Van gedroom om een van die wêreld se grootste ballerinas te word. Toe, op hoërskool, raak sy verveeld met ballet. En sy ontdek die passie, die drif, die grasie, die vúúr van ballroom dancing!

Sy het ingeskryf by ’n dansskool. En op haar eerste dag vir Joe Durandt ontmoet. Dieselfde ouderdom as sy. Feitlik ewe lank. Donker kuif en hemelblou oë . . .

Dit was vanselfsprekend dat die dansinstrukteur hulle as dansmaats wou gebruik. En van die eerste oomblik het sy en Joe perfek gekombineer.

Dit was amper onnatuurlik, iets onverklaarbaars: Sodra die musiek begin speel het, het sy en Joe soos één oor die dansvloer beweeg; die ritme het gelyk deur hul harte en lywe geklop. Die een het presies geweet wat die ander se volgende beweging sou wees.

Dit was later asof hulle nie gedans het nie, maar asof elke dans met hulle gebeur het. Hulle was ewe vurig, ewe soepel, ewe grasieus.

Hulle het vir kompetisies begin inskryf, die een prys ná die ander los gedans. In matriek was sy en Joe provinsiale kampioene in hul ouderdomsgroep. Op universiteit het hulle landwyd tweede gekom.

Toe skei hul paadjies. Joe is ’n pos in Gauteng aangebied; sy het ’n onderwyspos in Kaapstad gekry. Hulle het ’n rukkie kontak behou, nou en dan planne probeer maak om by mekaar uit te kom en weer saam te dans.

Maar dit het net nooit gebeur nie. Mettertyd het hulle kontak verloor.

Sy wonder nou eers: Sy en Joe was so na aan mekaar, hulle het mekaar op alle vlakke verstaan, groot vriende geword. Hoekom was daar nooit meer as vriendskap nie?