Vandeesweek se groot fliek is Elysium (16TG), die regisseur Neill Blomkamp se lang verwagte opvolg tot District 9 (2009). In die jaar 2154 woon welgestelde mense op ’n ongerepte buiteruimtelike stasie, Elysium, waar daar aan al hul behoeftes voorsien word. Intussen probeer die armes op ’n vuil, bemorste planeet Aarde Elysium op elke moontlike manier infiltreer. Toe die voormalige motorkaper Max (Matt Damon) se lewe bedreig word, stem hy in om ’n gevaarlike sending te onderneem. Hy kom te staan teen een van Elysium se ministers, Delacourt (Jodie Foster), wat ’n huursoldaat (Sharlto Copley van District 9) stuur om van hom ontslae te raak.

Die film het oorwegend positiewe terugvoer ontvang: Die fliekresensiewebtuiste Rotten Tomatoes het dit 69 persent gegee, en die algemene mening was “ná die groot wetenskapsfiksiesensasie District 9 is Elysium ’n bietjie van ’n antiklimaks vir Blomkamp, maar afgesien van die verwagtinge bevat die fliek genoeg hoogtepunte om die kyker tevrede te stel”. Kim Newman van die Britse filmtydskrif Empire het dit vier sterre gegee en geskryf: “Dis nie perfek nie, maar dit is ’n baie bevredigender rampfliek as Oblivion of After Earth. Dit is ’n bietjie meer konvensioneel as District 9 (wat is nie?), maar bevestig Blomkamp is dalk een van die wetenskapsfiksielegendes van die dekade.”

Vir jonger gehore is daar Percy Jackson: Sea of Monsters (7-9OG), ’n opvolg tot Percy Jackson & The Lightning Thief (2010). Die flieks is gegrond op die reeks tienerfantasieboeke deur Rick Riordan. In die eerste film vind die tiener Percy Jackson (Logan Lerman van The Perks of Being a Wallflower) uit hy is ’n halfgod – die seun van ’n menslike ma en die Griekse god Poseidon. In die opvolgfliek moet Percy en sy halfgod-vriende die see van monsters aandurf om die Golden Fleece te vind en so hul tuiste te red.

Die fliek het meestal negatiewe resensies ontvang, met slegs 38 persent op Rotten Tomatoes en 39 persent op die webtuiste Metacritic. Rotten Tomatoes sê: “Dis mooi om na te kyk en propvol aksie, maar ongelukkig is dit vol afgewaterde karakters en storielyne wat herinner aan ander, beter weergawes.”

Ian Nathan van Empire het dit twee sterre gegee en gesê dit is ’n “vaal namaaksel van Harry Potter” en “daar is niks onbekwaam of deurmekaar aan (die regisseur) Thor Freudenthal se manier van storie vertel nie, maar die fliek is net so geurloos en afgewater dat daar nie veel is waarvoor ’n mens dit kan aanbeveel nie”. Maar as jy hou van Griekse mitologie, kan jy dit dalk ’n kans gee.

Die komedie-drama Arthur Newman (16TNS) gaan oor Wallace Avery (Colin Firth van The King’s Speech), ’n geskeide voormalige golfspeler wat sy een kans op geluk laat verbygaan het. Hy besluit om sy dood te versin en neem ’n ander identiteit aan. Op pad na sy nuwe werk in die Midwest in Amerika ontmoet hy ’n jong vrou (Emily Blunt van The Devil Wears Prada) wat ook van haar verlede probeer ontsnap. Saam begin speel hulle ’n ingewikkelde rolspel waarin hulle die identiteite steel van paartjies wat hulle langs die pad ontmoet. Toe pynlike geheime uitkom, begin hulle wonder of dit regtig moontlik is om oor te begin.

Die fliek het meestal negatiewe resensies gekry: Rotten Tomatoes het dit 23 persent gegee en die algemene opinie was dat “ten spyte van die natuurlike charisma van die akteurs wat die hoofrolle speel, doen Arthur Newman maar min met dié interessante storie, en die resultaat is oninteressant en onoortuigend”. Josh Bell van die Las Vegas Weekly het dit beskryf as “’n stadige, lustelose reis na nêrens, vol skynbaar diepsinnige en generiese indie-drama storielyne.”

Satyagraha (ouderdomsbeperking moet nog bekendgemaak word) is ’n politieke Bollywood-riller oor die ambisieuse kapitalis Manav (Ajay Devgan) wat platgeslaan is deur die dood van sy beste vriend, Akhilesh (Indraneil Sengupta). Toe Akhilesh se weduwee, Sumitra (Amrita Rao), sukkel om kompensasie uit die regering te kry, klap Akhilesh se pa, Dwarka (Amitabh Bachchan), ’n arrogante regeringsamptenaar en word hy in die tronk gegooi. Met behulp van sosiale media begin Manav ’n veldtog om hom vry te laat, wat ’n opstand teweegbring.

Die film is goed ontvang deur meeste filmresensente. Die tydskrif India Today het dit vier sterre gegee en gesê dit is “’n tydige fliek wat ’n gewonde nasie sal laat wakker skrik”. Taran Adarsh van die webtuiste Bollywood Hungama het dit ook vier sterre gegee en dit beskryf as “’n boeiende, fassinerende drama wat die werklikheid om ons weerspieël”.

Sandra Visser