Die grootste hoofstroomfliek vandeesweek is Ender’s Game (OT G), ’n wetenskapsfiksieprent gegrond op die Orson Scott Card se roman van 1985. Die regisseur is die Suid-Afrikaner Gavin Hood (Tsotsi en X-Men Origins: Wolverine).

Nadat wesens uit die buitenste ruimte die aarde aangeval en byna vernietig het, word gesoek na ’n sterk militêre leier wat kan terugveg wanneer die wesens terugkeer. Kol. Graff (Harrison Ford) is die hoof van ’n akademie waar begaafde kinders van kleins af geleer word om die beste soldate ter wêreld te wees. Jong Ender Wiggin (Asa Butterfield van Hugo) is dalk die een waarna hulle soek, maar hy moet eers ’n uitmergelende opleidingsprogram deurloop.

Dié prent het meestal goeie resensies gekry. Die resensiewebtuiste Rotten Tomatoes het dit 62 persent gegee. Daarvolgens bied die rolprent minder stof tot nadenke as die boek, Ender’s Game. Tog is daar ’n goeie aantal oomblikke van “goed vertolkte, stewig geskrewe wetenskapsfiksie-spanning”. Die Britse rolprenttydskrifte Empire en Total Film verskil wyd van mekaar: Empire se Helen O’Hara het dit net twee sterre gegee. Volgens haar het die vervaardigers baie van die slaggate vermy waarin ’n mens kan trap wanneer jy die boek verwerk, maar ongelukkig ook van die boek se “lewendigheid en pas verloor”. Total Film se Matt Mueller het dit weer vier sterre gegee en noem dit ’n “boeiende uitbeelding van Lord of the Flies-styl moraliteit in ’n verbeeldingryke wetenskapsfiksieverpakking”.

Matthew McConaughey gee sy loopbaan nog ’n hupstoot met Mud (10-12 OT G), waarin hy die rol van die titelkarakter vertolk. Hy is ’n voortvlugtige wat op ’n eiland in die Mississippi skuil, waar twee tienerseuns op hom afkom en hy hulle oorreed om hom die owerheid te help ontvlug.

Die rolprent het byna universele lof gekry. Rotten Tomatoes het dit 98 persent gegee en skryf: “Versterk deur goeie spel van McConaughey, bied Mud ’n boeiende drama wat daarin slaag om innemend te bly en die hart te verwarm sonder dat dit stroperig is”. Empire se Dan Jolin het dit vier sterre gegee en dit beskryf as die geesgenoot van verlede jaar se Beasts of the Southern Wild.

Black Nativity (OT) is ’n moderne musiekrolprent gegrond op die gelyknamige toneelstuk van 1961 deur die swart Amerikaanse sosiale aktivis Langston Hughes. Toe hulle op die punt staan om uitgesit te word uit hul woonstel in Baltimore, stuur ’n sukkelende enkelma (Jennifer Hudson) haar seun (Jacob Latimore) om by haar vervreemde ouers (Forest Whitaker en Angela Bassett) in New York te gaan woon. Daar leer ken hy die ware betekenis van Kersfees.

Hierdie rolprent het meestal gemiddelde resensies gekry. Metacritic het dit 50 uit 100 gegee, en Rotten Tomatoes 54 persent. Laasgenoemde beskryf dit as “goedig en met geloofwaardige spel, maar gebukkend onder die regisseur, Kasi Lemmon, se lomp behandeling van die gevierde bronmateriaal”.

Die kleingoed sal dalk Free Birds (OT G) geniet, hoewel hulle dalk nie die intrige sal verstaan oor die Amerikaanse tradisie van kalkoen eet met Thanksgiving nie. Elke jaar stel die Amerikaanse president een kalkoen vry wat nooit geëet word nie. Vanjaar is Reggie (met die stem van Owen Wilson) die gelukkige geveerde. Maar hy raak betrokke by ’n ander kalkoen, Jake (Woody Harrelson), se verspotte plan om te tydreis na die eerste Thanksgiving en te keer dat die tradisie van kalkoen eet begin. Die rolprent het oor die algemeen swak resensies gekry. Rotten Tomatoes het dit net 18 persent gegee en sê dis “tegnies goed maar kreatief dood”.

Nog ’n week, nog ’n Jason Statham-aksiefliek. In Homefront (16 DTG), nogal geskryf deur Sylvester Stallone, speel die Stath ’n gewese Amerikaanse federale agent wat ná sy vrou se dood saam met sy jong dogter na ’n klein dorpie verhuis. Hy wil net rus en vrede hê, maar hy stamp gou kop met die plaaslike laelak dwelmbaas (James Franco).

Die rolprent is meestal swak ontvang en Metacritic het dit 38 uit 100 gegee. Peter Travers van Rolling Stone het dit een ster gegee en skryf: “Almal is asemrowend sleg, met dialoog deur Stallone wat om ’n ‘mute’-knoppie smeek.”

Vir kunssinniges is daar Jeune et Jolie (ouderdomsperk nog onbekend) – “Jong en Beeldskoon”. Dis ’n tipiese Franse erotiese drama oor ’n 16-jarige meisie (Marine Vacth) van ’n skatryk Paryse familie wat haar maagdelikheid tydens ’n somervakansie verloor. Terug by die huis begin sy as ’n prostituut werk, tot haar ma haar geheim uitvind.

Dié prent word wyd geloof. Empire en Total Film het dit albei vier sterre gegee. Leslie Felperin van Variety noem dit “’n geskakeerde, emosioneel ligte studie van ’n vroegryp jeugdige”.

Sandra Visser