Daar is ’n hutspot van flieks hierdie week, maar nie een het skitterende resensies ontvang nie.

Jane Austen-aanhangers behoort Austenland (ouderdomsperk nog onbekend) te geniet. Dis ’n romantiese komedie oor Jane (Keri Russell van die TV-reeks Felicity), ’n lewenslange Jane Austen-liefhebber. Toe haar kêrel haar los, besoek sy ’n eksentrieke Britse temapark wat op die skryfster se boeke gegrond is. Hier ontmoet sy twee mans – die sjarmante Henry Nobley (JJ Feild van Captain America: The First Avenger), wat net sowel haar eie mnr. Darcy kan wees, en die vriendelike plaaswerker Martin (Bret McKenzie van die TV-reeks Flight of the Conchords). Watter een is mnr. Reg?

Die rolprent het grootliks negatiewe resensies gekry. Die resensiewebtuistes Rotten Tomatoes en Metacritic het onderskeidelik 32 en 42 persent daaraan toegeken. Eersgenoemde sê: “Ten spyte van ’n boeiende verhaal en goeie spel van talentvolle spelers, gaan Austenland gebuk onder uitgediende rom-kom-clichés en simpel grappies.”

Ian Freer van die Britse rolprenttydskrif Empire was ’n bietjie meer tegemoetkomend en het dit drie sterre gegee. Hy skryf: “Dit het ’n netjiese storielyn, ’n klompie slim grappe en Russell as ’n oulike heldin, maar wat nie daar is nie, is ’n ligte aanslag, skerp satire en emosionele trefkrag – al die dinge wat Austen so goed doen.”

Emma Johnston van die Britse rolprenttydskrif Total Film was nie so gaaf nie en het dit twee sterre gegee. Sy sê dis “te min gevat om ’n behoorlike komedie te wees en te sjarmeloos om ’n parodie te noem. Die morsige verwerking van Shannon Hale se roman kreun onder die gewig van ’n voorspelbare intrige en oordrewe spel.”

Dis moeilik om te glo, maar die rolprent wat hierdie week die beste ontvang is, is Jackass Presents: Bad Grandpa (16TNS). Dit volg op die Jackass-reeks oor ekstreme rolprentwaagtoertjies. Die Jackass-voorbok, Johnny Knoxville, vermom hom as ’n knorrige ou man wat saam met sy kleinseun (Jackson Nicoll) deur die land reis en niksvermoedende mense poetse bak.

Die rolprent het gemiddelde tot positiewe resensies gekry, met onderskeidelik 54 en 63 persent van Metacritic en Rotten Tomatoes. Laasgenoemde se beslissing was, hoewel dit “nooit heeltemal so snaaks is soos dit wil wees nie, bied Jackass Presents: Bad Grandpa kykers nogtans die tydlose plesier van sien hoe ’n ou man se privaat dele in ’n muntstukmasjien vassit”.

Simon Crook van Empire het dit drie sterre gegee. Hy skryf: “Die poetse is makker as gewoonlik, maar nie minder verfrissend nie. Onvermydelik dun om die lyf, maar wanneer dit tref, is dit skreeusnaaks – en Knoxville is fantasties.” Total Film was weer minder beïndruk en die resensent James Mottram het dit net twee sterre gegee. Hy skryf die “meeste van die grappe val platter as ’n Knoxville-penshou”.

Hoewel hy ’n Franse regisseur is, kan Luc Besson se woeste aksiefilms kwalik verder verwyderd wees van die stereotiepe Franse rolprent, waarin koel, lewensmoeë jong mense aan sigarette teug en oor die betekenis van die lewe besin. Sy nuwe rolprent, The Family (16TG), is ’n aksiebelaaide komedie oor ’n Mafia-baas en sy gesin. Hulle word hervestig op ’n slaperige Franse dorpie nadat hulle teen die Mafia getuig het. Ten spyte van die FBI-agent Robert Stansfield (Tommy Lee Jones van Men in Black) se pogings om hulle in toom te hou, keer Fred Manzoni (Robert de Niro), sy vrou, Maggie (Michelle Pfeiffer) en hul kinders, Belle (Dianna Agron van Glee) en Warren (John D’Leo van Wanderlust), terug na hul ou gewoontes en gee hulself weg.

Die rolprent is meestal negatief ontvang. Rotten Tomatoes en Metacritic het dit onderskeidelik 33 en 44 persent gegee. Rotten Tomatoes sê dit “het ’n oorbekende plot en ’n klompie steurende toonskuiwe”. Simon Weaving van Screenwize.com noem dit “’n humorlose satire wat vou onder die druk van betekenislose geweld en ’n dwalende, onaantreklike storielyn”.

Robert de Niro speel in nog ’n nuwe fliek, Killing Season (16GGr). Hy vertolk die rol van ’n Amerikaanse weermagveteraan wat diep in die Appalachiese Gebergte ’n kluisenaarslewe voer. Toe hy ’n Bosniese toeris en jagter (John Travolta) raakloop, dink hy dis ’n goeie geleentheid vir geselskap. Maar sy gas is nie wat hy voorgee om te wees nie.

De Niro en Travolta is vroeër as swaargewig-akteurs beskou, maar hul spel was in ’n string mislukkings so lusteloos dat dit hul reputasie skade berokken het. So ook in hierdie rolprent. Dis nog nie wyd geresenseer nie, maar die meeste kritici was baie negatief daaroor. Peter Sobczynski van Rogerebert.com het dit goed sleggesê en dit net ’n halwe ster toegeken. Hy beskryf dit as “sleg geskryf, onbeholpe aangebied, aaklig vertolk, histories verdag en ongelooflik vervelig”. Marshall Fine van Hollywoodandfine.com het sy resensie afgesluit met: “Om hierdie rolprent ’n kat-en-muis-spel te noem sal katte en knaagdiere beledig, wat albei baie slimmer is as hierdie fliek.”

Closed Circuit (10-12OTG) is ’n riller waarin Eric Bana (Troy) en Rebecca Hall (Vicky Cristina Barcelona) die rolle van die prokureurs Martin Rose en Claudia Simmons-Howe vertolk. Hulle moet ’n vermeende terroris verdedig wat ’n bomaanval in Londen gereël het. Terwyl hulle wegsteek dat hulle minnaars was, begin Martin en Claudia besef iets word toegesmeer en hulle probeer uitvind wat aangaan.

Die rolprent is meestal negatief ontvang, en het onderskeidelik 51 en 40 persent by Metacritic en Rotten Tomatoes gekry. Laasgenoemde sê hoewel dit “afgerond is en die toneelspel goed is, bereik Closed Circuit nooit sy volle potensiaal nie”. Boonop is die “intrige afwisselend voorspelbaar en vol gate”.

Ian Nathan van Empire het dit twee sterre gegee en as moeisaam en vreugdeloos beskryf. Stephen Kelly van Total Film was effens meer positief. Hy het dit drie sterre gegee en gesê dis ’n “stadige, goedvertolkte riller wat net aan die einde in die steek gelaat word”.

Sandra Visser