Sy was verlief op hom, onthou sy. Maar sy het altyd die gevoel gehad dat hy nooit meer as vriendskap wou hê nie. Al was daar nie ander meisies in sy lewe nie.

Sy blaai verder. Die bladsy is gevul met koerantknipsels en glansfoto’s van haar en Joe in volle aksie: hy in sy donker pak, sy in skitterende danstabberds in wynrooi of koningsblou.

Wat sou sy nie gee om weer daardie glorie en passie te beleef nie! Net een keer nog.

Sy en Joe . . .

Maar dinge het verander. Sy het verander. Sy staan voor die spieël teen die kasdeur. En besef, amper met skok, hoeveel sy verander het. Veertien jaar gelede was sy ’n vietse 70 kilogram. En nou: ’n skandalige 99.

Wanneer laas het sy aan haar gewig gedink as “skandalig”? Sy het vrede gemaak met wie sy is, met hoe sy lyk.

Kort nadat sy begin skoolhou het, het Martin in haar lewe gekom. Blond, sjarmant. Ses maande later is hulle getroud.

Dit was twee wonderlike jare. Hulle het soveel drome gehad: die huis wat hulle wou bou, twee kinders, ’n tweede wittebrood in Parys.

En toe, die skok: Martin het die huwelik eensydig dood verklaar. Daar was iemand anders. Hy wou skei.

Sy kon nie dink hoe sy sonder hom sou leef nie. Sy het gepleit. “Hoe kan jy ’n gelukkige huwelik sommer vernietig?” wou sy weet.

“Die geluk kom van jou kant. Ek is al lank verveeld met . . . alles.” Met jou, wou hy waarskynlik sê.

Die maande ná die egskeiding was ’n donker wa as. Dit was of sy nie geweet het wat om haar aangaan nie. Sy wou net alleen wees, sy wou treur.