Ná verlede week se The Lego Movie is daar vandeesweek nog ’n genotvolle animasiefliek wat jonk en oud sal geniet. Mr Peabody & Sherman (OG) is gegrond op ’n Amerikaanse TV-reeks uit die 60’s. Mr Peabody (Ty Burrell van Modern Family se stem) is ’n hiperintelligente hond wat die weeskind Sherman (Max Charles) aanneem en ’n tydmasjien bou om hom oor geskiedenis te leer. Maar in ’n poging om wysneus klasmaat Penny (Modern Family se Ariel Winter) te beïndruk, vat Sherman haar saam op ’n tydreis en veroorsaak ’n kettingreaksie wat dreig om die belangrikste gebeure in die geskiedenis ongedaan te maak. Mr Peabody moet noodgedwonge ingryp en leer ook in die proses wat dit werklik beteken om ’n ouer te wees.

Die meeste resensente het die fliek geniet. Dit kry 78 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, waar die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaargetel en ’n gemiddelde uitgewerk word. “Al is die fliek op ’n verouderde bron gebaseer en het dit ’n redelike verstrengelde intrige, bied dit ’n verbasend vermaaklike kragtoer van kleurvolle pret vir alle ouderdomme,” bevind Rotten Tomatoes. Die Britse filmtydskrif Empire se Helen O’Hara gee dit drie sterre. “Die mal aksietonele het steeds die gevoel van ’n tekenprent wat vir die TV bedoel is, maar die grappies is skerp genoeg om ouers te vermaak terwyl jonger kykers sal wens ’n hond wil hulle ook aanneem,” skryf sy. Kofi Outlaw van screenrant.com gee dit ook drie sterre. “Mr Peabody & Sherman sal pret en selfs effens opvoedkundig wees vir kinders, en meestal skaflik vir ouers. Dit het ’n hart en ’n siel, maar is tweederangs in vergelyking met iets soos The Lego Movie,” sê hy.

Vir kunssinnige kykers is daar The Grand Budapest Hotel (13 TNG) van die eksentrieke regisseur Wes Anderson, bekend vir sy aweregse, sonderlinge flieks soos The Royal Tenenbaums (2001) en Moonrise Kingdom (2012). Dit vertel die verhaal van Gustave H. (Harry Potter se Lord Voldemort, Ralph Fiennes), die legendariese concierge by ’n bekende Europese hotel tussen die Eerste en Tweede Wêreldoorloë, en Zero Moustafa (Tony Revolori), ’n jong portier wat Gustave se getroue vriend word.

Die meerderheid resensente is mal oor die fliek. Dit kry 91 persent op Rotten Tomatoes en 87 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as eersgenoemde werk. Rotten Tomatoes bevind dat Wes op ’n “tipies stylvolle manier weereens sierlike milieus gebruik om diep emosionele idees te ondersoek”. Emma Morgan van Total Film gee dit vier sterre. “Diegene wat Anderson se werk as aansitterig, pretensieus en te idiosinkraties beskou, sal nie hul opinie verander nie, maar aanhangers sal voel hul held is op sy stukke met dié fliek,” skryf sy. Cameron Meier van die Orlando Weekly is ’n bietjie minder opgemaak met die fliek en gee dit drie sterre. Hy beskryf dit as “styl verhewe bo substansie, maar soos gewoonlik met Anderson, is styl genoeg”.

Die draaiboekskrywers van die pynlik eerlike romantiese komediedrama (500) Days of Summer (2009) sit ook agter The Spectacular Now (16 TSG), wat vertel hoe die losbol tiener Sutter (Footloose se Miles Teller) verlief raak op die slimkop-bleeksiel Aimee (Shailene Woodley van The Descendants), wat mettertyd sy siening van die lewe verander.

Kritici is gaande oor dié fliek: dit kry 92 persent op Rotten Tomatoes, waar dit beskryf word as “ ’n knap, sensitiewe film wat die tipiese slaggate van grootwordverhale vermy”. Andrea Gronvall van die chicagoreader.com sê dis “genuanseerd en onsentimenteel. Miles blink uit as die sjarmante matriekseun met min ambisie en Shailene is hartverskeurend as die naïewe muurblom.” Christopher Runyon van moviemezzanine.com gee dit ’n A-. “Soos baie van die beste grootwordverhale, en omdat die storie oorbekend is, is die sleutel tot The Spectacular Now se sukses die fliek se insig en empatie, en fantastiese toneelspel van al die akteurs,” skryf hy.

Noudat die gewilde TV-reeks Breaking Bad tot ’n einde gekom het, vertolk een van dié program se sterre, Aaron Paul, sy eerste hoofrol in Need for Speed (10-12OT), wat gebaseer is op die bekende videospeletjie met dieselfde naam. In ’n poging om sy sukkelende garage te red stem die motorwerktuigkundige Tobey (Paul) in om saam met die arrogante voormalige NASCAR-bestuurder Dino (Dominic Cooper van Mamma Mia!) deel te neem aan ’n straatresies. Maar toe Dino die dood van Tobey se vriend Little Pete (Harrison Gilbertson) veroorsaak, laat hy Tobey na die skuldige lyk en gaan Tobey tronk toe. Ná twee jaar in die tjoekie soek Tobey wraak op Dino. Hy kry sy kans toe hulle albei inskryf vir ’n motorresies wat oor die hele Amerika strek.

Die meeste kritici het niks van die fliek gehou nie. Dit behaal 23 persent op Rotten Tomatoes, met die konsensus: “As gevolg van geykte karakters en ’n belaglike intrige, vervul hierdie lawaaierige fliek ’n begeerte vir spoed en niks meer nie.” Britse filmtydskrifte Empire en Total Film gee dit albei twee sterre. Eersgenoemde se James Dyer noem dit “ ’n teleurstellende misstap vir ’n akteur met Paul se potensiaal. Die probleem is nie soseer dat Need for Speed onnosel is nie, maar dat dit daarin misluk om die toertjie te bemeester wat die Fast and the Furious-reeks lankal onder die knie het: dit maak die onnoselheid pret.” Total Film se James Mottram skryf: “Die motors is sexy, die aksie skaflik, maar die karakters en intrige se enjins benodig ’n deeglike opknap.”

Die Brit Dominic Cooper is ’n talentvolle akteur met oorgenoeg charisma, maar dit blyk hy kies net keer op keer die verkeerde fliek. Behalwe bogenoemde is hy vandeesweek ook te sien in Reasonable Doubt (13 TG), ’n misdaadriller waarin hy ook iemand doodry. Dominic speel ’n jong Amerikaanse staatsaanklaer, Mitch Brockden, wat die toneel verlaat nadat hy iemand omgery het. Sy gewete pla hom en hy manipuleer die verhoor sodat Clinton Davis (Samuel L. Jackson van Pulp Fiction), die man wat by die lyk gevind is en van moord aangekla word, loskom. Maar gou besef Mitch dat Davis ’n donker geheim het wat sy lewe kan vernietig.

Die fliek is nog nie wyd geresenseer nie, maar gebaseer op die resensies van vyf kritici kry dit 19 uit 100 op Metacritic. Stephen Whitty van nj.com gee dit twee en ’n half sterre en skryf: “Cooper en Jackson is albei skaflik in hul rolle, maar die draaiboekskrywer is so behep daarmee om kinkels by te voeg dat die fliek uit voeling raak met die karakters. Cooper en Jackson se karakters ontwikkel nooit werklik nie en die fliek storm voort na ’n maklike, gewelddadige oplossing.”

The Single Moms Club (7-9OT) is nog ’n goedvoel-komediedrama wat lewenslesse bied uit die pen van die regisseur/draaiboekskrywer Tyler Perry (Why Did I Get Married, Madea’s Family Reunion). Vyf sukkelende enkelma’s (Nia Long, Amy Smart, Wendi McLendon-Covey, Zulay Henao en Cocoa Brown) met uiteenlopende agtergronde oorkom hul verskille en stig ’n ondersteuningsgroep.

Dié fliek is ook nog nie deur baie kritici gesien nie, maar dié wat dit wel onder oë gehad het, was nie veel beïndruk nie. Dit kry 30 uit 100 op Metacritic gebaseer op 15 kritici se resensies. Chris Nashawaty van Entertainment Weekly gee dit ’n C+ en skryf: “Soos met die meeste van sy flieks is subtiliteit nie Perry se sterkpunt nie. Hy is geneig om sy gehoor oor die kop te slaan met sentimentaliteit, lui stereotipes en eenvoudige goedvoel-oomblikke. Tog is dit moeilik om te stry met die fliek se boodskap dat vroue moet saamstaan, al ondermyn Perry sy eie goeie bedoelinge deurdat al die dames die regte man vind. As vroue dinge nou vir hulself kan doen, hoekom kan nie een van hulle dit sonder ’n man doen nie?”

Sandra Visser