Verlede week is The Peanuts Movie uitgereik, en nou begin nog ’n oulike fliek vir die hele gesin wat ouers nostalgies sal laat voel. The Little Prince (O) is gegrond op die geliefde gelyknamige novelle deur die Fransman Antoine de Saint-Exupéry en handel oor ’n vlieënier wat in die woestyn neerstort. Daar ontmoet hy ’n vreemde seuntjie wat hom sy lewensverhaal vertel.

Die meeste kritici dink die fliek is uitstekend. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, het nog nie konsensus bereik nie, maar tot dusver gee hulle dit 95 persent gegrond op 21 resensies.

Andrew Pulver van The Guardian gee dit drie sterre. “Mark Osborne, mederegisseur van Kung Fu Panda (2008), het dié verwerking behartig en reeds in die eerste paar minute is dit duidelik dat die storie aangepas is om by Anglo-Amerikaanse gehore byval te vind. Dit is nie ’n direkte verwerking nie; die storie word bygevoeg in ’n meer konvensionele een: ’n Disney-agtige bemagtigingstorie oor ’n negejarige dogtertjie (Mackenzie Foy se stem) wat leer om haar ware self te wees en wie se verbeelding aangewakker word deur haar eksentrieke buurman (Jeff Bridges) wat sy antieke tweedekkervliegtuig weer wil laat opstyg. Osborne se besluit om die hede in rekenaaranimasie te doen en die verlede met stop-animasie uit te beeld is baie effektief, maar deur die twee verhale te probeer verweef, pak hy amper te veel aan. Die storie word te ingewikkeld en die fliek hou te lank aan. Maar dis ’n dapper en visueel treffende poging.”

As jy lus is vir iets meer volwasse, kan jy The Gift (13T) probeer. Hierdie riller is die Australiese akteur Joel Edgerton (Exodus: Gods and Kings) se eerste poging as regisseur en hy vertolk ook die rol van Gordo, ’n ou hoërskoolvriend wat onverwags by die welgestelde Simon (Jason Bateman van Horrible Bosses) en sy vrou, Robyn (Rebecca Hall van Iron Man 3), opdaag met ’n daknatmaakgeskenk. Hulle nooi hom in, maar kom geleidelik agter Gordo het duistere motiewe.

Die kritici dink die fliek is voortreflik. Die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde wyse as Rotten Tomatoes werk, gee dit 77 uit 100 en by laasgenoemde kry dit 93 persent. Hulle bevind: “The Gift is skerp en speels aweregs. Dit daag die gehoor se verwagtinge uit terwyl dit hulle op die punt van hul stoele laat.” Die Britse fliektydskrif Empire se Kim Newman gee dit vier sterre. “Hierdie interessant gedempte spanningsfliek gaan in onverwagte rigtings. Dit lewer ’n paar uitstekende skokke, maar die storie is ingewikkelder as die gewone huisinbraakbesigheid en die drie hoofakteurs se spel is uitstekend.”

Hierdie interessant gedempte spanningsfliek gaan in onverwagte rigtings.

As jy op die uitkyk is vir Kersfeesflieks, is daar twee opsies vandeesweek. The Night Before (16TND) handel oor drie vriende: Ethan (Joseph Gordon-Levitt van Inception), Isaac (Seth Rogen van Knocked up) en Chris (Anthony Mackie van Captain America: The Winter Soldier), wat elke Oukersaand saam deurbring. Ethan se meisie het hom pas gelos en hy het opbeuring nodig, maar Isaac en Chris se lewens het so besig geraak dat die tradisie nou vir hulle meer soos werk geword het. Hulle besluit om vir oulaas bymekaar te kom.

Die resensente dink die rolprent is goed. Rotten Tomatoes gee dit 66 persent en die konsensus is: “The Night Before bevat genoeg lekkerlagoomblikke om te kwalifiseer as ’n verdienstelike toevoeging tot die lys Kersflieks wat ’n mens weer kan kyk, al is dit nie deurgaans op so ’n hoë standaard dat dit as ’n klassieke prent kan kwalifiseer nie.”

Die Britse filmtydskrif Total Film se Kevin McIntyre gee dit vier sterre. “Kom ons wees eerlik: Kersfees is eintlik maar goor. Jou bankrekening is leeg, jy word gedwing om tyd saam met halfvergete familielede deur te bring en die kantoorpartytjies is altyd so ongemaklik. Nog erger is die stroperige flieks oor Kersfees, en dis hoekom The Night Before so verfrissend is. Ja, dit eindig op ’n feestelike noot, maar voor dan word ons drie helde deur ’n reeks maltrap-beproewings gesit en die ware gees van Kersfees word om elke hoek en draai uitgedaag. Dis snaaks, sinies en hartlik op die regte manier. Dié is dalk eindelik die Kersfliek vir mense wat Kersflieks haat.”

Love the Coopers (7-9OT) is ’n meer tradisionele Kersfilm en fokus op ’n familie met wie se lede dit almal beroerd gaan. Pa Sam en ma Charlotte (John Goodman van Roseanne en Diane Keaton van Annie Hall) staan op skei, maar wil vir oulaas Kersfees saam met die hele familie vier. Charlotte se hardekwas suster (Marisa Tomei van What Women Want) is besig om in ’n winkeldief te ontaard. Hul dogter, Eleanor (Olivia Wilde van Tron: Legacy), se hart is onlangs deur haar verloofde gebreek en seun, Hank (Ed Helms van The Hangover), het sy werk verloor. Sal die tyd saam hulle enigsins opbeur?

Die meeste kritici dink die film is maar vrot. Metacritic gee dit 31 uit 100, maar by Rotten Tomatoes kry dit slegs 18 persent. Hulle bevind: “Love the Coopers het ’n talentvolle rolverdeling en van die fliek se beter oomblikke bevat ’n unieke bittersoet gevoel, maar dit word in die steek gelaat deur ’n soetsappige draaiboek.”

Geoffrey Macnab van die Independent gee dit twee sterre. “Die grootste teleurstelling in hierdie stroperige, banale familiedrama is die vermorsing van die uitstekende rolverdeling.”

Sandra Visser