As jy moeg is vir groot fantasierolprente en op soek is na iets meer plat op die aarde, moet jy dalk Rush (16DTNSG) gaan kyk. Die rolprentvervaardiger en Oscar-wenner Ron Howard (A Beautiful Mind) is die regisseur van hierdie aksiefliek oor die tweestryd in die 70’s tussen twee Formule 1-renjaers – die Britse swierbol James Hunt (Chris Hemsworth van Thor) en die metodiese Oostenryker Niki Lauda (Daniel Brühl van Inglourious Basterds).

Rolprente oor motorsport voldoen selde aan verwagtinge, maar Rush het van oral lof ingeoes. Die rolprent het onderskeidelik 88 en 75 persent op die resensiewebtuistes Rotten Tomatoes en Metacritic gekry. Eersgenoemde het dit “ ’n vaartbelynde, afgeronde, goedgeoliede masjien” genoem, en “ ’n goedgemaakte sportdrama met opwindende wedrentonele en sterk vertonings deur Hemsworth en Brühl”.

Die Britse rolprenttydskrifte Empire en Total Film was net so vleiend. Eersgenoemde het dit vier sterre gegee en laasgenoemde vyf. Total Film se resensent James Mottram het dit as heeltemal boeiend beskryf en gesê: “Bygestaan deur twee sterk akteurs, ’n draaiboek wat ’n Oscar werd is en wonderlike tonele wat vanuit motors geskiet is, bied Howard se wedrenfliek drama in die hoogste rat. ’n ‘Piston- and heart-pumping’ triomf.”

Nothing for Mahala (O) is ’n plaaslike komedie oor Axe (Thapelo Mokoena van Generations), ’n juppie wat omtrent alles sal doen om sy uitspattige leefstyl te behou. Steyn du Toit van The Cape Times beskryf hom as “’n hamster in ’n pak klere wat in sy korporatiewe wiel hardloop om by die bure by te hou”. Toe ’n lonende ooreenkoms deur die mat val weens ’n klompie ongelukkige gebeure, beland Axe in die hof. Die regter vonnis hom tot 200 uur gemeenskapsdiens by ’n aftreeoord. Hier ontmoet hy die oord se streng bestuurder, Reneilwe (Mmabatho Montsho van Jacob’s Cross), en ’n rits kleurryke karakters. Een van hulle is ’n afgetrede bokspromotor (Marius Weyers) wat hom ’n paar lewenslesse leer.

Die rolprent is meestal positief ontvang. The Cape Times en Die Burger het dit albei drie sterre gegee. Du Toit het die draaiboek, geskryf deur Darrel Bristow-Bovey, geloof: “Die rolprent se dialoog is gevat en opgevoed, en vermy die verf-met-nommers-geykthede wat so dikwels in Suid-Afrikaanse komedies voorkom.”

Paul Boekkooi van Die Burger het gehou van die intrige en gesê “dis ’n tipiese Suid-Afrikaanse een sonder om geyk of voorspelbaar voor te kom”. Hy was ook beïndruk met die vervaardiging en die natuurlike toneelspel wat die akteurs gehandhaaf het, “selfs in die mees humoristiese situasies”.

Halle Berry verskyn in The Call (16G), ’n riller oor ’n nooddiensskakelbordoperateur, Jordan Turner (Halle Berry), wie se lewe verpletter is nadat sy nie kon keer dat ’n tienermeisie vermoor word nie. Sy begin te veel drink, maar is ses maande later terug by die werk toe nog ’n tienermeisie (Abigail Breslin van My Sister’s Keeper) bel om te sê sy is ontvoer. Kan Jordan hierdie meisie red?

Die rolprent het gemengde resensies gekry. Rotten Tomatoes het dit 44 persent gegee en gesê dit “bou baie spanning voor dit in die derde bedryf ’n problematiese wending neem”. Dit was die klagte van baie kritici.

Paul Bradshaw van Total Film het dit drie sterre gegee en geskryf: “Berry se goeie vertolking gee woema aan ’n moedige, oorspronklike riller wat jou geboei hou . . . tot die domste einde in jare jou laat wens jy het nie die moeite gedoen nie”.

Jason Best van Movie Talk het geskryf: “The Call gee snaarstywe spanning vir twee derdes van sy vinnige looptyd. Maar die intrige tuimel skouspelagtig ineen en die belaglike einde sal jou laat kreun.”

Neil Alcock van Empire was selfs meer snedig. Hy het dit twee sterre gegee en dit beskryf as “afgewaterde gemors wat volgens ’n formule gemaak is, en wat maklik in die middel-90’s vir Sandra Bullock geskryf kon wees”.

Die fantasie-aksiefliek R.I.P.D. (10TGGr) vertel die verhaal van ’n Bostonse polisieman, Nick (Ryan Reynolds), wat deur sy kollega (Kevin Bacon van The Following) vermoor is. Op sy pad na die hiernamaals word hy gewerf deur die Rest in Peace Department, ’n ondooie polisiemag wat wraakgierige geeste vang wat na die land van die lewendes ontsnap het. Saam met ’n slordige sheriff uit die Wilde Weste (Jeff Bridges) ontbloot Nick ’n komplot om die lewe soos ons dit ken te beëindig.

Die fliek het meestal negatiewe resensies gekry. Rotten Tomatoes het dit 14 persent gegee, en Metacritic 25 persent. Eersgenoemde het gesê “dit het sy oomblikke – meesal danksy Bridges se uitbeelding van ’n ondooie Wilde Weste-sheriff – maar R.I.P.D. is heeltemal te simpel en volgens formule gemaak om te bevredig”.

Ken McIntyre van Total Film het dit twee sterre gegee. Hy het geskryf: “As dit baie klink na Ghostbusters-ontmoet-Men in Black, wel, dit behoort. R.I.P.D. is een van die mees onoorspronklike aksiekomedies in onlangse geskiedenis, met elke grappie, toertjie en aksietoneel wat uit die een of ander rolprent gesteel is.”

Olly Richards van Empire het dit ook twee sterre gegee. Hy het die verlore geleentheid betreur deur te skryf “dis ’n goeie idee wat iemand begin het, maar skynbaar nagelaat het om te beëindig”.

Diegene op soek na ’n rolprent wat hedendaagse kwessies takel, behoort Arbitrage (13TD) te geniet. Dis ’n riller met Richard Gere as die Wall Street-makelaar Robert Miller. Robert probeer om sy maatskappy, wat diep in die skuld is, aan ’n bank verkoop voor die omvang van sy bedrog onthul word. Hy sukkel ook om ’n affair weg te steek vir sy vrou (Susan Sarandon). Robert se plan werk amper, tot ’n fout hom dwing om ’n jong finansiële kenner (Nate Parker van The Secret Life of Bees) om hulp te vra.

Die rolprent is meestal positief ontvang. Rotten Tomatoes het dit 87 persent gegee en dit beskryf as “ ’n boeiende riller met ’n indringende karakterstudie, gedra deur die kragtoer deur ’n tipies selfversekerde Gere”. David Hughes van Empire het dit vier sterre gegee en ook Gere se toneelspel geloof. Hy het dit ’n “doeltreffende riller wat Wall Street se geheime blootlê sonder om sy ingewikkeldheid te verminder” genoem. David Denby van The New Yorker het gesê dis Gere se beste toneelspel nog. Hy het geskryf die rolprent is “deels riller en deels karakterstudie, wat vinnig en selfversekerd beweeg, met baie fyn besonderhede wat heeltemal reg voel”.

Raja Rani* is ’n romantiese drama in Tamil oor John (Arya) en Regina (Nayanthara), wat in ’n gereëlde huwelik gedwing word. Hulle is eers baie ongelukkig, maar dinge begin verander toe hulle hul vorige liefdesverhoudings met mekaar bespreek. Dit help hulle om nuwe insig te kry.

Die rolprent is positief ontvang. M Suganth van The Times of India het dit drie sterre gegee en geskryf “die rolprent laat jou teen sy einde uitgeput. Tog is dit altyd kykbaar, veral omdat die regisseur, Atlee, ouskool metodes oortuigend gebruik.”

S. Saraswathi van Rediff.com het dit ook drie sterre gegee en gesê “die debutant-regisseur Atlee se Raja Rani is ’n eenvoudige, verfrissende verhaal oor hoe om met die lewe aan te gaan as jy iemand verloor het wat jy liefgehad het. Die rolprent het baie om die lyf en slaag beslis daarin om die gehoor te vermaak.”

Sandra Visser

*Ouderdomsperk moet nog bekendgemaak word.