Dié week begin die Golden Globe-bekroonde 12 Years a Slave (18 V*G), wat gegrond is op die gelyknamige memoir deur Solomon Northup (Chiwetel Ejiofor), ’n vrygebore swart man van New York wat in 1841 ontvoer is en 12 jaar lank as ’n slaaf op ’n plantasie in Louisiana aangehou is. Die film se regisseur is die Britse kunstenaar Steve McQueen. Michael Fassbender, Benedict Cumberbatch en Brad Pitt speel onder andere daarin. Let net op, die ouderdomsbeperking is 18 en die fliek word as uiters gewelddadig beskryf.

Dié film ontvang wyd lof en kry 97 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, waarop kritici se resensies bymekaargetel en dan ’n gemiddelde punt gegee word. Die konsensus was “dis ver van gemaklike kykstof, maar 12 Years a Slave se onwrikbaar brutale blik op Amerikaanse slawerny is ook briljant en heel moontlik onmisbaar”.

Ian Freer van die Britse rolprenttydskrif Empire gee dit vier sterre en sê dis soos “’n geskiedenisles in die gedaante van ’n gruwelprent: kragtig, intens en aangrypend. Ná jare se uitstekende toneelspel in elke rol blink Ejiofor uit in ’n hoofrol wat ’n akteur met sy besonderse talent verdien.”

Die aksieheld Jack Ryan keer terug in die vyfde fliek gegrond op die skrywer Tom Clancy se boeke, Jack Ryan: Shadow Recruit (13 G). Dis egter nie ’n opvolg nie en begin die verhaal van voor af. Die Star Trek-ster Chris Pine neem oor as Ryan by Alec Baldwin, Harrison Ford en Ben Affleck, en die regisseur is Kenneth Branagh, wat ook die hoofskurk speel. Keira Knightley (Pirates of the Caribbean) en Kevin Costner (Robin Hood: Prince of Thieves) maak ook hul verskyning.

Die junior CIA-ontleder Jack Ryan kry bewyse van ’n beplande Russiese terreuraanval. Hy word bevorder tot ’n agent en na Moskou gestuur om meer uit te vind. Daar loop hy hom vas teen die enigmatiese sakeman Viktor Cherevin (Branagh), wat deel is van ’n sameswering om die wêreldekonomie te kelder.

Die film is nog nie wyd geresenseer nie, maar tot dusver gee Rotten Tomatoes dit 71 persent gegrond op sewe resensies. Andrew L. Urban van Urbancinefile.com skryf: “Te danke aan Kenneth se bekwame regie word die fliek se waagtoertjies, aksietonele en riller-elemente met styl uitgevoer en die tonele in Moskou is uitstekend.” Stephen Witty van die Newark Star-Ledger gee dit ’n B+ en beskryf dit as ’n “slim mengsel van die klassieke elemente van ’n spioenasiefliek”.

Delivery Man (7-9OT T) is nog ’n Vince Vaughn-komedie. Dié keer speel hy die gawe sukkelaar David Wozniak wat tot sy skok agterkom hy is die pa van 533 kinders vanweë die saad wat hy 20 jaar tevore geskenk het. Meer as honderd het met ’n hofsaak begin om uit te vind wie hul pa is. Terwyl hy worstel met die idee om sy identiteit te onthul en diep in die skuld is by die Mafia, sê sy swanger meisie, Colbie Smulders van How I Met Your Mother, hom ook nog af. Maar David se nuuskierigheid kry die oorhand en hy besluit om van die kinders te leer ken, sonder dat hy vir hulle sê hy is hul pa.

Die fliek het meestal gemengde reaksie by kritici ontlok en kry slegs 39 persent by Rotten Tomatoes en 44 uit 100 op Metacritic, wat nes eersgenoemde ’n gemiddelde punt uitwerk. James Berardinelli van Reelviews.net gee dit net een en ’n halwe ster en sê ’n mens kan dit nie juis ’n komedie noem nie, want dis nie snaaks nie. Hy voel ook Vince is verkeerd vir die rol omdat dit sy toneelspel se swak pleks van sterk punte benut.

Die Britse rolprenttydskrifte Empire en Total Film is meer tegemoetkomend; albei gee dit drie sterre. Laasgenoemde se James Mottram skryf: “Jy kan vergewe word as jy dink ’n komedie met Vince in die hoofrol as ’n saadskenkerpa van 533 kinders gaan platvloers, grootbek en vol vuil grappies wees, maar dit kan nie verder van die waarheid wees nie. Vince laat sy buffelagtige persona agter vir ’n meer saggeaarde een en daar’s genoeg skerp humor om die soetsappiger elemente te balanseer.”

Die draaiboekskrywer Diablo Cody (Juno, Young Adult) maak haar debuut as ’n regisseur met Paradise (10-12OT DT), ’n komiese drama oor die streng godsdienstige, 21-jarige Lamb Mannerheim (Julianne Hough van Rock of Ages). Sy begin aan haar geloof twyfel nadat sy tydens ’n vliegongeluk ernstige brandwonde opdoen. Sy besluit om haar dorpie in Montana te verlaat, te sien wat die sondige wêreld daarbuite inhou en kies koers Las Vegas toe. Daar raak sy bevriend met ’n kroegman (die Britse komediant Russell Brand) en ’n kaartgewer (Octavia Spencer van The Help) en hulle help haar om als te ondersoek en hopelik die goeie te behou.

Min kritici het nog dié fliek gesien, maar dié wat dit wel onder oë gehad het, het nie goed gereageer nie: Dit kry 35 uit 100 op Metacritic. Kyle Smith van die New York Post het dit twee sterre gegee en sê: “Diablo se gespot met Christene is lomp en lui, maar haar dialoog is dikwels snaaks en dié ongewone drieledige vriendskap is verfrissend.” Jeff Beck van Examiner.com gee dit twee uit vyf en beskryf dit as “alledaags en vergeetbaar, iets wat jy nie van Diablo op haar slegste dag verwag nie”.

- Sandra Visser