Dit was die mikpunt wat die voormalige Amerikaanse president John Kennedy gestel het. Dit het destyds na die onsamehangende praatjies van ’n mal mens gelyk, maar dit het ’n voorbeeld geword van die mens se vermoë om te streef na goed wat ons as bo ons vermoë beskou.

[caption id="attachment_130291" align="alignnone" width="600"]Foto: Rowyn Lombard Foto: Rowyn Lombard[/caption]

Geïnspireer deur literatuur en rolprente, droom die mens al eeue lank daarvan om die maan te bereik. Die heel eerste beroemde wetenskapsfiksierolprent was trouens ’n Franse stilprent, A Trip to the Moon”, wat ’n grillerige avontuur van ’n man se reis na die maan voorgestel het. Dit was nie naastenby die ware Jakob nie, maar tog ook nie te ver daarvandaan verwyder nie.

KOOP JOU GATEWAY TO SPACE-KAARTJIES NOU

Ek het ’n dag by die Gateway to Space-uitstalling in Sandton deurgebring waar ek gesien het hoe die mens se droom verwesenlik is. Dit was moeilik om die skouspelagtige uitstallings van die mensdom se reis deur die sterre mis te kyk en die prestasie van die bemanning van die Apollo 11 was die aanskoulikste.

Lees ook: Skuif nader – almal wat van blokraaisels (of die ruimte) hou!

Apollo 11 se doel was om die eerste te wees van vele wat agterna suksesvol op die maan sou land. Die bemanning het uit drie mans bestaan: Neil Armstrong, Edwin “Buzz” Aldrin en Michael Collins.

Een uitstalling wat veral my belangstelling geprikkel het, benewens die goed bewaarde ruimtepakke en groot modelle van vuurpyle, was ’n stel handvorms van elke bemanningslid van Apollo 11, met naamkaartjies daaraan vasgeheg. Replikas van die hande voor my het dieselfde hande getoon wat in 1969 geskiedenis gemaak het.

[caption id="attachment_130292" align="alignnone" width="601"]Foto: Rowyn Lombard Foto: Rowyn Lombard[/caption]

Om ’n ruimtevaarder te wees is op sigself noemenswaardig, bo en behalwe die feit dat dit geskiedenis maak. Elke enkele lid moes maande lank strawwe opleiding ondergaan vir feitlik elke moontlike situasie, soos oorlewing in die woestyn, oerwoud en see, ingeval hulle in onbeplande omstandighede sou land.

Lees ook: Ontmoet Laika – die arme hondjie wat in die ruimte dood is

’n Onuitgesproke vereiste vir ’n ruimtevaarder was om meervuldige titels te hê, aangesien net die beste uit ’n groot klomp kandidate gekies is. Hulle moes grade ten opsigte van verskillende terreine gehad het en ’n deeglike begrip van ingenieurswese en astrofisika, tesame met ondervinding as vlieënier. Die drie wat destyds gekies is, was as die heel beste beskou.

Armstrong is welbekend as die eerste man wat op die maan geloop het. Sy voetspore is moontlik steeds op die stowwerige landskap waar hy die eerste keer getrap het, want as leier van die sending het hy die reg gehad om die landingstuig te verlaat voor Aldrin, wat die tweede mens was wat sy voete op die maan gesit het, terwyl Collins, ’n dikwels vergete lid van die span, om die maan gesirkel het en sy kollegas se terugkoms angstig afgewag het.

[caption id="attachment_130293" align="alignnone" width="600"]Foto: Rowyn Lombard Foto: Rowyn Lombard[/caption]

Herdenkingserepennings met die name van die drie ruimtevaarders van Apollo 1, wat hul lewe in ’n brand op die lanseerterrein verloor het, asook twee ruimtevaarders wat ook in ongelukke gesterf het, is op die maanoppervlak agtergelaat. ’n Silikoonskyf, 38 mm dik, met mikroboodskappe van goeie trou van 73 lande, en die name van Amerikaanse en Nasa-leiers, het ook daar agtergebly.

Ná die “neerplonsing”, ’n term wat gebruik is om die proses ná die terugkoms te beskryf, het die drie ruimtevaarders 21 dae in medies geïsoleerde kwarantyn deurgebring om enige besmetting met buiteruimtelike lewe van die maan af, te voorkom. Geen teken van lewe is egter op die maan aangetref nie; daarom is hierdie navlug-prosedure gestaak.

Die bemanning van Apollo 11 is met ’n kleurvolle konfetti-parade, ’n tradisie wat dikwels gebruik word om helde in New York te vereer, gegroet. Hulle is met ’n vloedgolf van medaljes en herdenkingstekens in die geskiedenis verewig as die eerste mense wat op die maan geland het.

Nog inligting kan verkry word by die Gateway to Space-uitstalling in die Sandton-konferensiesentrum. Die uitstalling word tot 31 Julie aangebied. Die uitstalling bevat ’n opvoedkundige tentoonstelling en ’n speelgebied. Kaartjies is by Computicket beskikbaar. Nog inligting kan op die webtuiste www.gatewaytospace.co.za bekom word.

Bronne: Biography.com; buzzaldrin.com; NASA; Airandspace.si.edu; Wired.com; YouTube

Bloginskrywing deur: Jean-Luc Greyvenstein