. Die Sneeukoningin (OG) is ’n Nederlandse tekenprent wat in Afrikaans oorgeklank en gegrond is op die klassieke feëverhaal deur Hans Christian Andersen. Die bose sneeukoningin wil die wêreld in ys bedek, wat ook mense se siel sal afkoel en hul emosies onderdruk. Maar ’n voorspelling dat ’n meesterglasmaker, Vergard, se afstammelinge haar gaan keer, kan haar plan in die wiele ry. Sy raak ontslae van hom, maar dan kom haar volgelinge af op sy babaseun, Kai, en ontvoer hom. Nou kan net Kai se suster, Gerda, die wêreld red. Leandi van der Walt van die Randburg Sun gee dit sewe uit 10. Sy voel die animasie en 3D is verruklik en dat die verhaal waardevolle lewenslesse en ’n paar snaakse tonele bevat. Al wat haar pla is dat die lippe nie pas by die stemme nie weens die oorklanking en dat daar nie juis karakterontwikkeling is nie. Sy dink jong kinders behoort dit te geniet.

Goosebumps (10Gr) is gegrond op die gewilde reeks gruwelboeke vir kinders deur R.L. Stine. Die intrige wentel om die tiener Zach (Dylan Minnette van Alexander and the Terrible, Horrible, No Good, Very Bad Day) wat ná sy pa se dood saam met sy ma na ’n nuwe dorp verhuis. Hul nuwe buurman (Jack Black van School of Rock) is geheimsinnig en buierig en verbied sy dogter, Hannah (Odeya Rush van The Giver), om kontak met Zach te hê.

Dan ontdek Zach die buurman is die skrywer R.L Stine wat al die monsters wat hy in sy boeke opgetower het, binne hul manuskripte gevange moet hou. Toe Zach per ongeluk die ongediertes vrylaat, moet hy en die Stines saamspan om te keer dat die hele dorp verwoes word. Die meeste kritici dink dis ’n oulike fliek. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat resensente aan flieks toeken en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 73 persent en bevind: “Goosebumps bevat net genoeg van sy grillerige bronteks se kindervriendelike sjarme om te vergoed vir die draaiboek se wisselvallige humor en strawwe, maniese pas.” Peter Turner van starburstmagazine.com gee dit ses uit 10. “Dié fliek begin op ’n bevredigend geheimsinnige noot, maar daarna ontaard dit in Jumanji-styl manie. Dis asof die vervaardigers al hulle idees in een pot deurmekaargeklits het en op die silwerdoek gestort het in die hoop dat van hulle werk. Die rolprent se troefkaart is wel dat dit baie snaaks is. Dis geen Gremlins (1984) nie, maar bevat tog dele wat daardie klassiek gevoel van die 1980’s oordra. ’n Opvolg sal beslis nie die einde van die wêreld wees nie.”

Terwyl Goosebumps op kinders gemik is, teiken Crimson Peak (16GSGr) volwassenes wat dalk nie noodwendig die skrik op die lyf gejaag wil word nie, maar outydse, stylvolle spookstories geniet wat in ’n onheilspellende herehuis afspeel. Om kykers te laat ril en met magiese beelde te betower, is die Mexikaanse regisseur Guillermo del Toro (Pan’s Labyrinth, Pacific Rim) se spesialiteit en volgens die kritici stel sy nuutste nie teleur nie.

Dis 1901 en Edith (Mia Wasikowska van Alice in Wonderland) is ’n jong Amerikaanse vrou wat daarvan droom om romanskrywer te word. Die sjarmante Britse adellike sir Thomas Sharpe (Tom Hiddleston van Thor) slaan haar voete onder haar uit en ná hul troue trek hulle na sy familie se vervalle landgoed op die Engelse Moors. Daar wag sy kil suster (Jessica Chastain van The Help), ’n paar spoke en baie donker geheime. Die meeste kritici dink die fliek is goed. Die webtuiste Metacritic, wat soos Rotten Tomatoes werk, gee dit 66 uit 100. By laasgenoemde kry dit 69 persent en die konsensus is: “Crimson Peak bied aangrypende dog effens geringe afleiding wat aangedryf word deur ’n heerlike grillerige atmosfeer en Guillermo se briljante aanvoeling vir onvergeetlike beelde.” Die Britse fliektydskrif Empire se Dan Jolin gee dit vier sterre en beskryf dit as “meestal ’n bloederige, uitspattige en visueel weelderige sukses. Guillermo wend geen poging aan om die genre te herdefinieer of selfs slim nuwe kinkels by te voeg nie. Dis ’n Victoriaans-Gotiese nabootsing deur ’n regisseur wat sy storie ken, en solank jy nie verwag om deur die intrige verras te word of om intense gruweloomblikke te beleef nie, is daar baie om te geniet. Mia en Tom speel karakters so reg in hul kraal, terwyl Jessica ’n nuwe sy toon.”

As jy lus het vir iets meer realisties maar steeds weersinswekkend, is daar Legend (16TG), wat handel oor die berugte rampokkers die Kray-tweeling (Tom Hardy van Mad Max: Fury Road) wat in die 1960’s in Londen verwoesting gesaai het. Die kritici dink die fliek is heel skaflik. Dit kry 62 persent by Rotten Tomatoes, wat bevind: “As ’n biofliek oor rampokkers het Legend diepgaande tekortkominge, maar as ’n platform vir Tom Hardy om sy vermoëns ten toon te stel doen dit net-net gestand aan die titel.” Maar die Britse fliektydskrif Total Film se Jamie Graham ken vier sterre daaraan toe en is vol lof vir Tom se vertolking van die tweeling en die film se spesiale effekte wat jou heeltemal oortuig dat dit twee individue in een toneel is en nie een akteur wat twee rolle vertolk het nie. Tom se teenwoordigheid oorweldig die ander akteurs in so ’n mate dat hul karakter tweedimensioneel bly.

In die riller Knock Knock (16GTSN en SG: seksuele geweld) speel Keanu Reeves (The Matrix) ’n gelukkig getroude pa, Evan Webber, wat daarna uitsien om die naweek alleen in sy afgesonderde paleis van ’n huis deur te bring nadat sy vrou en kinders see toe is. Hy het pas vir hom ’n glas wyn geskink en sy gunstelingalbum opgesit terwyl ’n woeste storm buite woed, toe iemand aan die deur klop.

Twee mooi jong vroue (Lorenza Izzo en Ana de Armas) staan voor hom deurdrenk van die reën en sê hulle het ’n partytjie gesoek, maar kon nie die adres kry nie. Evan nooi hulle binne, bied aan om ’n taxi te ontbied en verskaf handdoeke sodat hulle kan afdroog. Maar aangesien die gruwelregisseur Eli Roth (Hostel, Cabin Fever) aan die stuur van sake is, weet die kyker dat hierdie situasie op niks goeds gaan uitloop nie. Die meeste resensente dink die fliek is swak. Metacritic gee dit darem 53 uit 100, maar by Rotten Tomatoes kry dit net 33 persent. Hulle bevind: “Daar is baie talentvolle mense betrokke by hierdie satiriese benadering tot ’n gruwelprent, maar dis nie genoeg om die herhalende storie en onbesonne tong-in-die-kies-stemming doeltreffend te oorkom nie.” Chris Nashawaty van die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly gee dit ’n C. “Knock Knock is ’n onbeduidende erotiese riller, maar danksy Reeves se stokkerige spel bevat dit tog ’n paar humoristiese oomblikke. Roth voer die wellustige vertrekpunt tot belaglike uiterstes, wat lei tot ’n onbevredigende klimaks.”

Sandra Visser