Twee Suid-Afrikaanse flieks word vandeesweek uitgereik. Vrou Soek Boer (OT) is ’n Afrikaanse romantiese komedie met Lika Berning (Liefling) in die hoofrol as die stadsmeisie Mareike Viljoen, wat as gevolg van haar rampspoedige loopbaan en liefdeslewe besluit om na die platteland te verhuis. Sy het ’n bakkery by haar oorlede tante geëerf en onder leiding van Tannie Bettie (Molly en Wors se Marga van Rooy) leer sy bak. Mareike stamp kort-kort kop met die boer Neil (Nico Panagio van Semi-soet). Sy ontmoet ook Stander (Bok van Blerk van As Jy Sing), wat dink sy is die ideale vrou vir hom, maar is hy die regte een vir haar?

Kyk die lokprent hier:

Amanda de Lange van Die Burger gee die fliek drie sterre en skryf dat hoewel die fliek die romantiesekomedie-resep volg, slaag die draaiboekskrywer Jacomien Bezuidenhout ook daarin om die storie op ’n vars en oorspronklike manier te vertel. Amanda meen “die karakters is meestal geloofwaardig, behalwe vir Bok se Stander. Jy kan eenvoudig net nie vat kry aan hom nie en hy kom dikwels effe ongeloofwaardig en stokkerig oor.” Die regisseur Maynard Kraak se fliek is ’n knap eerste poging, maar sou “kon doen met effens knapper redigering”, want party “dele hou net te lank aan”.

Daarteenoor gee die Cape Times se Steyn du Toit die fliek slegs twee sterre. Hy verduidelik nie hoekom hy dié punt toeken nie, en loof tog die akteurs se toneelspel. “Jy hou sommer van Lika, en sy verleen ’n wonderlike fisieke teenwoordigheid aan haar vertolking, wat dikwels werklik snaakse tonele tot gevolg het,” skryf hy. “Dis ’n vreugde om na Van Rooy te kyk en Panagio en Van Blerk lewer goeie spel.”

Omstredenhein en oorheersend swak resensies het moontlik veroorsaak dat Winnie Mandela (TVG) eers nou in Suid-Afrika uitgereik word, nadat dit al in 2011 by die internasionale filmfees in Toronto vertoon is. Die Oscar-bekroonde Amerikaanse aktrise Jennifer Hudson (Dreamgirls) vertolk die titelrol in hierdie biografiese rolprent, wat kyk na die lewe van dié aktivis en politikus. Terrence Howard (Iron Man) speel Nelson Mandela en die regisseur is Darrell Roodt (Yesterday en Little One). Winnie het die vervaardigers gekritiseer omdat hulle haar geensins geraadpleeg het oor die fliek nie, en ’n paar Suid-Afrikaanse akteurs was ook ontevrede dat die fliek geen plaaslike akteurs in sleutelrolle gebruik het nie.

Daarby het die fliek ook onder die kritici deurgeloop. Dit kry slegs 15 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, waar die punte wat kritici aan flieks toeken bymekaargetel en ’n gemiddelde bepaal word. Die konsensus is dat “Winnie Mandela min kanse vat en slegs oppervlakkig in die onderwerp se lewe delf, wat dit meer soos ’n te opregte TV-fliek laat voel, eerder as ’n behoorlike biografiese rolprent”. Claudia Puig van USAToday gee dit twee uit vier sterre en sê dat “hierdie oppervlakkige en dubbelsinninge verhaal min insig bied oor wat Winnie Mandela gemotiveer het”.

Alonso Duralde van Thewrap.com is een van die min resensente wat positief op die fliek reageer. “Dit sou voordelig gewees het as Roodt so gewaagd was met sy verteltegnieke as wat hy is met sy insluiting van die titelkarakter se minder aangename oomblikke,” skryf hy. “Maar die fliek se sterk punte, veral die twee hoofakteurs se toneelspel, weeg veel swaarder as die tekortkominge.”

300: Rise of an Empire (16 SG) is die opvolg op die aksiebelaaide 300 (2006), wat gehandel het oor die 300 Spartaanse vegters onder leiding van Koning Leonidas (Gerard Butler), wat in 480 v.C. hul lewe opgeoffer het om Persië se inval in Griekeland te stuit deur die Persiërs by die bergpas van Thermopylae af te weer. Tydens die veldslag van Thermopylae het die Grieke ook saamgestaan om die Persiërs se inval by die seestraat van Artemisium te blokkeer, en dis hierdie gebeure wat in 300: Rise of an Empire uitgebeeld word. Die Atheense generaal Themistokles (die Australiese akteur Sullivan Stapleton) poog om die Grieke te verenig teen die invallers onder leiding van Artemisia (Casino Royale se Eva Green), die wraaksugtige bevelvoerder van die Persiese armada.

Die fliek het gemengde reaksie ontlok. Dit kry 48 uit 100 op Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en op laasgenoemde sak die puntetelling tot 45 persent. Die konsensus is dat “party kykers dit as ’n leë uitbeelding van stylvolle geweld sal ervaar, maar te danke aan Green se eksentrieke vertolking is 300: Rise of an Empire blêrrie lekker”.

Die Britse fliektydskrifte Empire en Total Film was meer positief en gee dit albei drie sterre. Eersgenoemde se Simon Crook skryf: “Dit is 300 in die oortreffende trap. Die flou dialoog is die fliek se Achilleshiel, maar dié oordrewe, bebloede opera verskaf vele plesier.”

“Daar is ’n reuse Gerard Butler-vormige leemte in die middel van die fliek, waar ’n hoofspeler behoort te wees,” skryf Total Film se Neil Smith. “Die Australiese vleispaleis Stapleton is ’n leë dop sonder charisma, wat lag-lag deur Green oorheers word, en dit voel asof ons met die B-span tevrede moet wees. Hierdie fliek is net so gewelddadig soos die eerste fliek, maar meer konvensioneel. Tog bied dit genoeg opwinding en Green keer dat dit sink.”

Die bekroonde kunssinnige Chinese regisseur Wong Kar Wai (In the Mood for Love, My Blueberry Nights) is aan die stuur van sake met The Grandmaster (13 G), ’n biografiese drama wat handel oor die lewe van die legendariese gevegskunsmeester Ip Man (Tony Leung van Hero), wat onder andere vir Bruce Lee opgelei het.

Die fliek is wyd geloof. Dit kry 72 uit 100 op Metacritic en 75 persent op Rotten Tomatoes, wat sê “al is die vertelstyl ietwat deurmekaar, kom die regisseur se flambojante styl deur in die pragtige beelde en opwindende aksietonele”. Peter Travers van Rolling Stone gee dit drie sterre. “Die fliek is 22 minute korter gemaak vir Westerse gehore; daarom is dit dikwels onsamehangend, maar die aksie en verruklike romanse is verbysterend,” skryf Peter.

Clarence Tsui van The Hollywood Reporter beskryf dit as “ ’n briljante mengsel van besielende aksie-choreografie en onderdrukte emosies, maar dit kon doen met ’n minder wisselvallige stemming en meer karakterontwikkeling”.

In die komedie The To Do List (16 TS) wil die hoërskool-slimkop Brandy Klark (Aubrey Plaza van die TV-reeks Parks and Recreation) ontslae raak van haar beeld as ’n ordentlike, vervelige meisie wat altyd die regte ding doen. Sy maak ’n lys van al die dinge waarop sy uitgemis het en besluit om haar maagdelikheid te verloor voor sy universiteit toe gaan, maar dis makliker gesê as gedaan.

Die meeste resensente het nie van die fliek gehou nie. Dit kry 52 persent op Rotten Tomatoes en hulle sê “aangesien The To Do List op so ’n gewaagde idee gebasseer is, speel die vervaardigers teleurstellend veilig, maar die skrywer en regisseur Maggie Carey se bekwame leiding en Plaza se toneelspel laat jou aanhou lag”.

Empire se Olly Richards is minder beïndruk en gee dit twee sterre. “Daar is ’n onsekere gevoel aan Carey se debuut,” skryf hy. “Dis onduidelik wat Brandy se soektog veronderstel is om uit te beeld: feministiese bemagtiging of die sameleweing se druk om losbandig te wees? Daarom is die einde verwarrend en onbevredigend.”

Mick LaSalle van die San Francisco Chronicle is nog negatiewer en beskryf die fliek as “veragtelik en nie snaaks nie”. “The To Do List is ’n romantiese komedie meet geen romanse en min komedie, maar eerder ’n ongenadige, wrede houding,” skryf hy. “Amper almal in die fliek is gemeen, selfsugtig en hatig, soos Brandy se ouer suster, wat Brandy vir haar maagdelikheid skrobbeer met die minagting wat die Romeine eens op ’n tyd vir melaatses gehad het.”

Sandra Visser