gerrit
“Ai tog. Dis nie lekker om uitgestem te word nie, maar die ander drie deelnemers het net beter as ek gevaar, en ek gun hulle dit,” vertel Gerrit, wat vanaand uitstem is. “My koeksisters het soos koekbroers gelyk en was nie goed nie. Ek het te min deeg gemaak om dit beter te kon vleg en my stroop was te koud en dik.” Maar hy verruil dié ervaring vir niks ter wêreld nie.
Van die hoogtepunte op die program was toe hy sy ma, wyle Tina, se melktertresep kon bak.

Gerrit het al voorheen twee keer aan Koekedoor se kookboetie, Kokkedoor, probeer deelneem. Die eerste keer het hy nie die paal gehaal nie en die tweede keer het sy aansoekvorm weens ’n tegniese glips nooit by kykNET uitgekom nie.

Toe hy hoor van Koekedoor het hy dadelik besluit om in te skryf, het hy vertel toe ons onlangs by hom gaan kuier het by sy huis in Parklands naby Kaapstad waar hy saam met sy lewensmaat, Hercules Duvenage (47), en hul drie hondekinders woon.

Die eerste keer dat hy aan Kokkedoor deelgeneem het, het die inhoudsvervaardiger, Errieda du Toit, juis gesê dis die “lekkerste en wortelkoek met piesang en pynappel wat sy al geëet het”, vertel Gerrit.

Juis daarom het hy dieselfde koek gebak vir sy Koekedoor-oudisie. “En toe is ek sowaar third time lucky.”

Van die hoogtepunte op die program was toe hy sy ma, wyle Tina, se melktertresep kon bak. Dis juis by haar dat hy sy liefde vir bak geërf het, vertel hy.

Gerrit is ewe bekend vir sy bakvernuf as die kleurryke hemde wat hy op die kassie gedra het. Hy en Hercules is ewe versot op hemde, vertel hy. Die klerekaste in hul drie slaapkamers kreun onder hemde, sê hy. “Party het selfs dubbele relings.” Gerrit het op 40 naaldwerk begin doen en het tot balrokke en twee bruidsrokke aanmekaargeslaan. Maar hemde? “Nee, dié koop ek,” vertel hy en lag. “Vir die vier weke op Koekedoor het ek hemde vir elke dag saamgevat.”

“Ek voel so goed omtrent myself en my selfvertroue het ’n groot hupstoot gekry. Die publiek en kykers van kykNET herken my op straat en my familie en vriende is baie trots op my.”

Hy en sy mededeelnemer Murray Pienaar het ’n kamer gedeel en het baie goeie vriende geraak, sê hy. Op Tulbagh het hul dae op die stel soggens al seweuur begin. “Ons het een dag tot elfuur die aand geskiet.” Saans het hy op die internet resepte nagevors.

Tog was daar ’n tyd dat hy wou tou opgooi toe hulle met fondant moes werk, sy eerste keer. Maar hy het deurgedruk en het later die topvier gehaal. “Dit het my geleer jy moenie bang wees vir iets wat jy nie ken nie.”

Gerrit is op Barberton gebore en was een van sewe kinders. Hy was ’n kranige atleet en tennisspeler op skool. Hy het later B.Com. op Potchefstroom studeer met ’n sportbeurs, maar het ná ’n maand opgeskop nadat sy pa siek geraak het.

Hy het in 1975 net vier maande in die bankwese gewerk toe sy pa, Hannes, op 59 aan nierversaking oorlede is. Hulle het toe in Rustenburg gewoon. Sy ma, Tina, is in 1992 op 72 oorlede. “Haar niere het ook ingegee, nes my pa s’n.”

Hy het 14 jaar gelede sy lewensmaat deur gemeenskaplike vriende ontmoet. Hulle het mekaar daarna weer by ’n langarmdans in Pretoria raakgeloop, ’n vriend het sy nommer vir Hercules gegee en die res is geskiedenis.

Gerrit het jare lank in die bankwese gewerk voor hy weens sy gesondheid bedank het. “Ek het inmekaargesak, soos ’n hartaanval.” Hy en Hercules het toe hul eerste restaurant op Graaff-Reinet in die Groot-Karoo gekoop. Hulle het dit ná vier en ’n half jaar verkoop – weer weens hartprobleme en omdat Port Elizabeth se harthospitaal twee uur se ry daarvandaan was, vertel hy.

Hulle het daarna’n restaurant op Hermanus besit voor hulle ook dié verkoop en in Januarie verlede jaar die Radish-restaurant op Stellenbosch gekoop het, wat hulle nog besit.

Koekedoor het sy lewe verander, sê Gerrit. “Ek voel so goed omtrent myself en my selfvertroue het ’n groot hupstoot gekry. Die publiek en kykers van kykNET herken my op straat en my familie en vriende is baie trots op my.”

“Ek sal graag en beplan beslis ’n kook-en-bakboek en sal dan graag demonstrasies wil doen.”

En wie dink hy moet fyn dopgehou word in die kompetisie? “Martjie,” sê hy. “Met haar kennis en fyn werk is sy ’n aanspraakmaker op die titel.”

Hou so kontak met Gerrit:

Facebook

Die paar se Radish restaurant is aan die M23-Bottelary-pad naby die wynplaas Hartenberg.

Kontak: 083 680 6405 of zoelendals@lantic.net.