Ná nege jaar lewer die regisseur Robert Rodriguez eindelik die opvolg op die uitstekende Sin City. Sin City: A Dame To Kill For (16TGSN) is ook gegrond op die grafiese romans Sin City in die noir-styl deur Frank Miller.

Dit speel af in die korrupte Basin City waar jy net eintlik jouself kan vertrou. Die titelverhaal is uit Frank se tweede bundel stories en word verweef met nog twee wat hy spesiaal vir die fliek geskryf het: The Fat Loss en The Long Bad Night.

Die privaat speurder Dwight (Josh Brolin van Men in Black 3) herenig met sy groot liefde, Ava Lord (Eva Green van Casino Royale), maar sy het haar eie agenda. Die ontkleedanseres Nancy (Jessica Alba van Fantastic Four) sukkel om aan te pas nadat haar beskermheer, John Hartigan (Bruce Willis van Die Hard), sy lewe geneem het om haar te red. En die arrogante dobbelaar Johnny (Joseph Gordon-Levitt van The Dark Knight Rises) wil die grootste skurk in Sin City, sen. Roark (Powers Boothe), aanvat.

Ongelukkig is die meeste resensente nie juis ingenome met die fliek nie. Dit kry net 42 persent op Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan films toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk. Hulle bevind: “A Dame To Kill For het dieselfde stylvolle geweld en treffende visuele palet as die oorspronklike fliek, maar het nie sy voorganger se brutale trefkrag nie.”

Die Britse fliektydskrif Empire se James White is positiewer en gee dit drie sterre. “Die fliek deel sommige van die eerste fliek se swakhede, veral die twyfelagtige uitbeelding van vroue,” skryf hy. “Maar dit behou die grinterige, moordende greep op jou wat Sin City so genotvol gemaak het.”

Die Britse rolprenttydskrif Total Film se James Mottram is selfs meer beïndruk en gee dit vier sterre. “Dis nie so grensverskuiwend soos die oorspronklike nie, en is ook nie so verreikend soos die beste opvolgprente nie. Maar danksy uitstekende toevoegings tot die rolverdeling en Miller op sy donker beste is dié fliek vuurwarm.”

As jy lus het vir ’n opbeurende fliek behoort The Hundred-Foot Journey (7-9O) jou ’n huppel in jou stap te gee. Dis gegrond op die gelyknamige boek deur Richard C. Morais en handel oor die talentvolle jong sjef Hassan Kadam (Manish Dayal van die TV-reeks 90210) wat saam met sy gesin uit Indië na ’n klein dorpie in die suide van Frankryk verhuis met die droom om ’n Indiese restaurant oop te maak.

Maar skaars 30 m (100 voet in die ou taal) daarvandaan is die klassieke Franse restaurant met madame Mallory (Helen Mirren van The Queen) aan die stuur van sake. Sy is glad nie gelukkig oor die indringers nie en gou-gou is dit oorlog tussen haar en Hassan se dwarskoppige pa (Om Puri van East Is East). Sal Hassan die snobistiese madame kan betower met sy natuurlike kooktalent?

Die meeste kritici hou van die fliek. Dit kry 66 persent op Rotten Tomatoes en 55 uit 100 op Metacritic, wat nes Rotten Tomatoes werk. Laasgenoemde bevind: “Die regisseur Lasse Hallström (Chocolat, What’s Eating Gilbert Grape?) doen goeie, pragtige werk en dis altyd die moeite werd om na Helen te kyk, maar The Hundred-Foot Journey volg dieselfde voorspelbare weg wat talle goedvoel-komediedramas reeds bewandel het.”

Peter Travers van Rolling Stone gee dit twee en ’n half uit vier sterre. “Hallström kan bly wees hy het Mirren en Puri in die rolverdeling – twee ou hande wat weet hoe om ’n gehoor oor die spoedhobbels in die intrige te kry en bloot verteerbare afleiding in ’n fees te omskep,” skryf hy.

Die gesiene Amerikaanse resensent Richard Roeper gee die fliek ’n B. “Die ware ster is die kos in hierdie meestal stroperige maar soms pikante fliek,” sê hy. “Dit volg ’n redelike voorspelbare resep en is ’n skaamteloos sentimentele liefdesbrief aan kookkuns. Die boodskap is kulture kan hul verskille tersyde stel danksy ’n gedeelde liefde vir heerlike geregte. Alles is so mooi, jy sal wens jy was in die fliek.”

Bad Teacher (2011) se sterre Jason Segel en Cameron Diaz en regisseur, Jake Kasdan, werk weer saam. Sex Tape (16 DTNS) handel oor ’n getroude paartjie, Annie en Jay, wat ná 10 jaar saam en twee kinders steeds verlief is maar ’n bietjie opwinding soek.

Hulle besluit om ’n seksvideo te maak waarin hulle elke posisie onder die son probeer. Maar dan word die video per ongeluk op hulle digitale rekening gelaai waartoe hulle vriende ook toegang het deur middel van die iPads wat Annie en Jay vir hulle present gegee het en moet die paartjie vinnig vure doodslaan.

Die meeste resensente dink dis maar flou. Die fliek kry ’n skamele 19 persent op Rotten Tomatoes en die algemene gevoel is: “Die film het nie die moed van sy oortuiging om die smerige idee deur te voer nie en ook nie genoeg humor om ’n goeie romantiese komedie te wees nie.”

Joshua Rothkopf van Time Out New York gee dit twee sterre. “Dit sou beter gewerk het as die draaiboek gemoedeliker gespot het met middeljarige getroudes, maar Segel en Diaz is te jonk en aantreklik om geloofwaardig verveeld te wees met mekaar. Sex Tape is uiters bedees.”

Tom Long van The Detroit News gee dit ’n C. “Passie wat taan is beslis ’n geldige onderwerp vir sowel drama as komedie, en die hele seksvideoverskynsel moet tog kommentaar lewer op die hedendaagse lewe,” skryf hy. “Maar Sex Tape verkwis sy potensiaal op ’n flou grap en eindelik het dit niks meer te sê nie behalwe dat jy moet pasop wanneer jy ouma ’n iPad present gee.”

The Rover (16 TG) speel af in Australië 10 jaar nadat ’n raaiselagtige gebeurtenis die samelewing laat ineenstort het. Eric (Guy Pearce van Iron Man 3) was ’n boer; nou is hy gehard, gevaarlik en skugter vir mense se geselskap.

Toe ’n bende sy motor steel, laat hulle die een bendelid se broer, die gewonde Rey (Twilight se Robert Pattinson), agter. Die motor is al wat nog iets vir die ongenaakbare Eric beteken en hy dwing Rey om hom die bende te help opspoor.

Die fliek kry taamlik goeie resensies. Rotten Tomatoes gee dit 65 persent en Metacritic 64 uit 100. Eersgenoemde sê: “Die spanningsvolle fliek oorkom sy foute deur uiters kykbaar te wees en bevat aangrypende toneelspel deur Guy en Robert.”

Empire en Total Film gee dit albei drie sterre. Adam Smith van Empire voel die fliek kon soveel meer gewees het. “Die regisseur David Michôd (Animal Kingdom) het The Rover vaardig verfilm en dit bevat twee goeie vertolkings en uitstekende produksieontwerp, maar as dit vyf jaar duur om ’n rolprent vervaardig verwag ’n mens darem iets bietjie ambisieuser. Dis uiters minimalisties en bevat min sielkundige diepte,” skryf hy.

Matt Glasby van Total Film skryf: “Sonder die meeste van die elemente wat ’n storie lewe gee – ’n verlede, ’n toekoms, nagevolge vir jou dade – dra die fliek meer ’n gevoel oor as wat dit ’n drama met ’n intrige is. Dis beslis ’n indrukwekkende dog vreemd onbeminlike fliek wat absoluut gee toegewings maak nie.”

Vir dié wat van gruwel hou is daar The Purge: Anarchy (16 TG), die opvolg op 2013 se The Purge. In die toekoms is alle misdaad in Amerika een aand per jaar wettig. Die eerste fliek het in ’n voorstedelike huis afgespeel waarin ’n gesin hulleself verskans en wag dat die nag verbygaan. Nou speel die fliek ’n jaar later buite op straat af waar ’n kelnerin (Carmen Ejogo) en haar dogter (Zoë Soul) asook ’n jong paartjie (Zach Gilford en Kiele Sanchez) moet probeer oorleef. Hulle soek hulp by die polisiesersant Leo Barnes (Frank Grillo van The Grey), wat sy eie agenda het.

Verreweg die meeste kritici dink die fliek is bra goed. Dit kry 58 persent op Rotten Tomatoes en hulle beskryf dit as “grinterig, grieselrig en buitengewoon ambisieus. The Purge: Anarchy is ’n effense verbetering op sy voorganger, maar dis steeds nie so slim of relevant as wat dit probeer wees nie.”

Empire se gruwelkenner Kim Newman gee dit drie sterre en sê dis slim dat die opvolg nie die eerste aflewering se scenario herhaal nie en dat dit die stadsmilieu benut waarin dit afspeel. “Die reeks vang jou onkant omdat dit so slim en skokkend is,” skryf hy. “Dit kan ’n langdurige franchise word.”

Joe McGovern van die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly is minder beïndruk en gee dit ’n C-. “Vir die grootste deel van die fliek plaas die regisseur, James DeMonaco, die klem op gru- en skokoomblikke pleks van die bytende, nare parodie waarvoor die scenario so geskik is. Net in die laaste 20 minute gaan die film heerlik oorboord.”

Die tweede deel van die omstrede Deense regisseur Lars von Trier se Nymphomaniac: Volume II (18TGSN) begin ook vandeesweek draai. Die selferkende nimfomaan Joe (Charlotte Gainsbourg van I’m Not There) vertel meer van haar sekskapades aan die ouer man Seligman (Stellan Skarsgard van Thor), wat haar bebloed in ’n stegie gevind het.

Die tweede helfte kry minder lof as die eerste. Terwyl Volume I 75 persent op Rotten Tomatoes behaal het, kry Volume II net 60 persent. Hulle bevind: “Dit voldoen nie heeltemal aan die belofte van die eerste aflewering nie, maar Nymphomaniac: Volume II vind baat by Lars se sonderlinge vakmanskap en visie, asook briljante toneelspel deur Charlotte.”

Rafer Guzmán van newsday.com gee dit twee uit vier sterre. “Die fliek is vol skokkende oomblikke, maar die filosofie daarvan is selfs leliker as die grafiese, vreugdelose seks. Interessant, maar nie insiggewend nie.”

Owen Gleiberman van Entertainment Weekly gee dit ’n B. Hy voel dis ietwat meer kykbaar as Volume I “al is dit net omdat die aangrypende Charlotte nou deurentyd Joe speel, pleks van die uitdrukkinglose model Stacy Martin wat die jonger Joe gespeel het. Maar daar is steeds nie veel meer aan Lars se oordadige, sogenaamde skandaal van ’n fliek nie as meedoënlose, slordige ekshibisionisme.”

- Sandra Visser