe in haar psige het Dorothea haar innerlike krag voel terugkom. Te hel daarmee! het sy besluit.

Sy was besig om oor die egskeiding te kom, het ál meer begin glo dat sy verlos is van Martin.

’n Man wat so min van die huweliksbelofte dink, was haar liefde nie waardig nie. En as sy vet is, is sy vet – klaar! Sy is ’n moderne, bevryde vrou; dit beteken sy het die vryheid om te wees wie en wat sy wil. Sy is vet, vrolik en geskei–wat daarvan?

Sy gaan haar nie martel met diëte en eetlusdempers nie.

Sy het ’n rustigheid oor haar voel daal en die vryheid wat self aanvaarding bring. Sy was weer gelukkig: ’n vet, trotse vrou met haar voete op die aarde.

Dit het haar nie gepla as haar allemintige heupe maak dat mensehaar agternakyk nie. Sy geniet dit om haar eie klere te maak, hoef nie winkels deur te soek na iets wat haar sal pas nie.

Sy kyk weer na een van die foto’s in die plakboek: Joe wat haar in ’n glorieryke oomblik hoog bo sy skouers lig . . .

Sy het haarself aanvaar; sy het vrede gemaak met wie sy is. Maar om net een keer weer te kan dans soos in haar jong dae, met Joe; om net één keer die glorie en triomf te herleef!

Te voel hoe dit is om mooi en maer en suksesvol te wees, lig soos ’n veertjie oor ’n dansvloer te sweef. Sy sal haar eie rok maak, ’n smarag groen dansrokkie van glinsterende satyn, om by haar oë te pas . . .

Miskien, dink sy, miskien is dit nie onmoontlik nie . . .