Nóg ’n bonatuurlike tienerroman, wat vir die silwerdoek aangepas is, word dié week uitgereik. Die vervaardigers van The Moral Instruments: City of Bones (13V) hoop seker dis ewe suksesvol as die Twilight-reeks. Lily Collins (Mirror Mirror) vertolk die rol van Clary Fray, ’n doodgewone tiener wat in New York woon, wie se lewe handomkeer verander wanneer sy – en niemand anders nie – sien hoe Jace (Jamie Campbell Bower van The Twilight Saga: New Moon) ’n moord pleeg. Eintlik is hy net ’n Shadowhunter – afstammelinge van engele, wat die res van die wêreld teen demone en ander monsters beskerm.

Hoewel die boeke ou mites, soos vampiere en weerwolwe, nuwe lewe gee, klink dit asof die rolprent se vervaardigers minder suksesvol was om dit op die silwerdoek te verwesenlik omdat dit meestal slegte kritiek ontlok het. Kritici op die fliekwebtuistes Rotten Tomatoes en Metacritic het dit onderskeidelik 12 en 33 persent gegee; die algemene mening van kritici op die eersgenoemde was dat die rolprent “bestanddele leen uit elke ander fantasie-rolprentreeks van die afgelope 30 jaar, maar nie eintlik enigiets met dié bestanddele uitrig nie”.

Die Britse rolprenttydskrif Empire se Helen O’Hara het dit twee sterre gegee en skryf: “Dit lyk blykbaar nie asof die rolprent sy eie mitologie ernstig opneem nie; dis ’n gemors met hoë wangbene en onsamehangende romanse.” Baie aanhangers was ook nie ten gunste daarvan om Bower in die hoofrol te sien nie.

Denzel Washington wys sy ligter sy in 2 Guns (16 LNV), sy eerste komedie die afgelope amper 20 jaar. Die Oscar-bekroonde akteur is saam met Mark Wahlberg in die hoofrolle; dié twee speel skelm, geheime wetstoepassers, Washington ’n DEA-agent en Wahlberg ’n vlootoffisier , wat mekaar onbewustelik ondersoek ná hulle albei geld van bendes gesteel het.

Die rolprent het meestal goeie terugvoer gekry: Rotten Tomatoes het dit 63 persent gegee; hoewel die algemene opvatting is dat dit “ou deuntjie fluit en by tye nogal gewelddadig is, berus die trekkrag van die rolprent op die interaksie tussen die charismatiese sterre, wat goed saamwerk”. Empire se Neil Alcock het dit drie sterre gegee en gesê dat dit “herinner aan die ‘buddy movies’ van die laat 1980s en 1990s”; hy’t dit ook beskryf as ’n “bekwaam geredigeerde maar vergeetlike aksiekomedie met baie sjarme”.

As jy op soek is na ’n plaaslike rolprent om te ondersteun, gaan kyk Felix (PG) – ’n drama oor ’n 13-jarige seun (Hlanyani Junior Mbasa), wat in die onderdorp woon, maar in ’n elite Engelstalige kosskool skoolgaan. Hy droom daarvan om nes sy pa saksofoon te speel, maar sy ma is heeltemal daarteen gekant. Boonop lê hy ’n oudisie af vir die skoolkonsert, maar haal nie die paal nie omdat hy nie bladmusiek kan lees nie. Tog kry hy hulp by sy pa se ou musiekvriende – en met sy deursettingsvermoë is hy tog die een wat laaste lag.

Die plaaslike rolprentkritikus Leon van Nierop het die rolprent drie sterre gegee en gesê dis ’n “koel, opgewekte en borrelende kinderrolprent”. Hy’t dit beskryf as pret sonder die rolprentreeks Spud se “gewaagde grappe”.

The Way Way Back (10-12PG L) is ’n drama wat handel oor die 14-jarige Duncan (Liam James), wat tydens ’n somervakansie saam met sy ma (Toni Collette van Little Miss Sunshine) en haar hoogmoedige kêrel (Steve Carell van Crazy Stupid Love) na ’n kusoord gaan. Hoewel hy verwag om ’n ellendige vakansie te hê, raak dit net beter toe hy sy eerste werk kry en ook op ’n meisie verlief raak.

Die rolprent het meestal goeie kritiek ontlok. Metacritic het dit 67 persent gegee en Rotten Tomatoes 85 persent. Hoewel kritici dink dit handel oor ou temas, “maak The Way Way Back gebruik van ’n talentvolle rolverdeling, interessante teks en ’n oorvloed van sjarme, wat ’n snaakse, bevredigende verhaal vertel”.

Empire en die Britse rolprenttydskrif Total Film het dit albei vier sterre gegee, met eersgenoemde se Olly Richard wat skryf: “Duncan se probleme is nie so erg nie, maar dis hoekom die rolprent vir amper almal genotvol sal wees. Dit gaan nie oor die oorkoming van trauma en om net met jou lewe aan te gaan nie; dit gaan daaroor om bo die lewe se ergernisse uit te troon.” The Observer se Philip French het dit beskryf as ’n rolprent wat nie subtiel is nie, “maar eerlik, intelligent en baie snaaks”.

Grand Masti (die ouderdomsbeperking sal nog bekendgemaak word) – wat beteken “groot pret of kattekwaad” – is ’n Bollywood-komedie,  die opvolg is van die 2004-treffer Masti. Drie getroude mans (Vivek Oberoi, Aftab Shivdasani en Riteish Dushmukh) besluit om op hul universiteitsreünie omtrent makietie te hou, maar bevind hulle kort voor lank in groot moeilikheid.

Die rolprent het gemengde reaksie ontlok. Taran Adarsh van bollywoodhungama.com het dit drie en ’n half sterre gegee en gesê dat “’n rolprent soos dié nie deur die intrige gedryf word nie. Dis meer oor dubbelsinnigheid, seksuele woordspelings en grappe. Dit laat niks aan die verbeelding oor nie. Dis net vir mense wat hou van stoute grappe en skandalige teks en prente”.

Ander kritici het dit nog erger beoordeel. Abhishek Mande van rediff.com het dit nul sterre gee, en sê dit is “ondraaglik en aanstootlik”; “die manlike chauvinistiese wêreldbeskouing dat alle vrou gewillig is, dat mans honger is vir seks omdat hulle dit nie by hul vrou kry nie, dat eggenote wat suksesvoller is as hul mans, altyd gemeen moet wees, is presies die beskouings waarvan vroue in Indië die slagoffer is.”

Sandra Visser