Lekka by die See was vir LeRoux soos ’n kind sedert hy in 2009 sy eerste klante daar verwelkom het en borde heerlike kos uit sy kombuis begin aandra het.

Die restaurant op Langebaan was ’n groot gunsteling onder plaaslike inwoners en het mense van heinde en ver gelok om hier aan eg Weskus-geregte te kom weglê.

Lees ook: Onthoukok 2014: Leroux van Vuuren, 45

Maar die lewe vat soms onverwagse draaie met ’n mens en al uitweg was om sy restaurant vaarwel toe te roep nie, het hy aan Huisgenoot gesê.

Lekka by die See was ’n lewenslange droom wat LeRoux in 2009 saam met ’n vennoot kon bewaarheid.

Maar in 2014 is die vennootskap beëindig. Van daar af was dit net opdraande vir hom soos hy die restaurant probeer red het, vertel hy.

Lees ook: Kokkedoor se Leroux en Lindé: “’n Blikkie karamel was ons einde!”

“Die eerste vier maande op my eie was als nog goed, maar daarna kon ek nie meer kop bo water hou nie.”

LeRoux vertel as alleeneienaar was daar gedurig vure wat hy moes doodslaan met agterstallige skuld wat glo skielik opgeduik het en agterstallige administrasie wat hy onder beheer moes kry.

“Ek moes met al die gemors wegspring in 2015 en ek kon net nie meer byhou nie, ten spyte van al die pogings wat ek aangewend het,” het hy op sy Facebook-blad aan sy aanhangers verduidelik.

“Verkoop was die enigste opsie, maar ongelukkig het die koop deur die mat geval.”

LeRoux sê hy het die verhuurder van die perseel van die begin af meegedeel van die finansiële dilemma waarin hy hom bevind, maar hulle kon hom ook net tot so ver tegemoet kom.

Toe was al raad om Lekka by die See finaal op 31 Maart te sluit.

Maar waarheen nou vir die bobaaskok?

“Eintlik, op ’n eienaardige manier, is ek verlig alles is verby. Die drama van die afgelope jaar het my passie vir kos heeltemal doodgemaak.

Ek voel ek kan nou weer my passies uitleef en ek is verskriklik opgewonde oor wat die toekoms vir ons inhou,” sê hy.

LeRoux kan nou meer tyd saam met sy vrou, Estelle, ’n onderwyseres, en hul twee kinders, CJ (13) en Ella (12), deurbring. Dis ’n voorreg wat die bedrywighede van die restaurant hom ontneem het.

“Ek het eintlik baie passies buiten kos maak. Ek is verskriklik lief vir tuinmaak en het in die afgelope week dinge in ons tuin reggekry wat min mense in jare kan regkry!”

Ook werk LeRoux aan ’n boek wat hopelik in September die lig gaan sien.

“Mense het my al genader en gevra om ’n respteboek te skryf. Maar ek het gedink daar is reeds so baie daarvan, wat gaan LeRoux van Vuuren se resepteboek anders maak? Toe verskyn daardie Huisgenoot-artikel . . .”

In 2014 het LeRoux eksklusief met Huisgenoot gesels oor sy verslawing aan pille (Ek het 180 pille per dag gedrink, 5 Junie 2014).

“Mense het my daarna genader vir motiveringspraatjies en het gesê ek het ’n interessante lewe gehad. En van daar is ’n saadjie geplant.

“Ek het toe besluit om ’n outobiografie te skryf en resepte te plaas wat by my stories pas.

“En dit is hoe my ‘resepteboek’ anders gaan wees!” vertel hy opgewonde.

Voorts gaan hy nou ja kan sê vir openbare optredes wat hy voorheen van die hand moes wys weens sy restaurant.

Het hy darem planne om eendag weer ’n eetplek oop te maak?

“Ek sal nooit ‘nooit’ sê nie!” sê hy.

“Ek glo alles gebeur met ’n doel, en hoewel dit nie nou duidelik is waarom Lekka by die See moes sluit nie, glo ek dit moes so wees.

“Maar ’n nuwe restaurant? Beslis nie in die volgende jaar, of drie of 10 nie!”

– Joanie Bergh

Ook op Huisgenoot.com:

Hofmeyr-boeties se liefdeslewe beleef uiterstes

Sexy Ryk en sy beeldskone Sahar baljaar tussen die branders van die Maldives

Banters let op! Algemene wanopvattings oor eetplanne met min koolhidrate

Valk tref motor en oorleef wonderbaarlik ’n hele naweek vasgekeer in sierrooster

Mauritius-moordsaak: Saak teen SA besigheidsman laat vaar

Jacques Terre’Blanche raak nostalgies en sing Lucas Maree se Droomvrou vir sy oorlede pa