Dié week keer die gesiene regisseur sir Ridley Scott terug na die wetenskapsfiksiegenre waarin hy vroeg in sy loopbaan met Alien (1979) en Blade Runner (1982) sukses behaal het. In The Martian (10-12O) speel Matt Damon (The Bourne Identity) ’n wetenskaplike, Mark Watney, wat tydens ’n sending na Mars in ’n woeste storm verdwyn. Die sending se kaptein (Jessica Chastain van The Help) besluit hulle moet die oppervlak vir hul veiligheid verlaat, maar op pad terug Aarde toe besef hulle Mark het oorleef en begin hulle en Nasa planne beraam om hom te red. Intussen moet Mark staatmaak op sy kennis as ’n plantkundige om vir homself voedsel te verskaf.

Die meeste kritici dink die fliek is uitstekend. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 91 persent. Hulle beskryf dit as “slim, opwindend en verbasend snaaks. The Martian bied ’n getroue verwerking van die topverkoperroman en bring die beste in Matt en Ridley na vore.” Die Britse tydskrif Empire se Ian Freer gee dit vier sterre en beskryf dit as “Robinson Crusoe in die ruimte gekruis met ’n pikswart komedie waarin die hoofkarakter sy sterflikheid uittart. The Martian word geanker deur nog ’n goeie vertolking deur Damon en vermeng skerpsinnigheid, humor, eksentrieke karaktertrekke en spanning. Die resultaat is Scott se genotvolste fliek in ’n lang tyd.”

Dis Robinson Crusoe in die ruimte gekruis met ’n pikswart komedie

Vir die jong klomp en dié wat jonk van gees is, is daar die opvolgtekenprent Hotel Transylvania 2 (7-9OGGr). Die aartsvampier Dracula (Adam Sandler se stem) se vampierdogter, Mavis (Selena Gomez), is nou getroud met Jonathan (Andy Samberg), die mens wat in die eerste fliek afgekom het op Dracula se geheime hotel vir monsters. Hulle het nou ’n seuntjie, Dennis (Asher Blinkoff), wat Dracula hoop ook ’n vampier is, maar wat baie net soos ’n gewone mensseuntjie lyk. Terwyl Mavis en Jonathan met vakansie is, probeer oupa en sy vriende Frankenstein (Kevin James), Wayne die weerwolf (Steve Buscemi), Griffin die onsigbare man (David Spade), Murray die mummie (Keegan-Michael Key) en Blobby die blob (Jonny Solomon) Dennis oplei om ’n monster te wees.

Die eerste fliek was uiters genotvol, maar dis amper asof die kritici hulle mes in het vir Sandler, want hulle is meestal negatief oor die eerste fliek sowel as die opvolg. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde wyse as Rotten Tomatoes werk, gee dit 44 uit 100 en by laasgenoemde kry dit 52 persent. Hulle bevind: “Hotel Transylvania 2 is effens beter as die oorspronklike, wat dalk nie genoeg rede is om aan te beveel dat jy deur 89 minute van kleurryke animasie en kinderagtige grappies van Sandler en kie moet sit nie.”
Die eerste fliek was uiters genotvol, maar dis amper asof die kritici hulle mes in het vir Sandler

Joshua Rothkopf van Time Out New York gee dit twee sterre en beskryf dit as “ ’n maniese monsterkomedie gemik op kinders en nie grootmense nie. Die probleem is dat daar te veel gefokus word op grappies wat slegs (volwasse) aanhangers van ou gruwelflieks sal snap en die storie te min aandag kry.”

Die ware lewensdrama Straight outta Compton (16TVSNGD) handel oor die rapgroep Niggas with Attitudes (NWA) wat in die laat 80’s vir hope omstredenheid in Amerika gesorg het met hul liedjies wat woedende tirades teen die polisie se behandeling van minderheidsgroepe bevat het.

Die kritici is baie beïndruk. Rotten Tomatoes gee dit 90 persent en bevind: “Straight outta Compton is ’n biofliek wat gebou is om te hou te danke aan F. Gary Gray se selfversekerde regie en innemende toneelspel van die goeie rolverdeling (grootliks onbekende) akteurs.”

Die Britse tydskrif Total Film se Stephen Kelly gee dit drie sterre. “Die rolprent vlieg hoog in die eerste uur voor dit neerstort in ’n geswolle, melodramatiese deurmekaarspul. Tog is dit die kyk werd te danke aan die eerste deel se aggressie, wat vasvang hoe kragtig NWA werklik was.”

Nicolas Cage ploeter voort in sy strewe om sy belastingskuld te delg met nog ’n tweederangse poging. In die gruwelfliek Pay the Ghost (13TGr) speel hy ’n universiteitsdosent, Mike Lawford, wat op Halloween uitvind dat hy ’n professorskap gekry het. Hy kom by die huis en vra sy vrou (Sarah Wayne Callies van die TV-reeks The Walking Dead) of hy hul seuntjie, Charlie (Jack Fulton), kan uitvat om na ’n Halloween-optog te kyk. Charlie, wat in die laaste tyd vreemde gesigte begin sien het, vra of hulle die spook kan betaal en verdwyn. ’n Jaar later is die ouers steeds besig om hul kind te soek en begin hulle met die aanloop tot Halloween hoor hoe hy om hulp roep. Gaan Mike dit regkry om die raaisel op te los?

Soos verwag, het die meeste resensente nie veel ooghare vir die film nie. Rotten Tomatoes het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om konsensus te bereik nie, maar sover kry dit 6 persent gegrond op 18 resensies. Metacritic gee dit 23 uit 100.
Soos verwag, het die meeste resensente nie veel ooghare vir die film nie

Brian Tallerico van rogerebert.com gee dit ’n skamele een ster en beskryf dit as “ ’n vervelige, lui na-apery van Insidious (2010) wat selfs Cage se getrouste aanhangers moet ignoreer”.

Twee Suid-Afrikaanse flieks begin ook vandeesweek draai. Ayanda (13T) is geregisseer deur Sara Blecher, wat ook vir Dis Ek, Anna verantwoordelik is. Die rolprent speel in Johannesburg af en handel oor die jong vrou van die titel (Fulu Mugovhani van die sepie Scandal!) wat ná haar pa se dood sukkel om sy motorhawe aan die gang te hou.

Laetitia Pople van Die Burger gee dit vier sterre. “Ayanda is werklik uitsonderlik wat die storie, spel, kinematografie en die wêreldbeeld betref,” skryf sy. “Elke akteur sprankel, maar dit is Fulu wat jou in die siel tref met haar durf en sjarme. Die enigste kritiek jeens die rolprent is dat dit daardie aks te lank is en herhalend voorkom. So word van die goue trefkrag ingeboet. Dit is egter ’n geringe beswaar vir ’n anderhalfuur se topvermaak.”

Die drama While You Weren’t Looking (16TVSN) handel oor ’n lesbiese paartjie van gemengde ras, Dez (Sandi Schultz van die sepie Binnelanders) en Terri (Camilla Lilly Waldman van die sepie Generations), wat al 20 jaar saam is. Terri begin wonder of Dez ontrou is aan haar. Intussen begin hul dogter, Asanda (Petronella Tshuma van Scandal!), wat tot dusver oortuig was sy is heteroseksueel, ’n verhouding met ’n vrou, Shado (Thishiwe Ziqubu van Hard to Get) van die townships, wat Terri en Dez bekommerd maak.

Die fliek is nog nie wyd gerenseer nie. Don Simpson van smellslikescreenspirit.com gee dit sewe uit 10.

  • Sandra Visser