Die EcoSport is beskikbaar in agt kleure, drie enjingroottes en drie afwerkingsvlakke.

Die afwerkingsvlakke, Ambiente, Trend en Titanium, bied al die nodige luukse kenmerke, insluitend Ford se SYNC-stelsel. Dit is ’n interaktiewe stelsel wat stemgeaktiveerde opdragte kan uitvoer om byvoorbeeld die klankstelsel te beheer of om oproepe te maak. Daar is 20 praktiese bêreplekkies in die voertuig en die EcoSport het ook talle veiligheidskenmerke, soos ses lugsakke en ABS-remme.

Onder die enjinkap is daar onder meer Ford se bekroonde ’n 1,0 L-EcoBoost-enjin, wat al twee keer as die beste enjin ter wêreld aangewys is. Hierdie kragbron het dieselfde vermoë as ’n gewone 1,6 L-enjin en lewer 92 kW se krag en 170 Nm se wringkrag. Die gemiddelde brandstofverbruik is 5,7 L/100 km.

Dan is daar ’n 1,5 L-viersilinder-enjin wat 82 kW en 138 Nm ontwikkel. Volgens Ford is hierdie enjin se gemiddelde brandstofverbruik 6,5 L/100 km.

Die EcoSport is ook beskikbaar met ’n 1,5 L-TDCi-turbodieselenjin wat 66 kW en 205 Nm uitskop. Hierdie enjin se gemiddelde brandstofverbruik is 4,6 L/100 km. Al die modelle het ’n vyfspoedhandratkas, behalwe vir die 1,5 L-Titanium-petrolmodel, wat ’n outomatiese sesspoedratkas het. Pryse

  • EcoSport 1,5 Petrol Ambiente R199 000
  • EcoSport 1,0 EcoBoost Trend R224 000
  • EcoSport 1,5 TDCi Trend R229 000
  • EcoSport 1,0 EcoBoost Titanium R244 000
  • EcoSport 1,5 Petrol Titanium Powershift (outomaties) R244 000
  • EcoSport 1,5 TDCi Titanium R249 000

- Wilmer Müller

FordEco_2 FordEco_3