Iets wat die jongspan behoort te geniet, is die tekenprent Home (O). Die oulike maar lafhartige buiteruimtelike wesens die Boov neem die aarde oor om weg te kruip vir hul vyand, die Gorg, en verskuif die mensdom na die planeet se dorre streke. Net ’n tiener, Tip (die sangeres Rihanna se stem), ontsnap en probeer haar ma, Lucy (Jennifer Lopez), opspoor. Op haar soektog maak sy vriende met Oh (The Big Bang Theory se Jim Parsons), wat deur die ander Boov verafsku word omdat hy per ongelukkig vir die Gorg laat weet het waar hulle skuil.

'Kleurryk, laf en absoluut heilsaam.'

Die meeste resensente dink die fliek is maar flouerig. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat kritici aan flieks toeken, en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 42 persent. Hulle beskryf die fliek as “kleurryk, laf en absoluut heilsaam. Home is gangbare afleiding, maar daar is geen tekort aan beter animasieprente nie.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Ali Plumb gee dit twee sterre. “Ten spyte van die dolle pas, ’n oulike kat, Pig, en die frenetiese pogings van Steve Martin as Oh se verwaande baas, sal hierdie silwerdoek-opwipboek ’n mens nie lank bybly nie. Dis nader aan Dreamworks se tweederangse Shark Tale (2004) as hulle uitstekende How to Train Your Dragon (2010) wat kykbaarheid betref.” Benewens haar stemwerk in Home is popster Jennifer Lopez ook dié week betrokke by die riller The Boy Next Door (16TSNGr). Sy speel ’n hoërskoolonderwyseres, Claire Petersen, wat haar man (John Corbett van die TV-reeks Sex and the City) hul huis belet het nadat hy haar verneuk het. Dan trek die aantreklike tiener Noah (Step up Revolution se Ryan Guzman) langsaan in en dit wat as ’n ligte flirtasie begin, word gou ’n vuurwarm affair. Maar toe Claire eindelik tot haar sinne kom en halt probeer roep, wil Noah niks weet nie en raak sy gedrag ál gevaarliker en obsessiewer.

'Lui, goedkoop en minder pret as wat dit behoort te wees nie.'

Die meeste resensente dink die fliek is vrot. Dit kry 30 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en net 11 persent by laasgenoemde, wat bevind: “The Boy Next Door sal aanhangers van bekruiper-rillers dalk ’n paar opwindende oomblikke bied, maar vir die meeste kykers sal dit nie eens in die “dis so sleg, dis goed” kategorie val nie.

Time Out New York se Tom Huddleston gee dit twee sterre en beskryf dit as “lui, goedkoop en minder pret as wat dit behoort te wees nie”.

As jy nog nie moeg is vir Al Pacino (The Godfather) nie, kan jy Danny Collins (13DT) aandurf. Hy speel die titelrol van ’n rockster wat in die 1970’s ’n groot ster was, maar nou afgeleef is en steeds geld maak deur sy ou musiek op te voer.

Toe sy bestuurder (Christopher Plummer van The Sound of Music) ’n 40 jaar oue, onafgelewerde brief van John Lennon aan Danny vind en dit lees, spoor dit hom aan om sy lewe te verander. Hy besluit om weer musiek te skryf en probeer kontak maak met sy vervreemde seun (Bobby Cannavale van die TV-reeks Boardwalk Empire). Annette Bening (American Beauty) en Jennifer Garner (die TV-reeks Alias) is ook onder die rolverdeling. Die meeste kritici is dit eens dat dit ’n goeie fliek is. Dit kry 70 persent op Rotten Tomatoes en die konsensus is: “Danny Collins bevat van Al se beste laatperiode-werk en ’n goeie ondersteunende rolverdeling. Ongelukkig bereik die fliek net nie sy volle potensiaal nie.”

'Die fliek probeer nie om iets nuuts te doen nie.'

Rolling Stone se Peter Travers is meer geneë en gee dit drie uit vier sterre.

“Die fliek probeer nie om iets nuuts te doen nie, maar die top akteurs se uitstekende spel gee betekenis aan die intrige. Cannavale gee diepte aan die verwytende seun en Pacino is onweerstaanbaar. Hierdie opgeruimde en opregte fliek is ’n uitbundige geskenk.”

Vir gruwel-aanhangers is daar The Lazarus Effect (13G). Mark Duplass en Olivia Wilde (Tron: Legacy) speel wetenskaplikes wat eksperimente uitvoer om dooies weer te laat leef. Hulle kry dit reg om ’n breindood hond weer lewendig te maak, maar ná ’n ongeluk in die laboratorium probeer Mark vir Olivia terugbring. En soos ons al meermale gesien het, is dit nooit ’n goeie idee nie.

Resensente het nie veel ooghare vir dié fliek nie. Dit kry net 31 uit 100 by Metacritic en 14 persent op Rotten Tomatoes, wat bevind: “The Lazarus Effect het talentvolle akteurs en ’n sweempie van ’n interessante idee, maar vermors dit op banale karakters en ’n vervelige, geykte intrige.”

Entertainment Weekly se Keith Staskiewicz gee dit ’n C-.

“Kyk ’n mens na die rolverdeling, verwag jy ’n slimmer, ongewoner fliek,” skryf hy. “Maar pleks daarvan om die intrige te bou rondom die kiem van ’n interessante bespreking van wetenskap teenoor geloof, stoot die vervaardigers dit eenkant en word dit net nog ’n gruwelfliek met flikkerende ligte en goed wat uit die donker spring om jou skrik te maak. Ek wens die vervaardigers het meer gewaag.”

As jy op soek is na iets met meer om die lyf, kan jy Rosewater (13TG) beproef. Dis op ware gebeure gegrond en handel oor die joernalis Maziar Bahari (Gael García Bernal van The Motorcycle Diaries) wat in 2009 118 dae lank in Iran gevangene gehou is. Hy is deurgaans geblinddoek en ken sy hoofteenstander (Kim Bodnia) net uit omdat die man rooswater gebruik om homself te laaf in die hitte.

Die kritici dink dis ’n baie goeie fliek. Dit kry 75 persent by Rotten Tomatoes, wat dit beskryf as “aktueel en onbeskaamd opreg met goeie toneelspel. Rosewater is ’n indrukwekkende debuut van Jon Stewart”, wat bekend is vir sy satiriese program, The Daily Show. James Berardinelli van reelviews.net gee dit drie uit vier sterre. “Die meeste kykers stel nie daarin belang om ’n fliek te kyk oor ’n man wat in ’n Iranse tronk gemartel word nie,” skryf hy.

'Stewart hou die stemming verbasend lig.'

“Stewart hou die stemming verbasend lig en beperk die liggaamlike geweld, maar dit bly ’n onaantreklike onderwerp. Dis ook nie gewigtig genoeg vir Oscars-erkenning nie. Daar is ’n paar ligpunte, maar dis ’n gemiddelde fliek wat nie genoeg doen om homself te onderskei in enige van die Oscars se belangrikste kategorieë nie. Rosewater het ook nie lokettreffer-potensiaal nie, maar dis vermaakliker as wat ’n mens sou verwag en laat jou met ’n onuitwisbare indruk van die Iranse regstelsel – ’n geval van die pasiënte wat die inrigting beheer.”

Die komediant Chris Rock is die regisseur en ster van Top Five (18DTNS). Chris speel ’n suksesvolle komediant wat moeg is vir sy beroep en hoop om ’n rol in ’n drama los te slaan sodat mense hom ernstig sal opneem.

Hy stem in om ’n onderhoud te voer met ’n joernalis (Rosario Dawson van Sin City) en haar indringende vrae veroorsaak dat hy ’n verlede konfronteer wat hy liewer sou wou vergeet.

Die meeste resensente is baie beïndruk deur die fliek. Metacritic gee dit 81 uit 100 en by Rotten Tomatoes kry dit 88 persent. Hulle beskryf dit as “so skerp, snaaks en bytend as Chris se beste skerpskertserwerk. Top Five is ’n loopbaanhoogtepunt vir hom en een van vanjaar se beste komedies.”

Jim Schembri van 3aw.com.au stem glad nie saam nie en gee dit een en ’n half sterre. “Al is hy een van Amerika se progressiefste en mees gewaagde skerpskertsers, is Chris ’n middelmatige regisseur,” skryf hy.

“Gegewe hoe insiggewend, konfronterend en uitdagend sy eenmanvertonings is, is dit teleurstellend hoe mak hy raak sodra hy agter die kamera is. Hy is ’n groot aanhanger van Woody Allen en Jerry Lewis, maar sy pogings om hulle pas en styl na te aap, val plat. Dis ’n deurmekaar en vergeetbare fliek.”

Sandra Visser