dakar

Dié skof het in Chilecito, Argentinië, begin en het in Copiapó, in die noorde van Chili, geëindig.

Die renleiers, Nasser-Al-Attiyah van Katar en sy spanmaat, die Fransman Mathieu Baumel, was weer op hul beste. Hulle het die skof gewen en die gaping tussen hulle en die Suid-Afrikaanse Toyota-span na meer as agt minute vergroot.

Toyota se ander Suid-Afrikaanse span Leeroy Poulter en sy medebestuurder Robert Howie het ’n baie beter ren as die vorige dag gehad. Hulle het in die negende plek geëindig en so sewe plekke gespring om in die algehele 14de plek te wees.

Suid-Afrika se Nissan Prodakar-span, Johan van Staden en Mark Lawrenson, het ook op beweeg op die telbord na die 34ste algehele plek al het hulle die skof op 43 geëindig.

Die Suid-Afrikaanse motorfietsryer wat voorloop, Riaan van Niekerk, het in die 15de plek geëindig -– sy beste plek sover – maar het een plek afgeskuif na die algehele 16de plek.

Spanje se Joan Barreda Bort het die motorfietsskof vir die tweede keer sedert die ren begin het, gewen. Bort is steeds bo-aan die algehele motorfiets-ranglys met ’n gaping van 13 minute tussen hom en sy naaste mededinger, sy landgenoot Marc Coma.

Suid-Afrika se vierwielmotorfietsryer Willem Saaijman het in die top 20 in beweeg toe hy die skof in die 22ste plek klaargemaak het en twee plekke na die algehele 19de plek opgeskuif het.

Die uithouren, voorheen bekend as die Parys-Dakar-ren, het in 2009 na Suid-Amerika geskuif en strek deur Argentinië, Chili en Bolivië. Die ren van 14 dae eindig op 17 Januarie in Buenos Aires.

- Sapa