Vandeesweek is daar ’n keuse tussen nog ’n Afrikaanse musiekrolprent, twee dramas wat op ware gebeure gegrond is en ’n gruwelprent.

As jy lus het vir iets lighartigs, gaan kyk gerus die musiekprent As Jy Sing (OT T). Hierin speel die sanger Bobby van Jaarsveld ’n musiekonderwyser wat leef vir sy sanggroepie, die uitgeworpenes in hul sportmal skool. Die groepie is op pad na ’n koorkamp om voor te berei op ’n groot sangwedstryd, maar die onbeholpe skoolhoof (Robbie Wessels) stuur hulle na ’n oorlewingskamp wat bedryf word deur die tawwe sers.maj. Fourie (Bok van Blerk). Gaan hulle kan uithou en nogtans die sangwedstryd kan haal?

Die Burger se Laetitia Pople het die fliek net een ster gegee. Sy skryf: “Die belangrikste kwelling is, (wanneer) jy gewilde sangers as jou vakansie-rolprent se trekpleister het, moet hulle tog behoorlik singkans kry en verkieslik ook karakters vertolk met ’n bietjie lyf. Nie hier nie.”

Steyn du Toit van die Cape Times was ’n bietjie meer toegeeflik en het die fliek twee sterre gegee. Hy beskryf dit as ’n kombinasie van plaaslike blyspeltreffers soos Pretville (2012) en Liefling (2010) en die “glo in jouself/vier verskeidenheid gevoel van Glee en High School Musical”. Steyn meen die fliek is op ’n spesifieke gehoor gemik wat weet wat hulle gaan kry. “Dis nie ’n slegte fliek nie en ’n bekwame span het dit vervaardig,” skryf hy.

In Captain Phillips (13G) speel Tom Hanks die kaptein van ’n Amerikaanse vragskip wat vier Somaliese seerowers aan die Afrika-kus kaap. Die regisseur is Paul Greengrass, wat bekend is vir sy boeiende aksietonele en die dokumentêre styl waarin hy ware gebeure herskep.

Die rolprent is feitlik deurgaans geloof, en die resensiewebtuistes Rotten Tomatoes en Metacritic het dit onderskeidelik 94 en 83 persent gegee. Eersgenoemde het dit beskryf as ’n “slim, ongelooflik intense rolprent met kragtige spel. Dit wys vir kykers hoe ’n goeie Hollywoodse biografiese rolprent behoort te wees, en gee Hanks ook die kans om nog ’n briljante vertolking te lewer.”

Die Britse fliektydskrifte Empire en Total Film het dit onderskeidelik vier en vyf sterre gegee. Dan Jolin van Empire skryf “Greengrass sowel as Hanks verdien pryse vir hierdie boeiende, emosioneel ingewikkelde en uiters intelligente dramatisering van ware gebeure”.

Ná haar rol in die drama The Perks of Being a Wallflower (2012), wat gunstig ontvang is, stel Emma Watson van Harry Potter-faam in The Bling Ring (16DT) weer haar veelsydigheid ten toon. In dié misdaadfliek speel sy ’n loskop-tiener van Los Angeles wat betrokke raak by ’n klasmaat se plan om bekendes se huis te beroof. Die regisseur, Sofia Coppola, is bekend vir haar ambivalente uitbeelding van bekendes en roemsugtiges se leë lewe, soos te sien in Lost in Translation (2003) en Somewhere (2010). Sy doen dit ook hier, en bekyk die vlak, bedorwe bestaan van jong mense wat behep is met glansmense.

Die rolprent is gemiddeld tot gunstig ontvang. Op Rotten Tomatoes en Metacritic het dit onderskeidelik 60 en 66 persent gekry. Eersgenoemde sê “hoewel dit die tydgees vasvang en pragtig verfilm is, delf die regisseur nie onder die oppervlak van die vlak hoofkarakters nie en die film ly daaronder”. James Berardinelli van ReelViews.net stem saam. Hy skryf: “Al die die karakters is vlak en eendimensioneel, en al kan ’n mens aanvoer dis juis die bedoeling, kan dit nie jou aandag ’n anderhalf uur boei nie.”

Ian Freer van Empire is beter gesind. Hy het dit vier sterre gegee en sê die rolprent se vloeibare moraliteit maak dit juis interessant.

Soos ’n mens uit die titel kan aflei, is Insidious: Chapter 2 (16G) die opvolg op die gruwelrolprent van 2010 waarin ’n demoon ’n voorstedelike egpaar se seun ontvoer na ’n ander dimensie. Pa Josh (Patrick Wilson) slaag daarin om hom te red, maar bring saam met hom iets uit die bonatuurlike wêreld terug. In hierdie rolprent vermoed sy vrou, Renai (Rose Byrne), iets skort. Sy probeer die geheim ontrafel uit hul kinderjare wat haar gesin aan die bonatuurlike blootstel.

Die fliek is oor die algemeen ongunstig ontvang en het net 38 persent op Rotten Tomatoes en 40 persent op Metacritic gekry. Eersgenoemde sê dit “skiet tekort aan die spanning en verrassings wat sy voorganger so skrikwekkend maak”. Andy Lea van die Daily Star kla “slim is nie dieselfde as vreesaanjaend nie. Dis die onverklaarbare, nie die oorverklaarde nie, wat jou koue rillings gee.” Mark Samuels van Total Film was ook nie beïndruk nie en het dit net twee sterre gegee. Hy skryf: “Jy sal skrik, hoewel die meeste van die spokerige goed baie afgesaag voel.”

Aan die ander kant gee Chris Hewitt van Empire dit vier sterre, en sê: “Dis heerlike, tong in die kies pret en sy voorganger se gelyke.”

– Sandra Visser