Die veteraan-regisseur en akteur Clint Eastwood is aan die stuur van American Sniper (16TG), ’n biografiese oorlogsdrama wat handel oor Chris Kyle (Bradley Cooper), die dodelikste skerpskutter in die Amerikaanse geskiedenis. Die fliek bekyk sy opleiding, sy verhouding met sy vrou, Taya (Sienna Miller van Casanova), sy tyd in Irak en hoe hy met sy terugkeer huis toe swaar aanpas. Die fliek is benoem vir ses Oscars, insluitend beste rolprent en beste akteur, vir Bradley.

Die meeste resensente dink dis ’n baie goeie fliek. Die webtuiste Rotten Tomatoes wat die punte wat kritici aan flieks toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 73 persent en bevind: “American Sniper put krag uit Clint se selfversekerde regie en ’n aangrypende vertolking deur Bradley. Die film is ’n spannende, lewendige huldeblyk aan ’n regte persoon.”

Die Britse fliektydskrif Empire se Ian Nathan gee dit vier sterre. “Bemarkers sal dit seker The Hurt Locker (2008) vir skerpskutters doop, maar die gepaste kombinasie van Clint en Bradley skep ’n opwindende Irakse oorlogsverhaal wat dit regkry om sowel die noodsaaklikheid van heldhaftigheid te vereer as om te besin oor watter prys ’n man vir heldhaftigheid betaal.”

Nog ’n Oscar-benoemde fliek wat manlikheid bekyk, is Whiplash (16T), ’n musiekdrama oor ’n jong tromspeler, Andrew (Miles Teller van Divergent), wat aan ’n uiters mededingende musiekskool inskryf. Sy mentor is die gerespekteerde maar genadelose prof. Fletcher (J.K. Simmons van Juno) wat sy studente meedoënloos beitel tot hulle hul volle potensiaal bereik. Sal Andrew die druk kan hanteer ten koste van alles anders is sy lewe of sal die stryd met die ouer man die oorhand kry en hom finaal knak? Whiplash is vir vyf Oscars benoem, onder meer beste prent en beste byspeler, vir Simmons.

Die meeste resensente is mal oor die fliek. Dit kry 88 uit 100 by die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk, en laasgenoemde gee dit 95 persent. Hulle beskryf dit as “intens, inspirerend en propvol uitstekende toneelspel. Whiplash is ’n briljante tweede poging van regisseur Damien Chazelle en ’n boeiende werk waarin sterre J.K. Simmons en Miles Teller kan skitter.”

Die gesiene Britse resensent Mark Kermode gee dit vier sterre. “Chazelle se moontlik uitsonderlikste prestasie is om ’n geïmproviseerde tromsolo te omskep in ’n spanningsvolle en aangrypende dramatiese toneel wat die hart behoorlik laat klop,” skryf hy. “Ten spyte van heelwat oorryp ongeloofwaardighede sal jy die teater verlaat met ’n huppel in jou stap en ’n ritme in jou bors, gretig om trom te slaan vir ’n fliek wat verdien om een van die jaar se groot treffers te wees.”

Daar is bespiegel dat die hoofaktrises in die volgende twee flieks ook Oscar-benoemings sou kry. Hoewel dit toe nie gebeur het nie, het hulle darem op ander prysaande die aandag getrek. Jennifer Aniston (van die TV-reeks Friends) skud haar beeld as ’n vrolike komediant af met die hoofrol in Cake (16 DTG). Dit handel oor Claire Bennett (Aniston) wat chroniese pyn ervaar en aan pille verslaaf is. Toe ’n vrou, Nina (Anna Kendrick van Pitch Perfect), wat in Claire se ondersteuningsgroep is, haar lewe neem, word Claire ál meer behep met Nina, en bevriend ook haar man (Sam Worthington van Clash of the Titans).

Verreweg die meeste resensente dink die fliek is oukei. Rotten Tomatoes gee dit 48 persent en die konsensus is: “In Cake maak Jennifer die beste van ’n langverwagte geleentheid om ’n dramatiese rol te vertolk, maar die fliek bevat nie die nodige diepte of warmte om dit vir enigeen behalwe haar grootse aanhangers aan te beveel nie.”

Empire se Ian Freer gee dit drie sterre. “Jennifer verhef hierdie verslawingsdrama met ’n toegewyde maar nooit windmakerige vertolking. Dis net jammer die res van die fliek sny nie ook so diep nie,” skryf hy. “Ten spyte van ’n sterk rolverdeling, onder meer Sam, Anna, William H. Macy en Felicity Huffman, herinner Claire se verhaal af en toe te veel aan ’n steriele TV-fliek, pleks van iets opregs en egs.”

Soos Jennifer is daar gegis dat Amy Adams (Man of Steel) ook ’n Oscar-benoeming sou kry vir Big Eyes (10-12ODTG). Sy het nie, maar is wel ’n Golden Globe gegee vir haar spel in dié biografiese drama oor Margaret Keane, ’n Amerikaanse kunstenaar wat in die 50’s groot sukses behaal het te danke aan haar sentimentele skilderye van kinders met uitermate groot oë. Haar dominerende man, Walter (Christoph Waltz van Inglourious Basterds), het egter gemaak asof dit sy werk is wat later tot ’n uitgerekte hofgeding gelei het.

Die meeste resensente dink die fliek is goed. Dit kry 62 uit 100 by Metacritic en 69 persent by Rotten Tomatoes, wat bevind: “Big Eyes bevat goeie toneelspel en bied stof tot nadenke. Dis ook iets verfrissends anders van regisseur Tim Burton (Edward Scissorhands). Die fliek werk sowel as ’n biografiese drama dan as relevante maatskaplike kommentaar oor die hedendaagse samelewing.”

Die Britse fliektydskrif Total Film se James Mottram gee dit drie sterre. “Adams is uitstekend, soos altyd, maar die probleem lê by Waltz,” skryf hy. “Hy’s meer karikatuur as karakter en Burton sukkel om Christoph se energie so goed te benut soos die regisseur Quentin Tarantino in Inglorious Basterds (2009) en Django Unchained (2012). Dis verfrissend dat Burton ’n meer intieme projek aanpak, maar Big Eyes kom nie heeltemal die mas op nie. Dis nooit so amusant, dramaties of emosioneel soos dit kon gewees het nie.”

As jy nog nie ná Fifty Shades of Grey genoeg van ’n gedans tussen die lakens gehad het nie kan jy Addicted (18TNS) probeer. Dis gegrond op die gelyknamige hygroman deur Zane en handel oor ’n suksesvolle sakevrou (Sharon Leal van Why Did I Get Married?) wat haar loopbaan en huwelik op die spel plaas toe sy ’n affair met ’n skilder (William Levy van The Single Moms Club) begin.

Rotten Tomatoes het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om konsensus te bereik nie, maar sover kry die fliek ’n skamele ag persent.

Sheila O’Malley van rogerebert.com gee dit een en ’n half ster. “Addicted is veronderstel om erotika te wees; daarom is dit dalk onregverdig om te veel oor die fliek na te dink, maar dis so oneweredig (die film is sowel stomend as prekerig) en ook heeltemal te lank, dat om daaroor na te dink onvermydelik word. Die deurmekaar draaiboek wat nie weet wat dit wil wees nie, help ook nie.”

Sandra Visser