Beproef Ek Joke Net 2 (10-12OTS) as jy nie lus is om te hard te dink nie en net lekker wil lag. Dis in dieselfde styl as Leon Schuster se flieks (poetse wat met versteekte kameras verfilm word), maar maak volgens Die Burger se Rochélle Human “minder staat op vergesogte kostuums en buit eerder alledaagse situasies uit, soos ’n stampvol hysbak”. Die grapmakers sluit in Hannes Brümmer, Solomon Cupido en Lelia Etsebeth; die Playboy-model Yolandi Malherbe maak ook haar verskyning.

Rochélle gee dit twee sterre. “Die vervaardigers steek die draak met produkplasings in flieks, nuuskanale en Julius Malema en sy EFF, maar dié dele van die fliek val veral plat. Die storielyn wat die poetse aan mekaar moet weef, is deurmekaar en ondeurdag.” Sy voel dié gedwonge aspek van die fliek kon eerder gebly het, want “die beste ding van sulke flieks is die slagoffers se reaksies. Ek Joke Net 2 is op sy snaaksste wanneer die resep eenvoudig gehou word.”

In die komedie The Other Woman (13T) speel Cameron Diaz (Charlie’s Angels) Carly, wat dink sy het die liefde van haar lewe ontmoet – ene Mark King (Nikolaj Coster-Waldau, Jaime in die TV-reeks Game of Thrones). Ongelukkig vind sy uit hy is reeds getroud met Kate (Leslie Mann van Knocked up). Carly probeer aangaan met haar lewe, maar toe sy Kate per ongeluk raakloop, besef sy hulle het baie gemeen en word goed bevriend met haar. Dan ontdek hulle Mark het nog ’n affair aangeknoop – met Amber (die model Kate Upton) – en al drie besluit om hom terug te kry.

Die meeste kritici dink dis ’n swak fliek. Dit kry slegs 26 persent op die webtuiste Rotten Tomatoes, waar die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaargetel en ’n gemiddelde uitgewerk word. Hulle bevind dit “het beslis ’n talentvolle rolverdeling, maar hul vernuf word nooit ten volle benut deur ’n storie wat tevrede is met flou grappies pleks dat dit sy bemagtigende potensiaal bereik nie”. Die Britse fliektydskrifte Empire en Total Film gee dit albei twee sterre. Eersgenoemde se Olly Richards skryf: “Die idee het potensiaal, maar die eindproduk is skril, flou en geensins snaaks nie.” Total Film se James Mottram voel daar is tog “ ’n paar platvloerse grappies, maar hopeloos te veel eendimensionale karakters, toneelspel en wendings om dit die kyk werd te maak”.

Dit lyk asof Kevin Costner – een van die grootste sterre van die laat 80’s en vroeë 90’s – homself minder ernstig begin opneem. Eerstens lyk dit asof hy besef het dis oukei om ouer te word en dalk nie meer die held te speel nie, want jy kan steeds ’n groot impak maak deur ’n kleiner maar belangrike rol in ’n lokettreffer te speel. So het hy gemaak deur Superman se pa in Man of Steel (2013) te speel. Met 3 Days to Kill (13G) lyk dit of hy weer na Liam Neeson se loopbaan gekyk het en besef het dis dalk pret om in jou latere jare ’n aksieheld te speel.

Nadat daar terminale breinkanker by hom gediagnoseer word, besluit die CIA-agent Ethan Renner (Kevin) om Parys toe te gaan om die res van sy oorblywende dae met sy vervreemde vrou, Christine (Connie Nielsen van Gladiator), en dogter, Zooey (True Grit se Hailee Steinfeld), deur te bring. Hulle weet vir hul eie veiligheid niks van sy loopbaan nie. Terwyl Christine op ’n sakereis is en Ethan sy bes probeer om weer ’n band met Zooey te vorm, word hy gekontak deur ’n kollega (The Rum Diary se Amber Heard) wat hom die opdrag gee om ’n onwettige wapenhandelaar te elimineer. In ruil daarvoor sal sy hom eksperimentele nuwe medikasie gee wat sy lewe kan verleng.

Ongelukkig vir Kevin beskou die meeste kritici nie dié fliek as die nuwe Taken nie. Dit kry slegs 32 persent op Rotten Tomatoes en die konsensus is “3 Days to Kill is ’n ongemaklike mengsel van tegnies vaardige aksietonele en onderontwikkelde gesinskonflik”. Tog is die gesiene Amerikaanse resensent Richard Roeper gaande oor die fliek. Hy gee dit ’n B en beskryf dit as pure gemors maar vreeslik vermaaklik: “Die term bloosplesiertjie is geskep vir dié soort fliek.” Owen Gleiberman van Entertainment Weekly is minder beïndruk en gee dit ’n C+. “Die fliek vind nooit ’n manier om die emosies en skop, skiet en boomklim in een seepgladde pakket te vermeng nie, soos (die draaiboekskrywer Luc) Besson met The Professional (1994), sy enigste goeie fliek, reggekry het nie,” skryf hy.

Vir dié wat lus is vir iets meer kunssinnigs is daar Ain’t Them Bodies Saints (13TG). In die 70’s in Texas word Ruth (The Girl with the Dragon Tattoo se Rooney Mara) en Bob (Casey Affleck van Ocean’s Eleven), wat van kindertyd onafskeidbaar is, uitmekaargeskeur nadat Bob ’n bank beroof het en tronk toe gaan. Die brandarm Ruth probeer op haar eie hul kind grootmaak. Jare later ontsnap Bob en probeer weer by Ruth uitkom, maar die polisie is op sy spoor.

Die meerderheid resensente loof die fliek. Dit kry 79 persent op Rotten Tomatoes, met die volgende konsensus: “Al is die intrige konvensioneel, is dit ’n visueel poëtiese fliek wat hulde bring aan die New Hollywood-regisseurs van die 70’s en groot dinge beloof van regisseur David Lowery.” Ian Nathan van Empire raak nie heeltemal so liries nie en gee dit drie sterre. “Die oomblikke tussen die oomblikke is die regisseur se doel,” skryf hy. “Hy skep ’n fliek wat voortsweef op stemming, gevoel en hoe diep ’n mens oor die lewe besin terwyl jy die hoenders voer. ’n Mens mis regtig daardie skop-en-skiet-oomblikke van gewone Westerns. Dis aanvanklik aangrypend, maar word eindelik ’n vermoeiende poging op die flieks uit die bloeitydperk van regisseurs soos Terrence Malick en Robert Altman na te aap. Lowery is ’n talentvolle regisseur wat sy eie stem moet vind.” Cath Clarke van Time Out is baie meer beïndruk met die fliek en gee dit vier sterre. Sy voel Rooney gee haar beste vertolking tot dusver en “al hang die skaduwee van Terrence Malick (The Tree of Life) oor die fliek is dit vuriger – ’n stadige, snaarstywe riller. Dit kruip onder jou vel in en bly daar.”

In die wetenskapfiksie-aksiefliek The Colony (16TG) is die mensdom gedwing om ondergronds in kolonies te woon nadat ’n tweede Ystydperk as gevolg van aardverwarming toegeslaan het. Toe Colony 5 ’n noodsein uitstuur, organiseer die leier van Colony 7, Briggs (Laurence Fishburne van The Matrix), ’n span reddingswerkers om ondersoek te gaan instel. By Colony 5 aangekom, vind hulle slegs een oorlewende uit die 50 inwoners. Wat het met die res gebeur?

The Colony herinner baie aan James Cameron se klassieke wetenskapfiksie-aksiefliek Aliens (1986). Dit het tot die akteur Bill Paxton gemeen. Die kritici dink die fliek is maar vrot. Dit kry slegs 28 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en 16 persent op laasgenoemde, waar dit opgesom word as “ ’n generiese wetenskapsfiksieriller. The Colony bevat geykte dialoog, lagwekkende spesiale effekte en onderontwikkelde karakters.” Neil Genzlinger van The New York Times skryf: “Twee derdes van The Colony is nogal ’n goeie wetenskapfiksie-spanningsfliek. Maar eindelik neem dit ’n teleurstellende wending en word dit net nog ’n hardloop-weg-van-die-monsters-storie, wat afbreuk doen aan die ordentlike werk deur ’n goeie rolverdeling.” Dennis Harvey van Variety voel “dis moeilik om jou vinger op die foute in so ’n fliek te plaas. Dis professioneel afgerond, maar bevat so min oorspronklikheid of persoonlikheid dat jy so te sê die ervaring vergeet terwyl jy daarna kyk.”

Tinker Bell and the Pirate Fairy (OT) is die vyfde fliek in Disney se Tinker Bell-reeks met die feetjie uit Peter Pan in die hoofrol. Die feetjies van Neverland bly in Pixie Hollow en elkeen het ’n talent. Maar die belangrikste feë is dié wat die feetjiestof bewaar en aan die ander uitdeel, want sonder dit kan hulle nie vlieg of towerspreuke uitvoer nie. Zarina (Christina Hendricks van die TV-reeks Mad Men se stem) is so ’n fee, maar het allerhande wilde idees oor wat sy met die kragtige blou feetjiestof wil doen. Toe haar eksperimente chaos veroorsaak, vlug sy, maar keer ná ’n jaar terug en steel dit. Tinker Bell (Mae Whitman) en haar vriende sit Zarina agterna en sy lei hulle na ’n seerowerskip waarvan sy die kaptein is. Toe hulle uitvind wat sy met die blou feetjiestof beplan, weet hulle hulle moet haar stop.

Die fliek is nog nie wyd geresenseer nie, maar kry redelik positiewe terugvoer. Metacritic gee dit 51 uit 100 gebaseer op vier resensies. Leslie Felperin van The Hollywood Reporter skryf: “Dis soveel beter as wat ’n mens sou verwag van die vyfde fliek in ’n reeks. Hierdie huldeblyk aan vriendskap tussen vroue en girl power is regtig genotvol.”

Sandra Visser